Borgtog van R50 000 vir ‘pensioenaris’ Mapisa-Nqakula

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedrog, hof, Baleka Mbete, Charles Nqakula, ANC, Nasionale Vergadering, Pretoria, speaker

Nosiviwe Mapisa-Nqakula. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, hou vol die staat se aanklagte van onder meer bedrog teen haar het geen meriete nie.

Landdros Anna Oosthuizen het Donderdag  in die landdroshof in Pretoria borgtog ten bedrae van R50 000 aan Mapisa-Nqakula toegestaan. Die staat het nie die voormalige speaker se borgtogaansoek teengestaan nie.

Die staat het ook aan die hof gesê dat hy verwag om ʼn tweede verdagte in die saak binnekort aan te keer. Die verwagte inhegtenisneming spruit glo uit die vroeëre deursoeking van Mapisa-Nqakula se huis en sal na verwagting binne die volgende drie weke volg.

Die hof het die staat se versoek, dat die bedrag vir borgtog op R100 000 vasgestel word, van die hand gewys. Mapisa-Nqakula se regspan het betoog die bedrag is net te veel en dat sy nou ʼn pensioenaris is.

Oosthuizen was tevrede dat Mapisa-Nqakula nie ʼn vlugrisiko is nie. Sy het egter gelas dat Mapisa-Nqakula haar paspoort as deel van haar borgtogvoorwaardes moet inhandig.

Mapisa-Nqakula het kort voor 12:00, geklee in ʼn geel-en-blou uitrusting, in ʼn volgepakte hofsaal verskyn.

Die voormalige speaker het vroegoggend eers by die Lyttelton-polisiestasie aangemeld waarna ʼn konvooi haar na die hof gebring het.

Sy is tot in die beskuldigdebank vergesel van veiligheidswagte. Hier het sy kort-kort ʼn slukkie water geneem en die hofverrigtinge aandagtig gevolg. In die openbare galery het haar man, Charles Nqakula, langs Baleka Mbete, ook ʼn voormalige speaker, gesit.

Mapisa-Nqakula staan tereg op 12 aanklagte van bedrog en een van geldwassery.

Adv. Graham Kerr-Phillips, namens Mapisa-Nqakula, het haar eedsverklaring hardop in die hof voorgelees.

Hiervolgens het sy onderneem om nie met die saak of enige getuies in te meng nie. Verder het sy verwys na die haglike toestande in die land se tronke en dat daar nie behoorlike voorsorg getref word vir gevangenes wat mekaar aanval nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedrog, hof, Baleka Mbete, Charles Nqakula, ANC, Nasionale Vergadering, Pretoria, speaker

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, het Donderdag in ‘n volgepakte hof verskyn. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Daar is ook nie behoorlike mediese sorg beskikbaar nie. Sy ly onder meer aan hoë bloeddruk, het Mapsia-Nqakula aangevoer.

Verder het sy aangedui dat sy vir die doel van haar borgtogaansoek gebruik sal maak van haar swygreg en haar verweer tydens die verhoor sal stel.

Mapisa-Nqakula het ook aan die hof gesê sy is nie iemand wat ʼn geneigdheid tot misdaad het nie en ook nie iemand wat omkoopgeld sal aanvaar nie.

Sy het ook aangedui dat sy haar dringende hofaansoek in die hooggeregshof in Pretoria, om haar inhegtenisneming te stuit, nou laat vaar het. Dié hof het reeds Dinsdag haar dringende aansoek vir ʼn tydelik interdik teen haar inhegtenisneming van die hand gewys.

Mapisa-Nqakula het die volgende dag haar bedankingsbrief by die waarnemende speaker, Lechesa Tsenoli, ingedien, maar dit duidelik gestel dat haar bedanking “geensins ʼn aanduiding van skulderkenning” is nie.

  • Luidens hofstukke sou Mapisa-Nqakula die volgende beweerde onregmatige betalings ontvang het: R300 000 en R400 000 in Desember 2016; R200 000 in Julie 2017; R150 000 in November 2017; R250 000 in Augustus 2018; drie betalings van R150 000 in September 2018; R300 000 en ʼn pruik in Februarie 2019; R400 000 in April 2019 en R100 000 in Julie 2019. Mapisa-Nqakula het glo ook R2 miljoen in September 2018 aangevra, maar dit is nie betaal nie.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, bedrog, hof, Baleka Mbete, Charles Nqakula, ANC, Nasionale Vergadering, Pretoria, speaker

In die openbare galery het Mapisa-Nqakula se man, Charles Nqakula, langs Baleka Mbete, ook ʼn voormalige speaker, gesit. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jessey ·

Ai toggie, gister bedank en vandag brandarm. Die somme van als wat genoem is beloop R 2 550 000.00 dit gaan darem maar vreeslik sleg veral as mens nog na die “Golden Handshakes” en Politiese pensioene kyk. Waar sal ons hulp tog vandaan kom

JohanR ·

Lyk altyd diep beswaard asof sy enige oomblik in trane gaan uitbars! Eeerste stap is gedoen nou wag ons vir 2029 vir die finale stap!

