Brand by substasie laat talle mense sonder krag

Die beheerkamer en een transformator is erg deur die brand beskadig. (Foto: Twitter / City Power)

ʼn Brand by die Eldoradopark-substasie in Soweto Vrydagoggend het talle inwoners sonder krag gelaat. Verskeie ander substasies het ook weens dié brand uitgeskop.

Spanne van die Johannesburgse kragvoorsiener City Power assesseer tans die omvang van die skade. ʼn Ondersoek na die oorsaak van die brand én kosteberekening sal deel van die assessering vorm.

“Die span het reeds ʼn projekplan met die beoogde werk voltooi en met kontrakteurs onderhandel. Toerusting wat nodig is om herstelwerk te doen is ook reeds bestel,” het City Power Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Een transformator is deur die vlamme beskadig, terwyl die ander transformator deur die hitte van die brand beïnvloed is. Die beheerkamer is ook erg beskadig.

ʼn Onderneming wat in die skoonmaak van toerusting spesialiseer, is na die toneel ontbied om die gebrande items skoon te maak sodat spanne skade makliker kan bepaal en met herstelwerk begin.

Eldoradopark substasie

City Power assesseer tans die omvang van die skade. (Foto: Twitter / City Power)

Die Orlando-, Fordsburg-, Pennyville-, Mayfair-, Mondeor-, Nirvana-, Nancefield- en Eikenhof-substasie het ook weens die brand uitgeskop. Byna al dié substasies is intussen weer in werking, behalwe Nancefield en Nirvana.

City Power hoop dat dit vandag nog ten volle herstel sal wees nadat transmissielyne wat deur koolstofrook beïnvloed is, skoongemaak is.

Dit is nog nie duidelik wanneer die Eldoradopark-substasie weer sal werk nie.

“City Power is bewus van die uitwerking wat die brand op die inwoners van Eldoradopark en die omliggende gebiede het en ons vra om verskoning vir die ongerief. Ons sal egter alles in ons vermoë doen om die substasie te herstel en kragtoevoer so gou as menslik moontlik te herstel.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.