Boer van plaas gejaag toe departement belofte verbreek

Paul Grey (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Boer van Mpumalanga se goedbedoelde poging om plaaswerkers te help bemagtig, het veroorsaak dat hy dalk nou van sy plaas afgesit word, nadat die regering nie hul belofte gestand gedoen het om die grond aan hom te verhuur nie.

Paul Grey (51) van Grey en Grey Boerdery in die Morgenzon-omgewing is verlede maand deur tientalle swaargewapende mans van sy familieplaas verjaag. Die mans het met minstens 50 voertuie en aanvalsgewere op die plaas opgedaag en die eiendom dae lank beset. Skade is aan die plaas aangerig en besittings is gebuit. Grey en sy gesin was genoop om elders weg te kruip uit vrees vir hul lewe.

Etlike dae daarna het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ʼn dringende hofaansoek ingedien om Grey en sy familie van die plaas af te sit. Die aansoek word Dinsdag aangehoor en indien dit slaag, sal hy op 25 September die plaas moet ontruim.

“Ek weier om dit te ontruim en sal met alles binne my daarteen baklei,” sê Grey aan Maroela Media. Hy voer aan die regering het kontrakbreuk gepleeg deur te versuim om ʼn langtermynhuurkontrak aan hom uit te reik, soos ooreengekom toe hy ʼn stuk van die plaas ʼn dekade gelede aan hulle verkoop het.

Grey en die destydse departement van grondsake sou as vennote ʼn projek van grondhervorming op dié stuk grond begin het, met plaaswerkers van die omgewing as begunstigdes van die projek.

Grey en Grey Boerdery is buite Morgenzon in Mpumalanga geleë (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Die doel was om plaaswerkers te bemagtig en dit moontlik te maak vir hulle om ook grond te besit. Ons het met die beste bedoelings betrokke geraak by die projek.”

Die plaas is verkoop op voorwaarde dat Grey die plaas vir 30 jaar sou kon huur, met die opsie om die huurkontrak vir ʼn verdere 20 jaar te verleng. Die kontrak stipuleer ook dat Grey die grond ná die 50-jaar-huurtydperk by die regering sou kon terugkoop.

Volgens die koopkontrak wat Maroela Media onder oë gehad het, kan Grey en sy gesin daar aanbly. Grey sou die plaas bestuur en die werkers oplei.

ʼn Maatskappy is ten doel van die projek gestig en Grey het 45% aandele daarin.

Die koopkontrak is geteken en ʼn tydelike huurkontrak het as tussentydse maatreël gedien, totdat die 30-jaar-kontrak opgestel is.

Dit is hier waar Grey se moeilikheid begin het.

Paul Grey (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Vir tien jaar spook ek al om die permanente huurkontrak uit die regering te kry, maar my pogings was vrugteloos.”

Boonop wou geen bank vir Grey finansiering bied sonder ʼn amptelike huurooreenkoms of bewys van eienaarskap nie.

“Ek was heeltemal aan die departement se genade oorgelaat.”

Die adjunkminister en hoofdirekteur van landbou en grondhervorming het in 2016 hul storie verander en gesê die grond moet aan ʼn kommunale eiendomsvereniging (CPA) behoort. Hulle het probeer om die verkoopsvoorwaardes te wysig.

Grey het in 2019 by die Openbare Beskermer (OB) se kantoor om hulp aangeklop, maar hy is van bakboord na stuurboord gestuur, sonder enige sukses.

Grey het die departement in Junie vanjaar in kennis gestel dat hy die koopkontrak weens kontrakbreuk gaan kanselleer, en die R80 miljoen wat destyds aan hom vir die stuk grond betaal is, gaan terugbetaal. Die koopkontrak maak voorsiening vir dié besluit, aangesien die departement nie hul deel van die ooreenkoms wat die huurkontrak betref, nagekom het nie.

“Die departement het kennis geneem van die kansellasiebrief en tot op hede nog geen terugvoer gegee nie.”

