Boere benoud oor ooraanbod in sapfabrieke

Verskeie besendings appelsap is die afgelope weke weens veiligheidskommer onttrek. (Argieffoto: Unsplash)

Groot kommer heers oor die bottelnek wat sapfabrieke in die Oos- en Wes-Kaap ervaar weens ’n ooraanbod van kernvrugte soos appels en pere. Sapfabrieke het begin om kwotas in te stel wat die inname van vrugte beperk. Gevolglik beland hordes vrugte op die ashoop en boere ly ’n enorme verlies aan inkomste.

Dit is omdat die koste daarvan om vrugte in koelkamers te berg om later uit te voer, toenemend styg, onder meer omdat kragopwekkers pal gebruik moet word om yskaste aan die gang te hou. Stygings in dieselkoste en die minimum loon veroorsaak ook dat boere elders begin kyk na goedkoper opsies om hul vrugte te laat verwerk, wat sapfabrieke insluit.

Sapfabrieke het aan Maroela Media gesê hulle ontvang soms in ʼn week 200% meer vrugte as ooit tevore.

“Boere word met uitdagings oorval en met byna onmoontlike besluite gekonfronteer. ’n Mens kan nie die realiteit versuiker nie. Die faktore wat teen produsente werk, laat ’n groot vraagteken oor die winsgewendheid van appel- en peerprodusente hierdie seisoen hang,” sê Marius van der Westhuizen, ’n Hortgro-verteenwoordiger in die Langkloof.

Herman Potgieter, hoof‑ uitvoerende beampte van Granor Passi, wat ʼn verwerkingsaanleg in die Langkloof het, het bevestig die fabrieke in die Oos- en Wes-Kaap ervaar sedert verlede jaar ’n toename in vrugte en dit plaas geweldige druk op fabrieke.

“Die sapfabrieke het net ’n sekere verwerkingskapasiteit wat tans meer as 100% benut word. Tot en met 25% van die kapasiteit gaan verlore, hoofsaaklik as gevolg van beurtkrag. Ons doen alles in ons vermoëns om die bedryf te ondersteun sover as wat ons kan,” sê Potgieter.

“Die vrugte wat nie uitgevoer word nie, sal eerste aan die sapfabriek gelewer word, as daar kapasiteit beskikbaar is, andersins sal dit weggegooi moet word.”

Hy sê swak dienslewering by die hawens en die geweldige hoë verskepingskoste speel ook ʼn rol in boere se besluit om die vrugte eerder na sapfabrieke te stuur.

Hoewel boere in die proses vrugte – en geld – verloor, voorsien fabrieke nie dat pryse op die sapvrugte drasties sal afneem nie, aangesien die wêreldvraag na appelkonsentraat steeds hoog is, sê Potgieter.

Haelskade

(Foto: Antoinette Ferreira Zietsman/Facebook)

Die ooraanbod aan sapfabrieke het veral nou ʼn direkte impak op boere in die Langkloof, wat die afgelope maand erge hael gekry het.

Na raming is 1 500 hektaar se vrugte, wat nie onder net was nie, geraak. Ongeveer 75 000 grootmaat kratte en 1,2 miljoen uitvoerkartonne vol vrugte is ook geraak. Die skade beloop sowat R130 miljoen.

“In die verlede het jy eenvoudig jou vrugte wat haelskade opgedoen het by sapfabrieke afgelewer en dan verloor jy minstens nie al die inkomste nie, maar op die oomblik is sapfabrieke té vol,” sê Van der Westhuizen.

Potgieter sê fabrieke sal wel enkele vrugte wat nie té erg haelskade opgedoen het nie, aanvaar, mits dit binne ’n kort periode ná die skade aan die fabriek gelewer word.

“Boere staan nou voor ʼn moeilike besluit: As die vrugte wat nie onherroeplik deur hael beskadig is nie soos voorheen by ’n sapfabriek afgelewer kan word nie, is dit dan die moeite werd om daardie vrugte saam met klas 1-vrugte in ’n koelkamer te stoor tot later vanjaar wanneer die sapfabriek dit dalk sal aanvaar? Jy ‘steel’ in werklikheid spasie in die kamer wat jy andersins vir uitvoerproduk sou gebruik het, net om ’n totale verlies te probeer vermy – maar met geen waarborg tot sukses nie.”

Van der Westhuizen sê dit lyk nie asof die situasie by die sapfabrieke in die volgende twee of drie maande sal normaliseer nie.

Om vrugte na munisipale markte te stuur, is ook nie vir boere ʼn opsie nie, sê Van der Westhuizen, aangesien sommige markte sukkel met verkoeling te midde van beurtkrag en munisipaliteite se onvermoë om markte van diesel te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.