Boewe vat pad met gemerkte metropolisiekar

Die voertuig is na ‘n soektog verlate en beskadig opgespoor. (Foto: Twitter)

Die Johannesburgse metropolisie (JMPD) het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat boosdoeners die afgelope naweek in ʼn gemerkte polisievoertuig gespring en daarmee weggejaag het.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, sê drie beamptes het Sondagaand op ʼn klagte – dat ʼn tent in die middel van ʼn pad opgerig is – in Senaoane in Soweto gereageer.

Nadat die beamptes stilgehou het om te gaan ondersoek instel, het onbekende verdagtes in die Toyota gespring en daarmee weggejaag. Dit is ná ʼn soektog verlate in Chiawelo aangetref.

Die regterkantse voor- en agterwiel, sowel as die voorste buffer, was beskadig, sê Minnaar.

ʼn Saak van diefstal en vandalisme is by die Moroka-polisiestasie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.