Brand op Du Toitskloofpas woed voort

Brandbestrydingsoperasies sal Vrydag deurnag volgehou word. (Foto: Twitter)

Brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit spook steeds om ʼn brand in die omgewing van die Du Toitskloofpas in die Wes-Kaap in bedwang te bring.

Die Hugenote-tonnel op die N1-hoofweg was aanvanklik weens die brand gesluit, maar is later weer vir verkeer oopgestel.

“In dié stadium word alle hulpbronne aangewend om die brand in bedwang te bring en plase te beskerm. CapeNature, asook die Brandbestrydingsvereniging, werk nou saam met grondeienaars om skade aan eiendom te help voorkom,” het die munisipaliteit Vrydagmiddag gesê.

ʼn Sterk wind bemoeilik brandbestryders se taak. (Foto: NCC Wildfires/Twitter)

ʼn Sterk wind bemoeilik brandbestryders se taak. ʼn Helikopter kon eers vanmiddag, nadat die wind effens bedaar het, ingespan word.

“Daar is groot kommer dat die wind, wat na verwagting gedurende die nag weer erger gaan begin waai, gaan veroorsaak dat brande in sekere gebiede weer gaan opvlam.”

Brandbestrydingsoperasies gaan egter deurnag volgehou word.

Sodra dit moontlik is, gaan brandbestryders na die Wemmershoek-kant van die N1 oorskuif om die brande daar te blus.

Nagenoeg 3 500 ha fynbos het reeds gebrand.

Daar was tot dusver nog geen opdrag gegee dat inwoners die gebied moet ontruim nie.

Vier helikopters, tientalle brandbestryders en minstens 18 voertuie word gebruik om die vlamme te beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

seker maar nes al die vorige brande, waar bewyse gekry is dat working of fire se mense die brande doelbewus stig sodat hulle dit dan teen betaling kan gaan blus.
sommige mense se gretigheid vir geld het eenvoudig nie perke nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.