Boer ‘stabiel’ ná Kirkwood-aanval

Johannes de Lange (Foto: Johannes de Lange, Facebook)

Die boer wat Woensdag ernstig beseer is tydens ’n aanval op ’n plaas in die Kirkwood-omgewing in die Oos-Kaap, sterk aan in die hospitaal nadat hy ’n noodoperasie moes ondergaan. Daar is nog geen spoor van die oorblywende verdagtes wat daarin geslaag het om te vlug nie.

Johannes de Lange is tans in die intensiewesorgeenheid van die Netcare Cuyler-hospitaal in Uitenhage. Hy is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem en moes ’n noodoperasie weens ernstige steekwonde ondergaan. Hy het reeds die middag ná die aanval uit die teater gekom en is in ’n stabiele toestand.

De Lange se seun, wie se naam nog nie bekend is nie, is ook tydens die aanval beseer.

Maroela Media het voeër berig minstens vyf mans het omstreeks 02:30 die plaas Steenbokvlakte digby Kirkwood betree. Die verdagtes was met ʼn vuurwapen en messe gewapen. Hulle het De Lange en sy gesin oorval.

ʼn Struweling het tussen De Lange en die aanvallers uitgebreek. Een van die verdagtes is in die proses doodgeskiet en een is gewond. Die res van die aanvallers het in ʼn silwerkleurige Toyota Avanza gevlug. Dit is nie bekend wat in die aanval geroof is nie.

Lede van die Kirkwood-gemeenskap en die polisie is na die aanval ontbied en het gehelp soek na die verdagtes. Drie van die verdagtes is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Die polisie het ook die Avanza op die R75-pad naby Uitenhage opgespoor en daarop beslag gelê. Die aangekeerde verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshof op Kirkwood verskyn.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het intussen bevestig die Avanza-motor is nie in die naam van enige van die verdagtes geregistreer nie. Die motor is ook nie as gesteel aangemeld nie. Die polisie probeer die eienaar van die motor opspoor.

“Daar word nog na die ander verdagtes gesoek,” bevestig Soci.

Karen Smith, DA-koukusleier van die Sondagsrivier-munisipaliteit, sê dit is al die soveelste plaasaanval wat binne die afgelope paar maande in die Kirkwood- en aangrensende Addo-omgewing aangemeld is. Sy het beklemtoon dat dringende ingryping in dié gebiede nodig is.

“Die mees onlangse aanval is net weereens ’n bewys dat geweldsmisdaad in landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap aan’t toeneem is. Dit beklemtoon die dringende behoefte dat die polisie hul planne moet opskerp om landelike gemeenskappe te beveilig,” sê Smith.

Die DA het reeds in November, ná ʼn vorige aanval in die gebied, gevra dat ’n landelike veiligheidsberaad gehou word om die kwessie van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede in die Oos-Kaap te bespreek. By só ʼn beraad kan belangrike belanghebbendes met langtermyn-, werkbare oplossings vorendag kom.

Piet Mey, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Oos-Kaap, het ook weereens gevra dat spesialiseenhede teen plaasaanvalle op die been gebring word.

“Die VF Plus dring ook lank reeds daarop aan dat spesialiseenhede gestig en ondersteun word om na die veiligheid van boere om te sien,” sê Mey.

“Die VF Plus sal aanhou om beswaar aan te teken teen plaasaanvalle en misdaad in die Oos-Kaap. Ons sal ook deurlopend die nodige druk op die betrokke owerhede plaas om die veiligheid van inwoners in veral landelike gebiede te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Landbou SA sal baie dringend teenaksies in plek moet kry om alle boere teen ANC geskepte boewery te beskerm. Dit gaan al erger word weens dramatiese sosio-ekonomiese verval. Tyd vir net praat en speel is ongelukkig verby!!!

Hennie ·

En so duur dit voort…. Hoop hulle herstel vinnig. Net jammer die sielkundige letsels gaan jare neem om te herstel.

Keith ·

EARLY WARNING SYSTEM: In earlier years i use to install an inexpensive stand alone early warning sytem consisting of SECURITY LIGHTS (4 – 6 lights all wired together), around the outside of a house (strategically placed) and wired back to an internal SIREN, with an on/off switch to control whether i wanted just the lights to activate or the alarm siren as well. If any of the sensors was activated, i had wired it so that ALL the security lights came on, and the siren went off as well, if i had it in the on position. It is an extremely good early warning system and the siren will not only wake you up, because it is wired back into the house, but will also “warn” the would be attackers that you are not an easy target. The system would cost about R3500 to R5000 to install depending on the number and strength of security lights installed (+- 6 or more). Anyone with electrical wiring knowledge, and an minor understanding of electronics would be able to install the system.

Tiptol ·

En dan is daar ernstige, dringende ondersoeke na die masker saga. Prioriteite in ons land is heeltemal verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.