‘Bloulig-skandaalsaak gaan voort’, sê hof

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Palm Ridge- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof het Vrydag die aansoek van die beskuldigdes om die omstrede blouligskandaal van die hofrol te laat skrap, van die hand gewys. Die skandaal hou verband met die toekenning van ʼn bedrieglike multimiljoenrand-tender vir waarskuwingstoerusting vir die polisie.

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is argumente oor waarom die saak van die hofrol geskrap moet word op 17 Februarie, 11 Maart en 16 Maart aangehoor. Die landdros het Vrydag sy besluit om dié versoek teen te staan, bekendgemaak.

Die saak is al verskeie kere uitgestel.

Altesaam 13 beskuldigdes staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.

Die ander beskuldigdes sluit in Deliwe de Lange, adjunkpolisiehoof in Gauteng, brig.genl. Nombhuruza Lettie Napo, lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena (afgetrede polisielid), brig. James Ramanjalum, kol. Thomas Dumas Marima, sers. Maetapese Joseph Mulaiwa (ook sakeman), Vimpie Manthatha, direkteur van die maatskappy Instrumentation for Traffic Law Enforcement, en Judy Rose en Samantha Andrews, albei burgerlikes.

Maroela Media het vroeër berig hulle word daarvan beskuldig dat hulle saamgewerk het om seker te maak ʼn kontrak word toegeken aan ʼn maatskappy wat aan Manthatha behoort. Volgens die kontrak sou 1 550 polisievoertuie teen opgedrewe pryse met waarskuwingsligte toegerus word.

Tydens die aanskaffingsproses het die beskuldigdes glo die mededingende aanbiedingsproses geminag en die SAPD sou R191 miljoen ten gunste van Manthatha se maatskappy moes oorbetaal in ruil vir voordele.

Die saak is tot 2 Augustus uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.