Boksburg: Dodetal nou 37

(Foto: IHSAAN HAFFEJEE/ANADOLU AGENCY/Anadolu Agency via AFP)

Die dodetal het tot 37 gestyg ná Oukersdag se gastenkwa-ontploffing in Boksburg.

Altesaam 12 gesondheidspersoneellede van die Tambo-gedenkhospitaal is onder die oorledenes. Volgens Panyaza Lesufi, Gautengse premier, is 23 personeellede van die hospitaal tydens die voorval beseer, maar die meerderheid is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Agt lede van die Ekurhuleni-nooddienste is ook tydens die voorval beseer met twee wat steeds in die hospitaal vir hul beserings behandel word. Verskeie ander mense wat tydens die voorval beseer is, word ook steeds in hospitale behandel.

Lesufi het gesê die provinsiale en nasionale regering het beamptes ontplooi om begrafnisdienste van die oorledenes by te woon en die nodige ondersteuning te bied aan die families wat geraak word.

“Daar is deurlopende berading aan personeel en hul gesinne, asook aan die bedroefde gesinne. Waar nodig het die regering, in samewerking met organisasies soos Gift of the Givers en Avbob, gehelp met begrafnisreëlings.”

ʼn Gedenkdiens is Vrydag by Boksburg se stadsaal vir die slagoffers van die noodlottige ontploffing gehou. “Woorde kan nie die omvang van hierdie ramp beskryf nie,” het Tania Campbell, burgemeester van Ekhurhuleni, tydens die gedenkdiens gesê.

Die gedenkdiens is voorafgegaan deur ʼn nagwaak wat verlede Woensdag gehou is waartydens ʼn oomblik van stilte gehandhaaf is vir almal wat deur die onlangse tragedie geraak is. Lede van gemeenskappe in Boksburg en omliggende gebiede het in die Plantation-buurt bymekaargekom. Daar is gebid en blomme en kerse vir die slagoffers neergelê. Lede van die gemeenskap het mekaar onderskraag terwyl “Amazing Grace” gesing is.

Daar word intussen gewag op die uitslag van verskeie ondersoeke na die ramspoedige voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Lesufi… Is dit ook deel van sy pligte om by elke ramp die hoofrol te speel en soos nou ook die bestuurder van die tenkwa onder sy vlerk te neem? Waar is Hoed en die Valke? Volgens die maatskappye wat die bestuurder en tenkwa verskaf het, is alle reëls sorgvuldig deur die glo uiters ervare en heldhaftige 32-jarige nagevolg. Is dit die normale roete vir sulke gastenkwaens ver weg van die pad tussen die Richardsbaai en Gabarone wat normaalweg verby Pretoria loop. En dan die brug: Hoe kom hy gereeld onder deur die brug want die bestuurder was glo op die normale roete? Blaas hy die bande af en kry helpers om hom deur te stoot en dan blaas hy self weer die bande op en ry verder… Dit is nou voor of nadat hy 10 ure moes gerus het? Iets in die erge tragedie hou nie water nie. Of wil iemand nie groot eise uitbetaal vir nalatigheid nie?

Alida ·

Volgens berigte was dit nie die bestuurder se normale roete nie. Hy het die verkeerde afrit geneem toe hy na die 10 ure se rustyd weer op die N12 wou kom. Dit is hoe hy per ongeluk op daardie pad beland het. Eintlik behoort daar kilometers voor so ‘n duikweg borde te wees wat waarsku dat daar ‘n duikweg op daardie pad is en wat die hoogte is. Ook moet sulke lang voertuie in gedagte hou dat hulle voorwiele al by die opdraande begin opgaan, dan is die agterwiele nog nie in die duikweg nie, dus lig die hele voertuig op. Ek twyfel of afgeblaasde bande veel van ‘n verskil sou maak in hierdie geval.

Papsak ·

Ja daar soveel skades gebring en lewens gevat maar hy is onskuldig hierdie kon voorkom geword het hoekom het hy daar gaan ry moedswillig maar ja nou maar so

Nicholaas ·

Na aanleiding van vorige berigte sal ek se die regering is verantwoordelik vir die tragedie want hul het alles laat verval.

Katinka ·

Eks verbaas die trok drywer is nooit aangeval nie, of dat die plek waar hy werk nie afgebrand is nie….

Daleen ·

Ek wonder net hoeveel van die oorledenes en beseerdes was nuuskierige omstanders wat niks oor sou gekom het as hulle nie so nuuskierig was nie….

capie ·

Almal raas nou nog oor die trokdrywer. My vraag is waarmee is die brand bestry. WATER?. Volgens ‘n foto van die beskadigde brandweerwa lyk dit so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.