‘Blouligboelies’ vandag in hof

Skermgreep uit die video op Twitter.

Die agt lede van die polisie se BBP-beskermingsdienste-eenheid wat daarvan beskuldig word dat hulle weke gelede drie lede van die weermag op die N1-snelweg in Johannesburg aangerand het, sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Dié geskorste beamptes sal in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en die afvuur van ’n vuurwapen.

Die agt het Sondag hulself aan die polisie by die Sandton-polisiestasie oorhandig waarna hulle in hegtenis geneem is.

Die inhegtenisneming volg na die DA ’n klag by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ingedien het wat tot die ondersoek teen die polisiebeamptes gelei het.

“Die DA verwelkom die beamptes se inhegtenisneming. Die blouligboelies moet soos alle ander gewelddadige misdadigers behandel word ná hierdie gewelddadige aanval wat nie uitgelok is nie. Die strafregstelsel moet sy pligte sonder vrees uitvoer,” sê Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie.

“Ons sal die saak noukeurig monitor aangesien dit die belangrikheid beklemtoon om diegene in magsposisies vir hul optrede aanspreeklik te hou. Die veiligheid en welstand van ons burgers moet nooit in die gedrang gebring word nie, en ons vertrou dat die regsproses sal verseker dat geregtigheid vir die slagoffers en hul gesinne seëvier.

“As ’n samelewing moet ons alle misbruik van mag veroordeel.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn storm het begin Julie losgebars nadat ʼn video van die beweerde aanranding deur die polisielede – almal lede van adjunkpres. Paul Mashatile se presidensiële beskermingseenheid – op sosiale media die lig gesien het.

Daar kan in die video van die voorval gesien word hoe beamptes van die polisie se BBP-beskermingsdienste drie insittendes uit ʼn Volkswagen Polo langs die snelweg pluk voordat dié mans herhaaldelik geskop word. Die polisiebeamptes spring dan terug in hul BMW’s en jaag weg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Sê maar net ·

Presies dieselfde gedink. Voorkeurbehandeling. Maak my siek…..

Hannes ·

Paul Mashatile moet ook onder vergrootglas geplaas word, as hy teenwoordig was, is hy ook skuldig.

Vrystaat2109 ·

Presies my vraag ook, nerens hoor jy of i die adjunk in een van die voertuie was nie, indien hy wel daar was hoekom het hy dit toegelaat? Indien hy nie daar was nie wat het hierdie klomp boelies dan daar gedoen met hierdie VIP voertuie? En hoekom dan hierdie brutale optrede?

hpven ·

Solank die belastingbetalers vir alles betaal sal hierdie soort van dinge nooit stop nie. Ek sou graag wou sien dat siviele eise teen hierdie mense in hul persoonlike hoedanigheid ingestel word.

Stofdonkie ·

Ek dink jy verstaan die betekenis van ontslag verkeerd. Die probleem is dat hulle nie ontslaan word nie maar more net weer terug is aan diens

domheks ·

Goeie toets vir die NGV! Sal nou mooi sien of daar twee stelle reels is.

Althes ·

Die DA kan net sowel die land regeer, want dis die hoeveelste keer wat hul of Soladariteit of Afriforum klagtes moet lê wat die ANC versuim om te doen

Nettie ·

Aanranding?
Ek wonder wat is die geregtelike verskil tussen “aanranding” en “poging tot moord”.
Die een persoon was bewusteloos nagelaat met GEEN poging om vir hom mediese hulp te bekom deur enige van die in die polisie voertuie nie.

Oosieoos ·

Hulle moet hul vuurwapen lisensies verloor volgens wet maar nouja mos staat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.