Brandwaarskuwings vir dié provinsies uitgereik

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag ’n waarskuwing omtrent uiters hoë brandgevaartoestande in sekere dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap uitgereik.

Dít terwyl kouer weersomstandighede teen Woensdag vir die Drakensberge voorspel word.

Vanetia Phakula, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die moontlikheid van brande in die betrokke provinsies bestaan weens sterk winde en droë lug.

In die Noord-Kaap kan veldbrande vandag in die omgewing van Springbok, Sutherland en Calvinia voorkom.

Wat die Wes-Kaap betref is toestande vir veldbrande gunstig in die omgewing van Beaufort-Wes, Prins Albert, Laingsburg, Oudtshoorn, George, Knysna, Mosselbaai tot sover as Saldanhabaai, Langebaan en Vredendal.

Dít terwyl inwoners van die westelike binneland van die Oos-Kaap op hul hoede vir veldbrande moet wees, sê Phakula.

Die waarskuwings geld net vir vandag met die wind wat na verwagting teen Dinsdag effens in die geraakte gebiede sal bedaar.

Hoewel daar nie uitermatige koue toestande vir sekere dele van die land voorspel word nie, sê Phakula dat die Drakensberge teen Woensdag kouer weersomstandighede kan beleef.

Laer temperature kan moontlik daarna in KwaZulu-Natal en Mpumalanga verwag word terwyl die Wes-Kaap effense hoër temperature vanaf Woensdag sal geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deon ·

Hier in Springbok is dit nou reen seisoen, elke 2de derde dag val daar water

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.