Brics wil stukrag gee aan plaaslike geldeenhede

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag tydens die Brics-beraad. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die staatshoofde van die (huidige) vyf Brics-lidlande het ooreengekom om hul ministers van finansies en/of sentrale bankgoewerneurs op tuisfront opdrag te gee om die kwessie van plaaslike geldeenhede, betaalinstrumente en -platforms te oorweeg en teen die volgende Brics-beraad daaroor terugvoer te gee.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag op die laaste dag van die 15de Brics-beraad in Johannesburg gesê hy en sy eweknieë het gedurende hul samesprekings oor die afgelope paar dae opgemerk dat daar “wêreldwye momentum” is vir die gebruik van plaaslike geldeenhede en alternatiewe betalingstelsels.

“Ons as Brics is gereed om geleenthede te ondersoek om die stabiliteit, betroubaarheid en regverdigheid van die globale finansiële argitektuur te verbeter.

“Ons moedig multilaterale finansiële instellings en internasionale organisasies aan om ʼn opbouende rol te speel in die vestiging van globale konsensus oor ekonomiese beleid.”

Brasilië se pres. Luiz Inacio da Silva, China se pres. Xi Jinping, pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Indiese eerste minister Narendra Modi en Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika het die afgelope paar dae ook eenparig besluit om uitnodigings aan Argentinië, Egipte, Ethiopië, Iran, Soedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate te rig om hulle by die Brics-blok aan te sluit.

Die Chinese president, Xi Jinping, wat veral ten gunste van ʼn uitbreiding is, sê die blok se uitbreiding van ses lande is “histories”.

“Die uitbreiding is ʼn nuwe beginpunt vir Brics-samewerking. Dit sal nuwe lewe in die Brics-samewerkingsmeganisme blaas en die krag vir wêreldvrede en ontwikkeling verder versterk.”

Ethiopië se premier, Abiy Ahmed, is verheug.

“ʼn Groot oomblik vir Ethiopië aangesien die Brics-leiers ons toetrede tot hierdie groep vandag onderskryf. Ethiopië staan gereed om met almal saam te werk vir ʼn inklusiewe en voorspoedige wêreldorde,” het Abiy ʼn kort ruk gelede op X (voorheen Twitter) gesê.

Iran se senior presidensiële raadgewer, Mohammad Jamshidi, het die nuwe lidmaatskap as “strategiese sukses vir buitelandse beleid” op sosiale media bestempel.

“Permanente lidmaatskap in die groep internasionale opkomende ekonomieë word beskou as ʼn historiese verwikkeling en ʼn strategiese sukses vir die buitelandse beleid van die Islamitiese Republiek,” het Jamshidi gesê.

Die huidige Brics-groepering verteenwoordig 23% van die wêreld se bruto binnelandse produk en 42% van die wêreld se bevolking.

Die uitbreiding van Brics het die agenda van vandeesweek se beraad oorheers en Ramaphosa sê daar is eindelik op “die leidende beginsels, standaarde, kriteria en prosedures van die Brics-uitbreidingsproses” besluit.

Besluite is in konsensus geneem.

Die staatshoofde het ook die sogenaamde Johannesburg II-verklaring aangeneem wat sleutel-Brics-boodskappe oor sake van wêreldwye ekonomiese, finansiële en politieke belang weerspieël.

Ramaphosa sê die verklaring demonstreer die gedeelde waardes en gemeenskaplike belange wat wedersyds voordelige samewerking vir die vyf Brics-lande onderlê.

Ramaphosa het voorts gesê die staatshoofde het die afgelope paar dae (agter geslote deure) hul visie gedeel van Brics as ʼn kampvegter vir die behoeftes en bekommernisse van die mense van die globale suide.

Dit sluit in die behoefte aan voordelige ekonomiese groei, volhoubare ontwikkeling en die hervorming van multilaterale stelsels.

“Ons herhaal ons verbintenis tot inklusiewe multilateralisme en die handhawing van internasionale reg, waaronder die doelwitte en beginsels wat in die Verenigde Nasies se Handves vervat is.

“Deur hierdie beraad het Brics ʼn nuwe hoofstuk aangepak in sy poging om ʼn wêreld te bou wat regverdig is; ʼn wêreld wat ook inklusief en voorspoedig is.”

Brasilië se pres. Luiz Inacio da Silva, China se pres. Xi Jinping, pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Indiese eerste minister Narendra Modi en Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Euodia ·

Wat ‘n tragedie. Sien ek ‘n beweging na Moslemlande? Iran waar Christene verdruk en vervolg word!!

Jan Jacobs ·

Christene wat lbpq teen staan word in die vsa en britanje vervolg

Waarnemer ·

Cheriltjie moet eers die dollars van pala terug gee voor die rand in n ander land se geld eenheid verander word…dalk vsl fid waarde vsn onx geld en gaan hy minder moet terug gee.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die mater bou sy reserwes op. Hy weet wat kom.

Pieter ·

Ek wonder of die ander afgevaardigdes vir Cyril verduidelik het wat is die verskil tussen ‘n Bricsbank en n rusbank.

Hans ·

Hoe raak internasionale sanksie BRICS+ lande, in onderlinge handel met mekaar? Iemand moet hierdie kwessie opklaar. Voer SA landbou bv produkte na land teen wie bv die Vsa sanksies het, hoe sou dit bv AGOA ooreenkoms raak.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA se dae in AGOA is getel. Botter aan beide kant van die sny brood is nie moontlik nie. SA het nie spiere nie. Dit kan beteken dat die Amerikaanse motor firmas hul deure hier gaan sluit. Maar Chinese, Russiese, Indiese en Iranese vervaardigers sal die aanlegte oorneem.

Karoo ·

Ja nee….. die hande is reeds in die geld kas, watch this space :-(.

Karoo ·

Jy sien dit as negatief? Regtig? Die geskiedenis was dat die Staat doen NIKS tensy daar nie ‘n geleentheid is vir groot geld persoonlik is nie. Maar ek sien mense verskil.

annie ·

En die mooie Kaap werk homself toe uit lekker miljoene van die besoekers vir BRICS en opvolgbesoeke vir vakansies. Gelukkig is die ou windvoël Biden se hart darem gestreel deur die talle ingebreekte Afrikaners en DA’s wat by hom kom huil het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons hou ons eerder besig met groot internasionale sport byeenkomste. Groter TV gehore en advertensies.

Theo ·

As die Organisasie van die Petroleumuitvoerlande (OPEC) nie met ‘n petro-geldeenheid vorendag kon kom nie, watter kans het ‘n lukrake klomp geografies en politiese uiteenlopende lande om dit te doen? NUL!

57 Chevy ·

Beraam jou planne ……. voer uit jou planne cr . Die finale besluite en resultate sal tot eer van God wees en nie die van die wereld nie !

miraclealigner ·

Nou wonder ek, as hulle ‘n nuwe geldeenheid wil begin gebruik, waar gaan die geldeenheid se waarde gestoor word? Die sentrale rusbank?

Truman Burbank ·

Waar word die huidige geldeenheid se waarde gestoor? Lankal nie meer in die reserwebank nie

Jackie ·

Terwyl die uitnodigings so mildelik uitgestuur word, hoekom nie ook sommer een vir Israel en vir Oekraïne ook nie?

anko ·

Moet eers sien of die lande gaan saamwerk. Dollar gaan vir nou steeds dominant wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.