Boere bekommerd oor groot reën

Sopnat landerye naby Crecy op die Springbokvlakte in Limpopo. (Foto: Reint Dykema)

Die weerdiens voorspel nog reën oor die volgende paar dae, terwyl talle boere in hierdie stadium diep bekommerd is weens versuip-, hael- of vloedskade.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê op talle gebiede staan mielies in die water, koring kon op sommige plekke nog nie gestroop word nie en die gradering weens die aanhoudende reën is swak.

Sonneblomaanplantings in sommige gebiede is agter, terwyl boere wat suikerbone plant nog in sopnat lande probeer inkom. In die Bultfontein-omgewing is versuipskade van tussen 30% en 80% aangemeld. Dit sluit ook gebiede soos Hoopstad, Wesselsbron en Kroonstad in. In die Heilbron-omgewing in die Oos-Vrystaat het sommige boere ook groot versuipskade.

Wilken, self ʼn lusernboer, sê hy het die afgelope maand weens die reën nog net een snysel gedoen, terwyl hy gewoonlik teen hierdie tyd al drie agter die rug het.

“Die boere wat vroeg geplant het, waar die mielies al groter is, het ook minder skade. Op ander plekke staan die plantjies in die water.”

Onkruidbeheer is weens die reën ook ʼn kopseer omdat boere nie in die lande kan kom om te bespuit nie. Stygende insetkoste bly ʼn probleem en sekere kunsmisprodukte is dubbel die prys as ʼn jaar gelede, terwyl sommige gifstowwe tot drie keer meer is.

“Aan die ander kant is die weiding vir die vee uitstekend. Die velde lyk baie mooi ná die brande,” sê Wilken.

Boere in die Benede Oranje-streek sê die oopmaak van die damsluise skep bykomende bufferkapasiteit as wanneer nog reën kom. (Foto: Wilco Fourie)

“Baie van die ouens in die stede dink die boere is nooit tevrede nie – dan is daar te min reën en dan is daar te veel reën. Maar die boer doen alles reg en soms het hy steeds nie ʼn oes nie.”

Vier sluise van die Vaaldam is nou reeds oopgemaak nadat die dam reeds ʼn week voor Kersfees meer as 100% vol was. Die Bloemhof- en Vanderkloofdam is volgens die departement van water en sanitasie ook meer as 100% vol.

Wilco Fourie, president van die Oranjerivier-landbou-unie, sê die Oranjerivier se vloei het reeds stelselmatig begin afneem nadat die sluise oopgemaak is.

Haelskade in die omgewing van Chrissiesmeer. (Foto: TLU SA)

“Dit is belangrik dat ons bufferkapasiteit skep as volgende week se reën kom,” sê Fourie.

In hierdie stadium sak die Oranjerivier se vlakke vinniger as wat dit aan die Vaalrivier se kant styg en Fourie sê die Oranjeriviervlak behoort binne die volgende week omtrent met ʼn meter te sak. Dit gee bykomende speling vir boere langs die rivier. Sommige boere in onder andere Kakamas was op hete kole omdat ʼn verdere styging in die riviervlak skade sou kon berokken.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê daar was hael en swaar reën in die Breyton- en Chrissiesmeer-gebied en vliegtuie en hommeltuie is vooruit bespreek sodat boere hul gesaaides uit die lug kan bespuit.

Die Matlabasrivier in Limpopo het oorstroom, maar boere in dié gebied is daaraan gewoond en weet hoe om die situasie te hanteer.

In die Modimolle-streek het swaar reën in Desember op talle plekke groot skade aan paaie aangerig en laagwaterbrûe het etlike keer oorstroom. In hierdie omgewing sukkel boere om waatlemoene uit die lande te kry.

“Maar die veld lyk oral pragtig en waterstrome loop op al die plekke,” sê Van Zyl.

Nog reën voorspel

Sommige boere sukkel om weens die reën in sopnat landerye te kom. (Foto: reint Dykema)

Celeste Fourie, ʼn voorspeller verbonde aan die SA Weerdiens, sê nog reën is oor groot gebiede van die land op pad.

ʼn 60%-kans vir reën word Dinsdag vir Noordwes, die grootste gedeelte van die Vrystaat, die oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Hoëveld van Mpumalanga voorspel.

In Limpopo en die verre westelike gedeeltes van Noordwes en die Vrystaat, asook die westelike gedeeltes van die Oos-Kaap, is daar vandag ʼn 30%-kans op reën.

Fourie sê teen môre word ʼn 30%-kans vir reën in die noordelike gedeeltes van Gauteng, Limpopo en die Hoëveld van Mpumalanga voorspel.

Teen Donderdag word die meeste reën op plekke soos die oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Hoëveld van Mpumalanga en die suidelike gedeeltes van Gauteng verwag.

Soortgelyke toestande word Vrydag verwag, met donderbuie wat in die sentrale en oostelike gedeeltes voorspel word. Teen die naweek word reën in die sentrale en oostelike gebiede van die land verwag en selfs die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap.

Volgens Fourie het die weerdiens se seisoenale voorspelling op ʼn natter seisoen gedui.

Kimberley het die afgelope 24 uur 25 mm reën gehad, die Bloemhof-gebied het 13 mm gehad en Rustenburg 19 mm.

In Lephalale is 54 mm ʼn dag tevore gemeet, terwyl 46 mm op Graskop aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Nee wat . Boer dan met eende maar hou op met kla .

Sasha

Ek verstaan die mensdom ook nie, eers word dit gekla dat die wêreld droog is en nou word dit gekla dat dit te veel gaan reën. Ons bid vir reën, en as ons dit kry, kla ons daaroor. Hoe ondankbaar wil ons nou eintlik wees. Ek sê elke dag BAIE DANKIE vir elke druppel reën wat ons oor die land kry. Want elke druppel wat val is n seën en net n GENADE.

Patch

Ek weet niks van boerdery af nie maar vir my klink dit soos dobbel…some you win and some you lose.
En in dele van die Oos-Kaap moet boorgate geboor word want die boere bid en bid vir reën. Mag daar sommer nog baie reën vir die Oos-Kaap boere val, genoeg om weiding te laat groei in oorvloed.

Willem(Kosie)

Mmmm….dis lekker om kommentaar te lewer. Ek is nie ‘n boer nie – sou graag wou maar my oupa groeitjie het nie die memo gekry nie – maar ek verstaan verseker hoe moeilik dit nou moet wees met die nat lande. Daar kan nie gestroop word nie, baie lande het so baie water dat die jong plantjies versuip en dan is daar nog probleme met plaagbestryding. Oor 6 maande kla die verbruikers weer oor die verhoging in voedselpryse. Sterkte aan al die boere!!!!