Borgtog vir 10 van polisie geweier

Polisielede tydens die klopjag in die Johannesburgse middestad. (Foto: Bhekikhaya Mabaso/African News AgencyANA)

Landdros Lucas van der Schyff het Maandag tien polisielede wat van ongerymdhede ná verlede week se klopjagte in die Johannesburgse middestad beskuldig word, terug tronk toe gestuur.

Die beamptes is verlede week in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld gevra het, onwettige verkopers oor die beplande klopjagte ingelig het en van die goedere waarop beslag gelê is, verkoop het.

Die beskuldigdes, Marubini Aubrey Raphebele, Thulane Philemon Bopela, Petrose Mosiuoa, Samuel Motaung, Timothy Piet Mohlala, Zandile Rachel Nebe, Makhangeni Kenneth Makhubele, Joseph Morethebe Tsotetsi, Molate Elvis Molae en Samuel Sekopana, het almal vandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte wat afpersing, diefstal, korrupsie en regsverydeling insluit.

Voordat die saak aangehoor is, is eers beraadslaag nadat een van die beskuldigdes beswaar gemaak het omdat die media die verrigtinge wou afneem. Hy het aangevoer dit sal sy reputasie onherstelbare skade berokken.

Die landdros wou egter nie bes gee nie.

“Dit kan in die openbare belang wees dat die verrigtinge verfilm word. In dié geval weeg die openbare belang swaarder as sy reg op privaatheid,” het Van der Schyff gesê.

Die beskuldigdes het meestal kalm voor hulle uitgestaar en weinig emosie getoon. Slegs een van die beskuldigdes het sy gesig probeer bedek om die kameras te vermy.

Die landdros het die groep se aansoek om borgtog van die hand gewys.

Vyf van hulle sal Dinsdag weer in die hof verskyn sodat hulle huisadresse bevestig kan word. Die saak teen die res is tot Maandag uitgestel.

Die groep polisielede is verlede week, saam met honderde buitelanders wat daarvan verdink word dat hulle onwettig in die land is, aangekeer.

Die buitelanders word in dié stadium by die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie aangehou waar hulle besonderhede verwerk word.

ʼn Groep buitelanders het buite die landdroshof betoog en gekla dat diegene wat aangehou word, nie toegelaat word om besoekers te ontvang nie, dat hulle bitter min kos kry en in sommige gevalle glo selfs in polisieaanhouding aangerand is.

Die leier van die African Civil Revolutionary Movement, Teenage Kumbe, het gesê hulle betoog teen die onregmatige aanhouding van mense wat wettig in die land is.

“Ons migrante het die reg op lewe, ʼn reg op veiligheid en vryheid van spraak.”

Die hof het egter beveel dat diegene wat nié kan bewys dat hulle wettig in die land is nie, gedeporteer moet word. Hulle is sedertdien na die Lindela-repatriasiesentrum gestuur, waar hulle 30 dae lank gaan bly voordat hulle na hulle tuislande teruggestuur gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Skoolgeld ·

Dis ñ skande dat dit nie ñ ander landros kon wees wat dieselfde uitspraak gemaak het nie. Die beskuldigdes se vanne spreek vanself! Dankie MM

Karolis ·

Hierdeur kan mens sien watter deel van die Sapd veroorsaak die negatiewe siening van die publiek teenoor die Sapd.

Magda ·

Sarel – ja hulle sal seker binnekort terug wees in SA, maar tenminste is dit n begin om te wys dat die Onwettige immigrante nie ent toegelaat sal word nie. Kyk maar die Mexikaanse en USA grens (Border Wars) dan sal jy sien hoe daai mense sukkel om immigrante uit te hou. Hulle word gevang terug gestuur en so gaan dit 24 uur 365 dae per jaar elke dag. Ons moet net volstaan en hulle bly terug stuur (op ons onkoste) maar as hulle wil terug kom op hulle onkoste. en so loop die sirkel maar. Tenminste doen die SAPD iets en daarvoor is ons dankbaar. Goeie begin hoop net dit is volhoudbaar.

SjN ·

Landros v d Schyff het bewys dat die korrupte Sapd lede en immigrante nie onaantasbaar en verhewe bo die wet is nie. Hul gaan seker appeleer.

Stefan ·

Ja kyk die Afrikane se name, nie een is ware Suid Afrikaner nie. Ek moet daagliks my twee broers wat polisie beamptes is verdedig in die gemeenskap wat reken polisie is te sleg of dit of dat. Hulle doen hulle bes, onder omstandighede. Word geviktimiseer op daaglikse basis omdat hulle nie Afrikaan maar Afrikaner is. Wet en orde handhaaf hulle beslis tot hul perke en ek sal steeds baklei vir hulle. Daar is goeie polisie manne en vroue daar buite. Hulle is net min gesaai. Ek salueer die van julle wat nie deur die wetteloses onder gekry word nie. Saluut…

Frik ·

Teenage Kumbe moet ook teruggestuur word na sy eie land. Dis nie sy land en dan wil hy hier betoog. Ons het nie sulke mense in die land nodig nie, terwyl ons met ongeveer 30% werkloosheid sit en dan nog vry medies en skool aan hulle moet toestaan. Sit hom asb die land uit.

Hanna Hoekom ·

Kyk net die name en vanne… Geloofwaardigheid voor kundigheid! SAPD kan opreg trots op sy transformasie teikens wees. Wat n sirkus! Baie dankie aan die regter, wens daar was meer van sy soort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.