Boer glo met asbak, biltongsnyer aangerand

(Argieffoto)

’n 65-jarige boer is Dinsdag tydens ʼn plaasaanval in die Steytlerville-distrik in die Oos-Kaap met ’n asbak en biltongsnyer aangerand nadat hy geweier het om sy vuurwapen aan ’n plaasaanvaller te oorhandig.

Die vermeende aanvaller (50) is ʼn dag later in hegtenis geneem danksy inwoners wat hom met ʼn bebloede denimbroek langs die pad gewaar het.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, was die boer Sondag alleen tuis op die plaas Vaalheuwel toe hy omstreeks 20:30 gehoor het dat die honde buite blaf. Hy het egter nie uitgegaan nie en in die huis gebly.

“Terwyl hy [die boer] in die sitkamer gesit het, het ’n onbekende man die huis deur die agterdeur binnegekom,” sê Naidu.

“Die man het die boer gevra om hom met diesel te help. Hy het beweer dat sy motor sowat 5 km van die plaas sonder brandstof gaan staan het. Die boer het ingestem om die verdagte te help en twee liter diesel uit die motorhuis geneem en saam met die verdagte gery na die plek waar die motor na bewering gaan staan het.”

Daar was egter geen voertuig nie.

“Die boer en die verdagte is terug na die plaashuis waar die verdagte die boer gevra het om hom dorp toe te neem. Die boer het ingestem om die verdagte te help, waarna hy [die verdagte] toe vir ʼn vuurwapen gevra het. Hy het beweer dat hy bang was dat hy in die nedersetting aangeval sou word.”

Toe die boer weier om sy vuurwapen te oorhandig, het die verdagte kwaad geword en die boer glo met ’n asbak en biltongsnyer aangerand.

“Die boer het uiteindelik geswig en ʼn 9 mm-pistool aan die verdagte oorhandig.”

Die boer se hande en voete is vasgebind en sy hemp is in sy mond gedruk. Hy is in ʼn kamer in die huis ingesleep.

Die verdagte het in die boer se voertuig van die plaas gevlug. Die polisie het dit by die ingang van die plaas aangetref.

“Die boer kon die polisie en ’n familielid om hulp bel. Hy het verskeie snye en kneusplekke opgedoen en is op die toneel behandel.”

Sy vuurwapen en kontant is gebuit.

Inwoners van Steytlerville het Woensdag omstreeks 12:30 ’n man gewaar wat sonder ʼn hemp op die hoofpad stap en het hom voorgekeer. Sy denimbroek was glo vol bloed.

“’n Foto van die man is aan die boer gestuur en hy het die man herken asook die belt wat hy gedra het wat aan hom [die boer] behoort. Die polisie is in kennis gestel en die man is in hegtenis geneem.”

Die man sal na verwagting Donderdag in die Steytlerville-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die polisie soek steeds na die vuurwapen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JohanEtz ·

Ek is byna 65, behoede my dat ek meer weerbaar en bedag sal wees…..

Hendrik Marthinus ·

Die man Kom on wettiglik in die boer se huis in, Nogal by agter deur.
Boer het n wapen maar doen niks.
Boer stem in om man te help met diesel, Reeds nadat die man wat hy nie Ken nie, sommer so by sy huis se agter deur ingeglip het.
Boer sien geen kar wat gaan staan het sonder petrol, terug Plaas toe en boer Wil hom steeds help terug dorp toe.
Nee my oom Plaasboer jy vra vir moeilikheid, Dat jy Nog leef is genade
Trek maar dorp toe want jy is n te maklike teiken

Rooikopheks ·

Ek kan nie dink enigiemand kan so hulpvaardig wees nie, in ons land, op ń plaas??? Ons woon nie in Blommeland nie.

Estelle ·

Jammer om te se, maar hierdie boer was heeltemal te behulpsaam … hy moes al klaar onraad vermoed het toe die man in sy huis was.

Marcello ·

Ek verstaan nie hoe het die agterdeur dan oopgestaan.????

ES ·

Ek voel baie jammer vir die oom. Jy moet of baie goeie vertroue in jou medemens he, of jy moet nie meer heeltemal by jou sinne wees om iemand toe te laat om jou eerstens rond te neek en dan tweedens jou te vra vir ‘n vuurwapen en jou dan aan te val nie.

Die situasie was van so aard dat die oom sy vuurwapen kon gebruik om homself teen sy aanvaller te beskerm, maar hy het nie…

Catherina ·

Dis so jammer dat jy jou medemens nie meer kan help nie. Jammer vir die boer. Spoedige herstel

Harley Davidson ·

Dan gaan ek maar net sê die boer was regtig stupid en moet onbevoeg verklaar word om n vuurwapen te besit.

Stephen ·

Nee wat Oom. Jy moet wakker loop. Wanneer wil julle leer. Jy oorhandig nooit jou vuurwapen nie

bolletjie blom ·

Ag my jinne my oom. As ‘n vreemde persoon sommer net so by jou huis instap is die besoek nie vriendskaplik nie. En hoekom was die deur in hierdie gevaarlike tye nie gesluit nie. Boere moet deesdae in Fort Knox bly om hulle sef te beveilig.

Papsak ·

Hopeloos te arogant as jy my vra en as jy nie wil gee nie dan word jy aan gerand of dood gemaak

Niklaas ·

Goedgelowigheid teenoor vreemdeling wat instap in jou huis ? Ongenooid .En sy voertuig is skielik nie meer langs die pad. Nogal op ‘n plaas waar elke boer deedae ‘n teiken is. Lees die boer dan geen koerante nie ?

christo ·

Die Karoo inwoners is bekend vir hulle behulpsaamheid en gasvryheid. Mense wat uit die pad sal gaan om jou te help. Ongelukkig het die boer ook soos menige ander mense geleer dat daar altyd skelms met ander motiewe is. Jou naaste is nie altyd jou naaste nie.

Toffie ·

Die honde is meer waaksaam as die boer. Goedgelowigheid het ook sy perke.

AH ·

Ek kan nie glo dat mense nog so goedgelowig kan wees nie! Veral met iemand wat by jou deur I stap sonder om te klop! Jy is gelukkig dat jy oorleef het! Dit kon baie skeef geloop het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.