Boere trek Eskom-man, nog twee vas vir ‘veediefstal’

Foto: Verskaf

Boere in die Prieska-omgewing in die Noord-Kaap het Vrydag vinnig reageer nadat skape op die plaas Skilderspan gesteel is. Drie verdagtes, onder wie ʼn Eskom-werker, is uiteindelik sowat 50 km verder vasgetrek.

ʼn Werker op Donald Jackson se plaas, Skilderspan, het ʼn Eskom-gemerkte voertuig in die veld gewaar en gesien hoe drie mans skape vasbind en een van die skape agter in die bakkie laai. Dit is toe dat hulle die plaaswerker gewaar en laat spaander het.

Die werker het Jackson van die gebeure in kennis gestel en hy het dadelik oor die radionetwerk bystand van die naaste boer ontbied. Piet Vos het in sy bakkie gespring en die verdagtes agternagesit.

Petrus Vermeulen is nog een van die boere in die omgewing wat ook vinnig in sy bakkie gespring en na die verdagtes begin soek het nadat Vos verdere bystand versoek het.

Foto: Verskaf

“ʼn Hoogspanningsdraad van Eskom loop hier deur talle plase en Eskom-werkers het sleutels vir hekke sodat hulle al langs die draad kan ry en instandhouding kan doen. So, die verdagtes het soos hulle gery het die hekke oopgesluit en weer agter hulle toegesluit.”

Volgens Vermeulen was minstens 11 boere uiteindelik op die verdagtes se spoor. “Ons het hulle naby die Carnarvon-Prieska-pad vasgekeer en die polisie ontbied.” Die verdagtes het glo gesê dat hulle die skaap wat gesteel is in die veld afgelaai het terwyl hulle gevlug het.

Die polisie het bevestig dat drie verdagtes, tussen 30 en 36 jaar oud, in hegtenis geneem is en binnekort in die Britstown-landdroshof sal verskyn.

Foto: Verskaf

Eskom het ook bevestig dat een van sy werknemers van veediefstal beskuldig word. “Dié soort gedrag is heeltemal onaanvaarbaar en sal deur middel van die korrekte prosedure opgevolg word.”

Vermeulen het gesê die Eskom-werker het twee makkers, glo albei voorheen plaaswerkers in die omgewing, in Prieska opgelaai.

Hy het gesê polisiebeamptes is na die toneel waar die skape gesteel is om bewysstukke te versamel.

Volgens Vermeulen is skaapdiefstal ʼn baie groot probleem in die omgewing. “Ons is pas ook deur ʼn groot droogte wat baie van ons kuddes halveer het.”

Eskom het gesê enige verdagte aktiwiteite deur ʼn Eskom-werknemer of -kontrakteur kan aangemeld word by 08600 37566 of 0800 11 27 22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter J ·

Ek wonder of dit die lus vir vleis of die geld wat betrokke is wat maak dat hierdie spul nie die boere se vee wil uitlos nie.

Pieter ·

Bly die boere het dit gesien en aksie geneem. Ekself het ook al probleme met Eskom op my plaas gekry, dit help nie jy bel hulle nie. Hul ondersoekbeampte het alle blaam op my geplaas en Megawatt Park se regslui het my begin pla by my werkgewer. Het my ‘n hofsaak gekos om my naam skoon te kry. Eskom is toe as sondebok aangewys maar het nooit verskoning aangeteken nie. Hulle ‘cover’ mekaar.

Boortor ·

Die tyd vir veediefstal onder andere kom nog! Met die dat mense nie meer werk of geld het nie. Ons en veral die boere moet nou wakker en skerp wees. Hier kom n groot diefstal brander!

Hansie slim ·

Daar is groot probleme op pad. As jy dink na die lockdown keer alles terug na normaal…dink weer!!!
Hulle gaan aan soos normaal solank daar nie meer as 100
bymekaar is nie.. Wat help dit?
Hulle is honger sonder geld!! Waarheen gaan hulle? Waar daar kos is.,.. Hulle kom by die duisende! Wie gaan hulle keer?
Net ‘n wonderwerk gaan dit keer!!

Raadslid ·

Wel gedaan Boere.
Ek vermoed dit is die persoon wat die krag met beurtkrag afskakel…..

Amatambo ·

Jammer om dit so kras te stel, maar daar heers groot hongerte as gevolg eenvoudig oorbevolking uit alle oorde, waarvan die oorgrootte meerderheid onder die indruk verkeer dat Johannesburg se strate met goud gepavlei is en hulle net die bedelbakke kan ratel en die STAAT (deur die oorwegende MINDERHEID uit belasting befonds word) hulle moet onder hou… maar toe val die bodem uit…

Genis ·

Bly maar n skelm klomp… geen respek vir ander se harde werk en eindom.. geen insig…agteropdierug grootgeword sindroom seker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.