Bly weg van Browns Farm, maan polisie

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Die polisie in Nyanga in die Wes-Kaap waarsku e-taxibestuurders en aanlyn handelaars om eerder van Browns Farm in Philippi weg te bly aangesien rooftogte toenemend in hierdie gebied voorkom. 

Die polisie sê verskeie voorvalle is al aangemeld waar veral gebruikers van die Facebook-koop-en-verkoopplatform Market Place en e-taxibestuurders deur boosdoeners beroof en aangerand word.

Dié boosdoeners lok hul slagoffers onder valse voorwendsels na die gebied waar hulle dan oorval word.

Maroela Media het vroeër berig dat Ben Tuzee (51), ʼn restauranteienaar, in September verlede jaar in Browns Farm vermoor is toe hy en sy susterskind op pad was om ʼn televisiestel te verkoop wat hulle op sosiale media geadverteer het.

Jacques Bruwer en sy seun, ook Jacques, is twee weke voor Tuzee op dieselfde plek aangeval, aangerand en beroof toe hulle braaidromme in die gebied wou aflewer wat hulle ook op sosiale media geadverteer het. So ook het Ruve Wepener ʼn slagoffer van rowers in Browns Farm geword toe sy daarheen gereis het om haar seun se kitaar aan ʼn moontlike Facebook Market Place-koper te verkoop.

Volgens die polisie is verskeie verdagtes verlede jaar in verband met hierdie voorvalle in hegtenis geneem, insluitend ses tieners tussen die ouderdomme van 15 en 17 jaar oud.

“Selfone waarop die polisie beslag gelê het tydens hul ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagtes met verskeie potensiële slagoffers gesels het,” het brig. Lindiwe Dyantyi, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die meerderheid van die roofslagoffers het aan die polisie bevestig dat hulle glad nie die gebied ken nie. Sommige van die slagoffers was selfs onder die indruk dat die gebied ʼn plaas en nie ʼn township is nie.”

Dyantyi sê hoewel daar ʼn effense afname in gevalle was ná die inhegtenisnemings in September en Oktober verlede jaar,  het die voorvalle nou weer skerp toegeneem.

“Dit is op grond hiervan dat ons beide e-taxibestuurders en aanlyn verkopers en -kopers waarsku om liefs nie na Browns Farm te reis nie.”

“Die Nyanga-polisie werk saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwaglede om die geïdentifiseerde brandpunte te patrolleer en het meer mannekrag in hierdie gebiede ontplooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.