‘Ontvoerders’ koop motorbande met losprysgeld

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Twee verdagtes wat ʼn man en vrou ontvoer het terwyl hulle Maandag by ʼn stemwerwingsveldtog was en daarna motorbande met die losprysgeld gekoop het, is deur die Mpumalanga-polisie in hegtenis geneem.

Luidens ʼn polisieverklaring is die twee verdagtes, Mosambiekers, in Kwamhlanga aangekeer. Al twee sal na verwagting Vrydag in die Witbank-landdroshof in eMalahleni op aanklag van ontvoering verskyn.

Volgens kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, was die man (37) en vrou (34) in ʼn voertuig naby ʼn geleentheid waar stemme vir die komende verkiesing in eMalahleni gewerf is, toe drie mans hulle glo genader het.

Volgens Sekgotodi het die verdagtes ʼn vuurwapen op die man en vrou gerig en hulle gedwing om agter in die motor te klim.

“Hulle is geblinddoek en daar is met hulle weggery. Die verdagtes het op ʼn onbekende plek stilgehou en die slagoffers in ʼn ander voertuig ingedwing. Hulle het die slagoffers se voertuig agtergelaat en met hulle na ʼn tweede onbekende adres gery,” sê Sekgotodi.

By hul aankoms het die verdagtes glo die twee slagoffers gedwing om hul familie te kontak sodat geld vir hul vrylating elektronies oorgeplaas kan word.

Die man, wat sy vrou se Capitec-bankkaart by hom gehad het, is ook gedwing om R10 000 te onttrek. Met die vrou se bankkaart is daar motorbande by ʼn handelaar in eMalahleni gekoop.

ʼn Polisietaakspan, bestaande uit die Valke op Middelburg, asook die polisie se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, teenontvoeringseenheid en misdaadintelligensie is ingespan om die man en vrou op te spoor.

Volgens Sekgotodi het die span inligting opgevolg wat hulle na ʼn huis in Kwamhlanga, sowat ʼn 100 km van eMalahleni, gelei het. Die man en vrou is daar gevind en twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Die soektog na die derde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Dit kom daarvan as elke jan rap en sy maat die land onwettig mag binne kom.

TO ·

Lekker in SA doen jou ding en verdwyn en gaan sit rustig in jou land tot ‘n volgende keer

Leeubekkie ·

Deporteer hulle na ‘n Mosambiekse tronk. Waarom moet SA se belastingbetalers vir hul ” free board and lodging” verskaf?!

Sobymykoolkop ·

Die buitelanders gesien die jagseisoen is oop op die SA burgers. Hulle jag en moor nou al meer as die van SA self.

Goldy ·

Dis omdat ons net ons land oorgegee het sonder sterk onderhandelinge, ons het ons instellings laad de-Christelik sonder om n finger te verroer, en nou laat ons als maar net toe. Waarom sal opportuniste dan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.