Boewe se begrafnisse met geweld ‘gevier’

(Argieffoto: Hansie Linde)

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, en Xolile Nqatha, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het ʼn waarskuwing uitgereik oor die roekelose en onwettige optrede wat by begrafnisse van vermeende misdadigers plaasvind.

Hierdie dade sluit in die swaai van vuurwapens, die afvuur van skote in die lug (óf by die begraafplaas óf by die huis van ʼn gestorwe misdadiger), asook die skuurgeluid van tollende motorbande by die begraafplaas.

“Hierdie optrede is nie net gevaarlik nie, maar ook ʼn blatante miskenning van die wet en die veiligheid van diegene wat die geleentheid bywoon. Dit moet duidelik gestel word dat hierdie optrede nie ʼn viering is nie, maar ʼn gevaar vir die samelewing,” het Mene en Nqatha beklemtoon.

Die streng waarskuwing volg ná ʼn onlangse video wat versprei word, wat die afvuur van skote in die lug uitbeeld by die begrafnis van ʼn vermeende misdadiger in die dorpie Ncetyana in Tsol, Oos-Kaap.

“Ons beklemtoon die onwettigheid van sulke dade en veroordeel dit in die sterkste terme denkbaar. Sulke gedrag plaas nie net onskuldige lewens in gevaar nie, maar ondermyn ook die struktuur van ons samelewing. Dit is ʼn belediging van die beginsels van wet en orde wat ons binne ons gemeenskappe handhaaf. Aan diegene wat betrokke is by hierdie aksies, wees gewaarsku: Die gevolge sal ernstig wees. Die polisie sal onwrikbaar wees in hul verbintenis tot die toepassing van die wet,” het Mene gesê.

Nqatha het met Mene saamgestem en stuur ook ʼn streng waarskuwing aan oortreders wat hulle skuldig maak aan sulke optrede.

“Ons sal nie sulke onverantwoordelike en roekelose gedrag duld nie, en ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is in hegtenis geneem word en voor die gereg gebring word. Verder doen ons ʼn beroep op die gemeenskappe om saam met die polisie te staan om hierdie skuldiges aan die kaak te stel.”

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die polisie ʼn ondersoek van stapel gestuur ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer, art. 120(3b): Dit is ʼn oortreding om ʼn vuurwapen, ʼn antieke vuurwapen of ʼn windbuks te laai, af te vuur of andersins te hanteer op ʼn manier wat waarskynlik die veiligheid of eiendom van enige persoon kan bedreig of met roekelose minagting van die veiligheid of eiendom van enige persoon.

“Die polisie waarsku dat die oppergesag van die reg sal seëvier en diegene wat dit oortree, sal die gevolge die hoof moet bied,” sê Naidu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pannies ·

Die wanorde en misdadigheid wat nou heers is juis omdat die SAPS al vir jare lank nie hul werk behoorlik doen nie. Nie eens die jeug steur hul nou aan hul waarskuwings nie.

Ronél ·

TREE OP, moenie net praat nie……………….duidelik het misdadigers die SAPD aan die korthare beet.

Suzette ·

SAPS staan ek kyk hoe die Menere met hulle AK’S die begrafnis in die strate van die huise af lei na die begrafplaas toe, skote afvuur en doen niks want hulle is bang vir hulle.

Bolandse Nooi ·

Ag, en dan is daar Malema wat hom aan dieselfde skuldig gemaak het, maar hý kom niks oor nie? Dubbele standaarde, soos gewoonlik.

Elsie ·

Ag moet tog nou nie voorgee dat jy nou eers daarvan bewus word………daars duisende sulke videos, jare al

Heinrich ·

Praat praat praat…dit help niks. Die polisie is veronderstel om te weet wat is patroon by hierdie begrafnisse, hulle weet waar en wanneer is die begrafnis, so hulle weete mos nou ander kriminele gaan daar wees. Hoeveel meer het hulle nodig om toe te slaan behalwe die wil?

Miena ·

Dalk n ekstra paar vangwaens. O wag n bietjie – daar is nie voertuie beskikbaar nie…
die kriminele het meer ammunisie as n hele AK saam want elke lid aan diens word mos uitgereik met net 06 tot 12 rondtes.

Wondermaarnet ·

Dit is mos hoe julle mense dit doen. Hoekom hulle nou veroordeel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.