Boewe slaan toe op Pta-brandweerstasie

Foto: AFP

Gewapende rowers het Vrydagoggend op die Ga-Rankuwa-brandweerstasie in die Tshwane-metrogebied toegeslaan en die stasie van “noodsaaklike gereedskap” beroof. Die rowers het by die perseel ingekom deur ʼn palissade oop te breek. Hulle het onder meer selfone en ʼn versender gebuit.

Die voorval kom op dieselfde dag wat gewapende mans – wat hulle as gewone pendelaars voorgedoen het –  ʼn busbestuurder van die Tshwane-metro in Olievenhoutbosch met ʼn vuurwapen gedreig en toe die bus aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig al die passasiers is uit die bus geboender voordat die voertuig aan die brand gesteek is. Die busbestuurder het ontsnap en gevlug en ontvang tans mediese behandeling en berading.

‘n Bus van die Tshwane-metro is vroegoggend in Olievenhoutbosch uitgebrand. (Foto: Tshwane-metro)

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het die gewapende roof –wat ook in die vroeë oggendure plaasgevind het – ten sterkste veroordeel.

“Hierdie daad van aggressie teen ons nooddienste is diep ontmoedigend en namens die koalisieregering in Tshwane veroordeel ek hierdie optrede onomwonde.”

Theunissen sê die oortreders het ses selfone en die versender gesteel.

“Hierdie gesteelde items is nie net [persoonlike] materiële besittings nie, maar ook gereedskap wat ons brandbestryders help om stappe te koördineer en doeltreffend op noodgevalle te reageer.

“Hierdie laakbare daad bedreig dus nie net die veiligheid van ons brandbestryders nie, maar raak ook die noodsaaklike noodreaksiedienste wat hulle aan ons gemeenskap verskaf.”

Hy het ʼn beroep op die gemeenskap van Ga-Rankuwa en die omliggende gebiede gedoen om saam te werk om die brandweerstasie en die nooddienswerkers te help beveilig.

“Ons doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor hierdie voorval om na vore te kom en wetstoepassingsowerhede te help om die skuldiges aan die pen te laat ry.”

Volgens Theunissen wag hulle nog op ʼn volledige verslag oor onder meer die veiligheidsmaatreëls op die perseel. Steun word gegee aan diegene daarby betrokke.

“Ek het met die hoof van nooddienste en die kantoor van die stadsbestuurder gepraat om die veiligheidsmaatreëls wat tans by die Ga-Rankuwa-brandweerstasie geld, te herevalueer en waar moontlik te verbeter.

“Ek doen egter ʼn beroep op die polisie om hierdie aangeleentheid sonder versuim te ondersoek en te verseker dat ons brandbestryders in Ga-Rankuwa kan voortgaan om hul gemeenskap sonder vrees te dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.