Brand by die Paarl onder beheer

Die brand op Paarlberg het vroeg Donderdagaand ontstaan. Foto: Facebook

Die groot span brandbestryders wat deurnag teen die brand op Paarlberg geswoeg het, kon dit vroeg Vrydagoggend onder beheer kry en daarin slaag om die gebied te beveilig.

Drakenstein-munisipaliteit se brandweer het Vrydagoggend gesê dis onnodig om die omgewing of huise te ontruim nadat die brand Donderdagaand omstreeks 18:00 in die berg bo die Paarl ontstaan en aanvanklik buite beheer gewoed het.

Ná aggressiewe brandbestryding te midde van ʼn sterk wind vir die grootste deel van die aand en tot laat in die nag, het twee helikopters vroeg Vrydagoggend die gebied begin waterbom om seker te maak die brand is ten volle geblus.

Die plaaslike en nog twee brandweerdienste het deurnag teen die vlamme geswoeg. Foto: Facebook

Dié optrede het brandpunte ingesluit wat nog oor ʼn groot gebied plantegroei aan die noordelike hang van die berg bo Rhebokskloof voorgekom het, sê Riana Geldenhuys, woordvoerder van Drakenstein-munisipaliteit.

Twee grondspanne van 12 lede elk wat deur die Kaapse Wynland-munisipaliteit gekontrakteer is, help Vrydagoggend met opruiming terwyl Drakenstein se munisipale brandweer steeds die gebied patrolleer om te verseker die brand vlam nie op nie.

Geldenhuys sê niemand is beseer in die brand waarvan die oorsaak nog nie vasgestel kon word nie, maar die polisie stel ondersoek in.

Die plaaslike munisipaliteit bedank die distriksmunisipaliteit, Stellenbosch se brandweer en die Drakenstein-plaaswag asook private organisasies wat gehelp het om die brand onder beheer te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Mense braai en drink gereeld bo op paarl berg… Dalk vergeet om di vuur dood te gooi voor hulle huistoe is

Shrek ·

Of sekere mense wat al gedreig het om die land onregeerbaar te maak en te verwoes het ‘per ongeluk’ ‘n stompie laat val..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.