‘Brei Covid-19-Ters in Tuinroete uit’

David Maynier, LUR van finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap (Foto: Courtney Africa, ANA)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-voordele moet in die Tuinroete uitgebrei word.

David Maynier, LUR van finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, het ʼn brief aan die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, gerig waarin versoek word dat die nasionale regering die Ters-voordele uitbrei na ondernemings en werknemers in die Tuinroete en in ander brandpunte vir die duur van die feestyd.

In die brief vra hy ook dat die departement bykomende hulpmaatreëls oorweeg om die betrokke ondernemings te help.

Die plaaslike Wes-Kaapse regering is gekant teen die sluiting van enige van die strande in die provinsie omdat hy meen dit sal ʼn verdere verwoestende uitwerking op die ekonomie hê.

“Die ekonomie steun op die toerismebedryf. Die feestyd sou ʼn sleutelkans vir ekonomiese herstel gewees het met besoekers wat na die provinsie sou stroom,” sê Maynier.

“Daar is na raming 10 000 ondernemings in die Tuinroete. Al hierdie ondernemings sal negatief geraak word deur die bykomende beperkings, waaronder die aandklokreël en sluit van die strande.”

Volgens Maynier is die plaaslike regering daarop ingestel om die verspreiding van Covid-19 te bekamp en steeds die ekonomie oop te hou.

“Die Tuinroete het verlede jaar R62,2 miljard ingebring wat sowat 9,04% van die Wes-Kaapse bruto binnelandse produk en 1,22% van die land se BBP verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peter Pan ·

Ag hou nou op! Hulle gaan nie die reels verander nie! Hulle doen dit aspris… Hou op geld mors op hofsake wat nerens gaan kom nie!!!

Chris dupreez ·

Dit lyk vir my deel van die regering se plan om n suksesvolle DA area te vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.