Boere by veiling met inhegtenisneming gedreig

(Argieffoto ter illustrasie: Yolandi Kruger)

Groter duidelikheid is dringend nodig oor die kwessie of boere toegelaat mag word om veilings by te woon.

Theo de Jager, voorsitter van die landbouorganisasie Saai, het Woensdag gesê ʼn groep boere van Frankfort in die Vrystaat is met inhegtenisneming gedreig nadat hulle vanoggend ʼn veiling bygewoon het. Die polisie het ook die veiling stopgesit en dit kon glad nie voortgaan nie.

“Daar was groot spanning tussen die boere en die polisie. Ons het ʼn dringende hofaansoek oorweeg, maar die regulasies [rakende afsondering] maak nie voorsiening vir die soort byeenkoms wat ʼn veiling is nie. Daar is nog nie regulasies spesifiek oor veilings gepubliseer nie,” het De Jager gesê.

Soortgelyke veilings word op ander plekke in die land gehou en het tot dusver glo sonder voorval verloop.

Volgens De Jager het vanoggend se gebeure ander probleme in die stelsel uitgewys.

“Die feit dat daar nie regulasies is nie, laat ons landboubedryf mank. Die gebrek aan regulasies skep onduidelik. Dié onduidelikheid skep onsekerheid en dit skep weer spanning.”

De Jager sê verbruikers – aan die einde van die voedselwaardeketting – word toegelaat om produkte te koop. Produsente soos boere – aan die begin van die waardeketting – word oënskynlik nié toegelaat om dit te doen nie.

“Een van die boere het gesê hy móét teen môre ses beeste verkoop om uitgawes soos lone en elektrisiteit te betaal. Daar is baie boere wat in ʼn soortgelyke situasie is,” het De Jager gesê.

Volgens hom gaan boere ook groot koste aan om hul diere by veilings te kry.

ʼn Uitbreking van bek-en-klouseer het die bedryf ʼn paar maande gelede byna lamgelê nadat veilings ook toe opgeskort is in ʼn poging om die verspreiding van die siekte te voorkom.

(Argieffoto ter illustrasie)

De Jager het gesê die departement se kommunikasie oor die kwessie laat veel te wens oor.

“Die doel van die regulasies moet wees om dit vir Suid-Afrika so maklik as moontlik te maak om te oorleef, nie so moeilik moontlik nie.”

Die regering het die afgelope week ʼn soortgelyke tameletjie gehad toe aanvanklik gesê is die verkoop van warm, voorafbereide maaltye word ingevolge die afsonderingsregulasies verbied. Daar was in daardie stadium egter geen só ʼn bepaling afgekondig wat dit verbied het nie.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het Maandag oënskynlik inderhaas die regulasies rakende sulke maaltye in die Staatskoerant afgekondig in ʼn poging om verdere verwarring – en verleentheid – te voorkom. Verskeie instellings het die regering met hofstappe oor die kwessie gedreig.

Maroela Media het die departement van landbou om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bernard ·

Nou gaan NDZ seker weer blitsig’n Staatskoerant uitspoeg

Boortor ·

Ek wens die boere kan ophou produseer. Ek weet dit is nie moontlik nie. As dit sou gebeur sal ons sien hoe vinnig hierdie regering sal luister as die boere praat. Die kos kom mos van checkers af, dan nie? Sterkte vir al die boere daar buite. Ek besef dat dit vrek moeilik moet wees om te boer onder n disfunksionele regering.

Scalla ·

Is die reel nie dat daar nie meer as 50 mense teenwoordig moet wees nie, beperk persone dus net tot geregistreerde kopers en verkopers en as daar plek is vir potensiele belangstelling indien getal dit toelaat, Dit val mos binne die reels wat hul stel en self nie uitvoer nie.

Koos ·

Onthou die reels is net van toepassing as dit hul pas.Die arme werkers wat nou nie lone gaan kry nie gaan dink dit is die boer se skuld en sal dan maar hul self moet help om kos op die tafel te sit.

Oranje-Blanja-Blou ·

Scalla jy kan so redeneer as ons te doen het met konsekwente wetmaak en wet toepassing. In ons huidige situasie wil elke wetstoepasser ‘n wetmaker wees. Dit is magsvergrype. En jy wat die wette wil hou, se reg om aan te dring op konsekwentheid, word jou ontneem. Dit is die magtelose skadu wat ons nou oorval waar ons kan sien dat die “oppergesag van die reg” duidelik net geldig is as die wetstoepasser wat voor jou staan self “oppergesag van die reg” wil eerbiedig. Dit is hoekom baie mense gewaarsku het, dat die fondament van “oppergesag van die wet”, vir die “Nuwe Suid-Afrika” nie suksesvol sal wees as jy dit vertrou in die hande van Afrika Kommunistiese denkers nie. Vir sulkes is hulle ideologie die “oppergesag”.

Michael 1 ·

Tipies polisie nerens te sien tydens aanvalle of misdaadvoorkoming nie maar n paar boere woon n veiling by en die taakmag slaan toe,het hulle nie die vermoë om eie inisiatief te gebruik en elke sitsuasie op meriete te hanteer nie?

Jack Russel ·

Die gebruik van eie inisiatief is onmoontlik, lede kan nie eens hulle eie vuurwapens oppas nie.

Genis ·

Loop saam met Cele rond in Natal, dan kan jy sommer 300 saam drom, sonder enige gevolge…

errol ·

Ek gaan swyg anders gaan ek in baie erge moeilikheid beland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.