Boksburg-tragedie: Dodetal styg verder

Die brug ná die ontploffing. Foto: Twitter

Die dodetal ná Oukersdag se noodlottige ontploffing in Boksburg, staan nou op 18.

Tien van die oorledenes is reeds Saterdag weens die ontploffing dood. Agt ander is in die dae ná die tragedie in die hospitaal dood. Dit sluit in nege personeellede – ʼn voertuigbestuurder en agt verpleegsters – van die nabygeleë Tambo-gedenkhospitaal.

Oorledenes se naasbestaandes word intussen toegelaat om hul geliefdes by die lykshuis by die forensiese patologiedienste in Langstraat, Germiston, te gaan identifiseer. Die lykshuis is ten spyte van die vakansiedag Dinsdag oop.

Beraders is beskikbaar gestel om die naasbestaandes by die lykshuis by te staan.

Uitkenning, opsporing van slagoffers

Familielede wat slagoffers by die lykshuis in Germiston moet uitken, word versoek om hul ID-dokument sowel as die ID of ’n verkorte geboortesertifikaat van die oorledene saam te neem. Bestuurslisensies word nie aanvaar nie.

Geboortesertifikate word aanvaar vir kinders wat nog nie ’n ID het nie.

Die Tambo-gedenkhospitaal was teen Dinsdagoggend nog gesluit vir nuwe opnames. Altesaam 42 van die 321 pasiënte wat voor die ontploffing in dié hospitaal opgeneem is, is intussen ontslaan, sê die departement van gesondheid.

Gesinne wat geliefdes by dié hospitaal het, kan die fasiliteit by 011 898 8000 skakel om die status van hul geliefdes na te gaan.

Lede van die publiek wat vermiste persone in verband met die ontploffing wil aanmeld, kan die Gautengse regering by 0800 228 8227 kontak.

Die provinsiale regering tref intussen die nodige reëlings om geraakte families te besoek.

Ramaphosa reageer

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: ANC/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagoggend gesê hy is diep bedroef deur die stygende dodetal. “Die nasie se harte gaan uit na almal wat deur hierdie verwoestende voorval geraak is.

“Sulke gebeure veroorsaak groter hartseer en tragedie wanneer dit gedurende hierdie tyd van die jaar plaasvind wanneer ons almal vir veiligheid bid en uitsien na die samesyn met familie en vriende.”

Ramaphosa sê die lewensverlies is in hierdie geval nóg erger aangesien sommige van die slagoffers hospitaalpasiënte, hospitaalpersoneel en kinders was.

Maroela Media het vroeër berig drie jong boeties en ’n sussie is tydens die ontploffing dood.

Tientalle omstanders sowel as 24 pasiënte in die Tambo-gedenkhospitaal se ongevalle-eenheid en 13 personeellede, wat óf buite die hospitaalsale óf in die parkeerterrein van die hospitaal gestaan het toe die gastenkwa Saterdagoggend ontplof het, het ernstige brandwonde tydens die voorval opgedoen.

Ramaphosa sê die regering doen tans die nodige stappe om verligting aan diegene te bied wat deur die tragedie geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.