Blouligskandaal: Polisiehoë verskyn in die hof

Lt.genl. Bonang Mgwenya in die hof (Foto verskaf)

Lt.genl. Bonang Mgwenya, adjunk-kommissaris vir menslikehulpbronnebestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn in verband met haar beweerde betrokkenheid by die toekenning van ʼn bedrieglike multimiljoen rand tender vir waarskuwingstoerusting vir die polisie.

Mgwenya is vrygelaat op borgtog van R20 000.

Sy is die 13de beskuldigde in die saak, insluitend verskeie ander voormalige senior SAPD-beamptes en ʼn maatskappy, Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Edms) Bpk, wat deur sy alleendirekteur, Vimpie Manthatha, verteenwoordig word.

Die persone word daarvan beskuldig dat hulle saamgewerk het om seker te maak ʼn kontrak word toegeken aan ʼn maatskappy wat aan Manthatha behoort. Volgens die kontrak sou 1 550 polisievoertuie teen opgedrewe pryse met waarskuwingsligte toegerus word.

Tydens die aanskaffingsproses het die beskuldigdes glo die mededingende aanbiedingsproses geminag en die SAPD sou R191 miljoen ten gunste van Manthatha se maatskappy moes oorbetaal in ruil vir voordele.

“Die kraantjie is toegedraai ná R65 miljoen aan die diensverskaffer, Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Edms) Bpk, oorbetaal is,” het Sindisiwe Twala, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), gesê. “Betaling van ʼn verdere R22 miljoen is gestop as ʼn direkte gevolg van Opod-ondersoekbeamptes wat saam met die Valke en die polisie gewerk het onder leierskap van Opod.”

Mgwenya staan tereg op aanklag van korrupsie, bedrog en geldwassery vir haar rol om seker te maak dat die kontrak in 2017 toegeken word aan Instrumentation for Traffic Law Enforcement. “Sy was in ʼn nabye verhouding met die maatskappy se eienaar, Manthatha, maar het dit nie bekendgemaak nie,’ het Twala bygevoeg.

Manthatha het Mgwenya onder andere bygestaan om ʼn BMW X5 aan te koop by Zambesi Auto Motors deur R440 000 namens haar te betaal. Hy het ook afslag van R284 580 namens haar onderhandel. “Dit het Mgwenya in die posisie geplaas om aansoek te doen vir ʼn lening van R255 990 om die aankope van die BMW X5 te finansier. Mgwenya het versuim om dié voordele aan haar werkgewer bekend te maak.”

Jennifer Ntlatseng, uitvoerende direkteur van Opod, het gesê die organisasie bly verbind tot sy grondwetlike mandaat om enige beweerde polisiewangedrag te ondersoek. “Ons ervare beamptes het weereens goeie werk gedoen.”

Adv. Hermione Cronje, hoof van Opod, het bygevoeg die organisasie doen moeite om seker te maak wetstoepassingsagentskappe word skoongemaak sodat Suid-Afrikaners gerus kan wees dat diegene wat die land moet beskerm en dien, dit wel doen en nie self die wet oortree nie.

Die hofsaak van die beskuldigdes is vir 16 November tot 10 Desember 2020 geskeduleer.

Van die polisiehoës wat reeds in verband met die saak vasgetrek is, sluit in die voormalige nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, die voormalige polisiekommissaris van Gauteng, Deliwe de Lange, ʼn adjunk-polisiehoof in Gauteng, brig.genl. Nombhuruza Lettie Napo, lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena (ʼn afgetrede polisielid), brig. James Ramanjalum, genl.maj. Ravichandran Pillay en kol. Thomas Dumas Marima asook sers. Maetapese Joseph Mulaiwa.

Burgerlikes wat in verband met die saak vasgetrek is, sluit in Judy Rose, Samantha Andrews en Vimpie Manthatha, direkteur van Instrumentation for Traffic Law Enforcement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Persheks Adri ·

R20 000 borg? Dit regverdig mos nie die korrupsie bedrag nie mmmmmm…

Eiervrug ·

Ek dink daar is ‘n hele paar staatsamptenare wat lanklaas lekker geslaap het. Opod en die Valke is vir hulle soos ‘n omgekrapde magie wat enige oomblik kan strike…

Tjom ·

Polisie range werk hulle hele lewe lank en net voor aftrede, na sekerlik 45jr diens en n sak vol value adding sake, is jy gelukkig om naby n kolonel af te tree. En die ene is n Lt Genl? Genade.

Johannes ·

Naby aan ‘n Kol? Heel waarskynlik nader aan ‘n A/O of Kapt teen die helfde van ‘n Kol salaris.

Jakobus ·

Hulle is veronderstel om n voorbeeld vir hulle onder geskiktes te wees. Wat n skande.

Niklaas ·

Gaan hul die nodige straf ontvang? Ek twyfel so ‘n bietjie.

dr. Petronella ·

Dan glo sekere mense soos Agri SA hul samesprekings vir landelike veiligheid was n sukses. My genade is daar nog steeds van ons mense wat die polisie glo?

Cecilia ·

R20k borgtog vs R65m reeds ontvang.
Hoe maak d hof so n sommetjie?
Sy is sekerlik ook op betaalde verlof? Definitief is haar salaris 5x meer as R20k pm. Sy moes borgtog v R20m betaal het.
Wat gaan sy en haar mede beskuldiges oorkom? NIKS! Sy sal seer sekerlik d volgende Minister word!
Nee ou Cele jou onderdane is korrup met ellelange kriminele rekords!

Veronika ·

Nou vra ek die vraag af, as dit ons groot of hoë koppe in die polisie wat hierdie korrupsie pleeg…… watter genade is daar vir ons ou liewe landjie……..is hoekom dit gaan soos dit wil…..

Genis ·

Kry n Kader Generaal nie n pakkie vol nie… Hulle is nie dienaars van die staat nie, eerder stelers van die staat… Cyril your people man? What now?

Piet ·

Dit is hoekom die land so wetteloos is. Die wetstoepassers is almal die leiers in die kookpot van kriminaliteit, en die President bly heeltemal stil. Ek wonder hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.