Mariana ·

Ai die mense laat mens lag. Sy kry meer as genoeg geld, het ook baie gekry. Nou skielik is sy ‘n pensionaris………ja een met baie om van te lewe. Sy gaan nou eers lekker lewe.

Republikein in die Wes Kaap ·

En eers nou kla sy oor die toestande in die tronk.

Otto ·

Interessant dat R100 000 se borg te hoog is, maar daar is mees as genoeg geld om ‘n hele konvooi en lyfwagte te bekostig.

Aai ·

Sy in die sop die klaer is die maatskappy wat haar betaal het eina.

Anel ·

As jy bedank kry jy geen maandelikse pensioen nie. Sy is ‘n misdadiger! En hoe kan sy sê die tronke is haglik! Wat het sy verwag? ‘n Vyfster hotel? Wat van gewone mense wat tronk toe gaan? Sy kan haar hoën bloeddrukpille mos saam vat? En sy en haar gespuis wil die nasionale gesondheidsorg op ons afdwing? Sy hoort in die tronk net soos ander van haar kammerade!!!

Danie ·

Dis tyd om rekenskap vir al daai wapens wat vermis geraak het ook te gee.Hoe jammer kry ek haar nou.

Wendy ·

Dink julle regtig dt is wat gbeur het MSM – alles net n rookskerm vd ANC wat nou kwansuis net voor verkiesing kamtig korrupsie hokslaan vir stemme.

koos10 ·

Die toestand van die tronke is ‘n direkte gevolg van die regering, waarvan sy en haar man vir jare deel was, se mislukkings en wanbestuur. So van nou af moet alle beskuldigdes die redes aanvoer vir borgtog, want dit word deur die hof aanvaar!

Martie ·

Sy kan beslis nie ‘n pensionaris wees nie want sy het bedank maar voor dit is sy by misdaad betrek. Buitendien kry jy nie sommer pensioen nie jy moet aansoek doen daarvoor tensy sy al lankal ‘n pensionaris is wat ook onwettig nog vir die staat as speaker gewerk het.
Natuurlik is die tronke vieslik en die dade wat daar gebeur erger as buite maar dis mos haar minister maatjie se werk om daarna te kyk. En vir haar hoe bloeddruk, seker kolesterol ook want goed uitgevreet, daar is hospitale in die tronk, geen probleem. Sy het dan gewerk met haar ” siekte”.

Cassie Carstens ·

Hierdie vrou is nie so onskuldig soos wat sy voorgegee het nie. En sy was minister van DKD en moes die tronke verbeter het, maar onder haar het die groot verval begin. Nou is sy bang om daarheen te gaan? Al het sy volgens haar nie omkoopgeld gevra nie, hoekom het sy dit dan gevat toe dit aangebied is? Hier maak iets nie sin nie.

mattk ·

Sy gaan ook ‘n dokter kry wat heer bloeddruk as terminaal gaan klassifiseer en dan gaan sy, net soos van haar kaderkollegas, tronkstraf vryspring.

kaplyn ·

Ek glo glad nie die storie van sy is ‘n pensionaris met min geld nie. Ek is seker dat die belastingbetaler gaan vir die borgtog betaal en het ook betaal vir die helse konvooi waarmee sy hof toe vervoer is. Die belastingbetaler sal ook seker vir al die hofkoste moet instaan en heel moontlik ook vir die boete AS sy gevonnis word. En AS sy in die tronk land (dit is ‘n groot AS) dan sal sy haar daar ook op die belasting betaler se koste in ‘n vyf ster tronksel aangehou word. Haar aansoek om nie inhegtenis geneem te word nie is ook met koste van die hand gewys. Daardie koste sal die belastingbetaler ook seker moet betaal!

Leeubekkie ·

So waar is al haar miljiene nou? Afslag vir pensioenaris! Lees ek reg?
Wil sy in ‘n 5-stêr hotel gehuisves word om haar tronkstraf uit te dien? Genugtig. Waarom matig lede van ons regering hulself so aan? Maak my siek….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.