Borgtog toegestaan, toe verdwyn moordbeskuldigde

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Zimbabwiese burger wat daarvan aangekla word dat hy die Johannesburgse restauranteienaar Roberto da Silva in Oktober 2018 doodgeskiet het, word gesoek.

Da Silva het die Lusitano-restaurant in Regents Park, Johannesburg, besit.

Nhlanhla Ngwenya is in Januarie vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg op borgtog vrygelaat, nadat hy in 2018 borgtog geweier is. Die oorledene se familie is glo nie van sy borgtog in kennis gestel nie en moes boonop hoor dat die klag van moord teen hom teruggetrek is, nadat die dossier glo verdwyn het.

Ingryping deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid het egter verseker dat die klag heringestel word en Ngwenya moes Vrydag weer in die hof verskyn. Hy het egter versuim om op te daag en die hof het sy borgtog finaal verbeurd verklaar.

Volgens die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) weet die staat nie tans waar die beskuldigde is nie.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Ngwenya het onder eienaardige omstandighede borgtog ontvang.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Cindy da Silva, Roberto se vrou. Da Silva het die eenheid om hulp genader, nadat sy vroeër vanjaar gehoor het die beskuldigde is op borgtog vrygelaat en dat die NVG hom ook nie meer vir moord gaan vervolg nie omdat die dossier glo weggeraak het.

Ngwenya is in Desember 2020 in hegtenis geneem en die NVG het aanvanklik aangedui dat hulle die beskuldigde gaan vervolg op ’n klag van moord en drie klagte van gewapende roof.

“Die NVG het Da Silva egter aan die begin van die jaar in kennis gestel dat Ngwenya nie meer van moord aangekla gaan word nie, ondanks beeldmateriaal wat daarop dui dat Ngwenya al twee keer vantevore by die restaurant ingebreek en kontant geroof het. Tydens die derde rooftog is Roberto doodgeskiet,” sê Vorster.

Dit het toe ook aan die lig gekom dat Ngwenya intussen ’n appѐl teen die borgtoguitspraak ingedien het en in Januarie op borgtog vrygelaat is. Vorster sê die NVG het die familie geensins hiervan in kennis gestel nie.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid het aangedring op ’n ondersoek na hoe Ngwenya, gegewe die feit dat hy ’n onwettige immigrant was wat van moord aangekla word, enigsins borgtog gekry het.”

Volgens Vorster het dit uit hierdie ondersoek geblyk dat die beskuldigde gedurende die feestyd in Desember verlede jaar ’n borgtogappèl ingedien het en op grond van “nuwe feite” op borgtog vrygelaat is in Januarie vanjaar.

Die eenheid het toe vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng (DOV) gerig dat die klag van moord heringestel moet word en het ook bewysmateriaal aan die NVG beskikbaar gestel. Daarna het die NVG weer besluit om vervolging in te stel en is die dossier ook sommer “gevind”.

“Ons sal nou vir Cindy bystaan om toe te sien dat die polisie die nodige stappe doen om te sorg dat die beskuldigde opgespoor (en, indien nodig, uitgelewer) word sodat die verhoor kan voortgaan. Die NVG se onbeholpe hantering van hierdie saak het van meet af aan probleme veroorsaak. As die privaatvervolgingseenheid nie by die saak betrokke geraak het nie, sou al die klagte teen die beskuldigde heeltemal verdwyn het. Watter boodskap stuur dit uit aan die slagoffer se familie – dat hulle nie geregtigheid verdien nie? Die NVG en polisie se taak is om die gemeenskap te beskerm en toe te sien dat skuldiges aan die pen ry, maar ons sien al hoe meer hoe hierdie verpligtinge versaak word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

WILLEM ·

HOE KAN ‘N ONWETTIGE IMMIGRANT WAT MOORD PLEEG BORGTOG KRY – HY GAAN MOS WEG HARDLOOP. DIS GRUWELIKE EN SWAK OORDEEL VAN DIE HOF!!

Samuel ·

Hoe kan ‘n mens enigsins vertroue in die polisie of die NVG hê? Dit is skokkend dat ‘n dossier eenvoudig net kan “verdwyn” en wanneer druk op die polisie en NVG geplaas word, duik hierdie dossier uit die bloute op? Dit laat my twyfel aan die SAPD en NVG beamptes se integriteit. Pffft

Frank ·

Die landros MOET aanspreeklik gehou word. En ondersoek word. Hierdie ding gebeur net te gereeld

Gaitsigubib ·

Ja Frank ek hou van jou kommentaar. Die persoon moet ondersoek word, afgedank word en dan verhoor en gevonnis word. Ek hou daarvan as daar nie al rondom die wortel van die probleem gepraat word nie.

Gaitsigubib ·

Frank ek wil graag met jou saamstem maar ek word ywerig geblok. In elk geval gewoonlik is jou kommentaar in die kol.

FJ ·

Sou dit nou nie heerlik wees as mens kon sê die beskuldigde moet Vrydag om 10:00 in die hof wees om toegesluit te word. OF hy OF die een wat borg toegestaan het maar een van die 2 gaan toegesluit word. Wonder of hul dan harder na die skurk gaan soek?

Leon ·

Dit is tog baie duidelik dat hier growwe onreelmatighede plaas gevind het .
Dit blyk baie duidelik dat Zimbabwiers by baie misdade betrokke is en dat dit groei.
Die rede ons het nie enige aard of vorm van grens beheer nie , en dit wat daar is , is korrip.
Julle moet luister na Dawie Roodt , SA sit op n BOM !!!!!!!
Van die grootste oorsake van misdaad is omdat daar nie grense is nie en die wat daar is Korrip is.
Wat is lekkerder as om in SA misdade te kom pleeg en jy hardloop net oor die grens en jy sal nooit gevang word nie.

Reinald ·

Eers kry die dossier voete en nou die aangeklaagde! Ek kan nie besluit of ek moet lag of huil nie.

Peter ·

The story of a government who has failed its citizens horrendously, banana republic par excellence

Talitha ·

Watter snert om borgtog aan moordenaars toe te staan. ?????

Harley Davidson ·

Piesang Republiek waar jy kan maak wat jy wil as jy geld het.

Snuffelgids ·

Sou graag wil weet hoeveel die borgtog was en watse voorwaardes gestel was. Ek stem, die landros wat dit toegestaan het, moet ook aan die pen ry

Roek ·

‘n Mens kan nie anders as om te dink hier is beslis iets verkeerd nie , geld wat stom is maak reguit wat krom is !

Nierkie ·

‘n Ongedokumenteerde uitlander sal nie op borgtog vrygelaat word nie, As ‘n dossier weg raak, vir ‘n moord saak nogal, kan die saak nie net uitgegooi word nie, ‘n nuwe dossier moet weer saamgestel word. Die storie klink net nie reg nie. Indien dit wel die geval is moet ‘n paar koppe rol.

TO ·

Wat is nuut, my 24 jarige seun ook koelbloedig doodgeskiet, al 14 jaar gelede, nou moet ek hoor jammer dossier is weg. Maar die superintendent het gereken ek kyk te veel TV toe ek vir hulle meer as 80 bladsye feite gee. Julle is pateties verby, te useless om julle werk te doen, geen trots, nee dit gaan oor hoeveel ons kan pocket en hoeveel ons kan opvreet op een dag

Elaine Krige ·

Hallo Tracey.
Ai ek is jammer om te hoor! As jy nie omgee nie, sal ons graag ‘n berig hieroor wil doen.
Sal jy miskien jou besonderhede na [email protected] stuur?
Ons hoor graag van jou.

Groete
Elaine

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.