Brand in Jhb-tonnel geblus, herstel begin

City Power se spanne kon toe ook teen Dinsdagmiddag in die tonnels inbeweeg (Foto: Verskaf)

ʼn Brand wat Maandagoggend in tonnels onder Ntemi Pilusastraat, Johannesburg, uitgebreek het, is ʼn dag later geblus.

City Power se spanne kon toe ook teen Dinsdagmiddag in die tonnels inbeweeg nadat hulle die groen lig van die Johannesburgse nooddienste gekry het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn kragonderbreking het Maandag omstreeks 08:00 plaasgevind nadat die brand in die tonnels uitgebreek het.

Spanne van City Power kon Maandag nie toegang kry tot die tonnels nie weens die erge hitte van die brand ondergrond wat ʼn veiligheidsrisiko vir die spanne ingehou het.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê nadat spanne die tonnels kon betree het, kon hulle die skade van die brand eindelik bepaal.

“Die brand het meeste van die infrastruktuur in die tonnels beskadig, veral die kragkabels wat van die Fordsburg-substasie en die sentrale substasie af kom,” het Mangena gesê.

“Ons het daarin geslaag om die kragtoevoer in die meeste van die gebiede wat deur die brand geraak is, te herstel, met minstens 90% daarvan wat teen Dinsdagmiddag herstel is.”

Gebiede wat steeds deur kragonderbrekings geraak word, is Selby, dele van Booysens, Westgate, verskeie strate in die middestad, insluitend Ntemi Piliso-, Anderson-, Harrison-, Hoof-, Kommissaris- Pritchard-, Mark-, Fredericks-, Grahamstown-, Fox- en Anderson-Wes-straat.

“Hierdie gebiede se krag sal afbly totdat al die beskadigde infrastruktuur herstel is.”

Die herstelspanne gaan Woensdag met herstelwerk voortgaan en sal dan volledige inligting rondom die beskadigde infrastruktuur kan gee.

Die oorsaak van die brand word steeds ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.