Bolhuis kry finale bevel teen joernalis

Mike Bolhuis. (Argieffoto)

Die bekende private ondersoeker Mike Bolhuis het ʼn finale hofbevel teen die joernalis Izak du Plessis bekom waarmee Du Plessis verbied word om enige verdere lasterlike bewerings teen Bolhuis te maak.

Sou Du Plessis nou die hofbevel oortree, kan hy summier weer in hegtenis geneem word. Die balju het die finale bevel Woensdagoggend op hom beteken.

Du Plessis, die joernalis wat die nuuswebwerf Nuuspod bedryf, het vroeër twee video’s op sy YouTube-kanaal en webwerf geplaas waarin mense beweer dat hulle Bolhuis vir werk betaal het wat hy nie na behore gedoen het nie.

Bolhuis het aangevoer die betrokke video’s is lasterlik en gegrond op valse inligting en het geëis dat Du Plessis dit verwyder. Du Plessis het geweier en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy is sowat drie weke gelede in Mbombela gearresteer en het ʼn nag in die selle deurgebring voordat hy in die Johannesburgse streekshof verskyn het.

Daar is die saak teen hom van die rol verwyder en Du Plessis was ʼn vry man.

Dinsdag het die hof egter ʼn finale bevel teen Du Plessis toegestaan wat bepaal dat hy geen verdere video’s, stemboodskappe of plasings wat spesifiek met die twee video’s verband hou, mag plaas nie. Du Plessis het nie self die hofverrigtinge bygewoon nie.

Hy het vroeër aangevoer dat hy nie die aanvanklike interdik teen hom ontvang het nie, maar Chenique Opperman, Bolhuis se regsverteenwoordiger, sê die hof het bevind behoorlike betekening het wel plaasgevind.

Die joernalis Izak du Plessis. (Foto: Facebook)

Du Plessis het ook beweer die verkeerde e-posadres is gebruik om die bevel elektronies op hom te beteken. Die e-posadres wat gebruik is, is die een wat op sy Nuuspod-webwerf aangedui word. Du Plessis het in ʼn onderhoud glo ook na die inhoud van die bevel verwys, terwyl hy terselfdertyd aangevoer het dat hy dit nie ontvang het nie.

Opperman sê op grond van Du Plessis se optrede sedert die betekening van die tussentydse bevel – hy het voortgegaan om in ander plasings opnuut na die video’s en die inhoud daarvan te verwys – het die hof gelas dat Du Plessis geen verdere lasterlike bewerings oor Bolhuis wat enigiets met die video’s te doen het, mag maak nie.

Du Plessis het die betrokke video’s vroeër al privaat gemaak, wat beteken gewone lede van die publiek het nie toegang daartoe nie. Die hof het egter beveel dat dit permanent verwyder moet word.

Volgens Opperman is dit oënskynlik nog nie gedoen nie.

Bolhuis van Specialised Security Services sê dit was belangrik om die bevel te bekom.

“Hou in gedagte dat ons uiters bekend is in ons veld. Boewe kom daarmee weg om ons in ʼn slegte lig te stel, in ʼn onware lig deur fopnuus en deur te lieg en te bedrieg en die aandag van hulself af te trek. Hulle maak dit ook vir ons moeilik om misdaad te identifiseer en te pak,” het Bolhuis in reaksie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henk ·

Ek probeer elke oggend Nuuspod te kyk & geniet dit geweldig. Probeer gerus. Persoonlik dink ek Bolhuis teiken die verkeerde ou – maar dis maar net my opinie.

VaalDonkie ·

Gee vir my R500 dan bel ek die polisiestasie en vra hoe dit met jou saak gaan.

honeybee ·

Ag Izak los tog maar die ou uit anders gaan ons elke dag sy gesig in die koerant sien. Sterkte

Rerig ·

hoekom hoor ons net van die dinge wat Mike verkeerd doen en nie al die goeie werk wat hy doen nie. Dalk moes Izak eerder dit op sy podcast gesit het!

Nie Verbaas ·

Ons hoor van goeie werk maar sal ons hoor van slegte werk? Kan egter nie oordeel nie en vra net. Ek het egter baie respek vir hom oor wat hy vir diere doen.

james ·

vals net die teenoorgestelde is waar, dit is die eerste en enigste negatiewe publisiteit wat ek oor hom gesien/gehoor het

Cobus ·

As mens so vêr gaan is daar nie dalk iets wel verkeerd nie?
Bolhuis dink ook hy is bo die gereg!

Miena ·

Ag blah blah blah!!! Bolhuis praat soms net so baie soos wat sy van kan be-aam , ja lees weer sy van oor en oor en nog n keer oor. En dan weer- waar is vryheid van spraak- om publiek in te lig vanaf die media se kant? As hulle dan nie beskerm kan word deur dit nie – hoe moet die media hul werk doen?

Stoffeltjie ·

Jene mense, daar is mos belangriker goed om aan aandag te gee as aan ‘n hesksejag tussen die twee.

Rina ·

As ek al die neerhalende kommentare hier lees dan kan ek sien hoe Mike se werk en menswees afgekraak word. Hierdie Izak is besig met n smeerveldtog en ek hoop hy sien sy gat daaroor. Mike doen goeie werk en ek het hoë agting vir hom.

Leon ·

Arme Isak hy praat maar net die waarheid , hierdie man het te veel mwg in die polisie hier is iewers groot fout ?????????

VaalDonkie ·

Niemand weet nog of die ou die waarheid praat of spekskiet nie. Ons weet net Mike Bolhuis het ‘n saak van naamskending gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.