Dit het heel moontlik tot die gewelddadige en onwettige besetting gelei, meen Grey.

‘Dit was byna oorlog’

Beeldmateriaal in Grey se kantoor wys die swaargewapende man wat by die deur staan (Foto: Verskaf)

Grey was op 9 Augustus in Ermelo toe hy omstreeks 09:30 ʼn oproep van die polisie in Morgenzon ontvang het oor mense wat sy plaas wil besoek. Hy het aangeneem dit is mense wat grafte wil besoek en het nie beswaar daarteen gehad nie.

“Toe ek by die plaas inry, was dit net karre, mense en gewere. Daar was minstens 40 mense met R4- en AK47-gewere, haelgewere en pistole. Dit was gerig op my.”

Die mans, party met maskers aan, het die kantoor oopgebreek en geëis dat Grey sy huis, asook sy ouers s’n moet oopsluit. Sy ouers was destyds in Ballito waar sy pa ná ʼn beroerte herstel het.

“Mens kon nie met hulle redeneer nie, hulle was te arrogant en aggressief. Ek het koel en kalm probeer bly. Ek kon niks doen nie. Indien ek die veiligheidsgroep geaktiveer het, sou daar oorlog uitgebreek het.

“Hulle [die besetters] het my skootrekenaar en bril in die bakkie gesit en gesê ek moet f***f.”

Die balju (regs) op die plaas waar hy die hofbevel aan van die besetters oorhandig. Vusumuzi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga (middel) was ook teenwoordig op die plaas (Foto: Verskaf)

Grey het in sy bakkie geklim en na die polisiestasie in Morgenzon gery, waar hy ʼn saak van onder meer intimidasie en betreding aanhangig gemaak het.

Grey kry hoendervleis as hy oor daardie dag praat.

“Jy is so magteloos. Jy staan nie ʼn kans as daar soveel gewere op jou gerig is nie. Ek was en is steeds bang – ook bang dat hulle sal terugkom.”

Hy sê van hul besittings soos kantoorsakke, kettingsae, messe, televisiestelle, bore, slypmasjiene, oorfone en luidsprekers is gesteel.

Grey het ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Middelburg ingedien om die besetters van sy plaas af te kry. Regter Bruce Langa het op 12 Augustus beveel dat die besetters nie die Grey-familie, hul gaste of werkers mag keer om die plaas te betree of te verlaat nie.

Luidens die uitspraak moet die respondente die plaas onmiddellik verlaat en nie weer die eiendom betree nie.

‘n ‘Geen toegang sonder toestemming’-bordjie is by die ingang van die plaas te sien (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die balju is die Maandag (14 Augustus) na die plaas om die hofbevel aan die besetters te oorhandig. Daar was toe niemand meer op die plaas nie.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op 25 Augustus die dringende uitsettingsaansoek teen Grey ingedien.

Die aansoek word Dinsdag in die hooggeregshof in Middelburg aangehoor. Grey beoog om die aansoek teen te staan.

Maroela Media het navraag aan die departement gerig, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mel84 ·

Dis verskriklik! Mens probeer SAAM werk – maar dan word mens net weer gepootjie. Dis baie teleurstellend. Ai my hart gaan uit na die hele Grey gesin.

Pieter ·

Jy is met ‘n “slap riem gevang”. Het Piet Retief geskiedenis jou niks geleer nie?!!

Renier ·

Vat die 80 miljoen wat jy vir die plaas gekry het en gaan tree af,moenie dit op hofsake teen die regering mors nie

Chopper ·

Dit gebeur as jy die liberale uitweg probeer vat en jou grond en kennis probeer deel.

Die Goodwoodianer ·

Weereens, bewyse dat ons na ons eie mense eerder moet kyk. Jammer om te sê maar sodra mens probeer om ander te help… die artikel spreek boekdele.

Andrew ·

Die manier hoe hulle die plaas beset het herhinner aan Zim, 2000 en behoort n waarskuwing te wees aan die wat nog glo dit sal nooit kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.