Borgtog vir vermeende ontvoerders

Tshepo Skhosana (links) en Carlton De-Ameira (Foto verskaf deur die Valke in Mpumalanga)

Tshepo Skhosana (30) van Suid-Afrika en Carlton De-Ameira (29) van Mosambiek het Donderdag in die landdroshof in Witbank verskyn.

Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, sê die twee is vrygelaat op borgtog.

“Die saak is tot 9 April 2024 uitgestel vir verdere ondersoek.”

Maroela Media het vroeër berig die twee mans is in hegtenis geneem ná hulle ʼn man en vrou ontvoer het. Die twee het daarna motorbande met die losprysgeld gekoop.

Daar is vroeër aangevoer dat albei van Mosambiek afkomstig is.

ʼn Man (37) en vrou (34) was Maandag in ʼn voertuig naby ʼn geleentheid waar stemme vir die komende verkiesing in Witbank gewerf is, toe drie mans hulle glo genader het.

Volgens Sekgotodi het die verdagtes ʼn vuurwapen op die man en vrou gerig en hulle gedwing om agter in die motor te klim.

“Hulle is geblinddoek en daar is met hulle weggery. Die verdagtes het op ʼn onbekende plek stilgehou en die slagoffers in ʼn ander voertuig ingedwing. Hulle het die slagoffers se voertuig agtergelaat en met hulle na ʼn tweede onbekende adres gery.”

By hul aankoms het die verdagtes glo die twee slagoffers gedwing om hul familie te kontak sodat geld vir hul vrylating elektronies oorgeplaas kan word.

Die man, wat sy vrou se Capitec-bankkaart by hom gehad het, is ook gedwing om R10 000 te onttrek. Met die vrou se bankkaart is daar motorbande by ʼn handelaar in Witbank gekoop.

ʼn Polisietaakspan, bestaande uit die Valke op Middelburg, asook die polisie se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, teenontvoeringseenheid en misdaadintelligensie is ingespan om die man en vrou op te spoor.

Volgens Sekgotodi het die span inligting opgevolg wat hulle na ʼn huis in Kwamhlanga, sowat 100 km van Witbank, gelei het. Die man en vrou is daar gevind en twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Die soektog na die derde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.