Britse aktrise maak Kaapse draai vir plaaslike reeks

Natalie Dormer is eersdaags in ‘n plaaslike misdaadreeks te sien. (Foto: Chris Floyd)

“Ek is opgewonde om in Kaapstad te wees en hierdie mooi, aangrypende reeks te begin skiet. Suid-Afrika het so baie om aan ’n internasionale gehoor te bied.”

Só sê Natalie Dormer, ’n Britse aktrise bekend vir haar rolle in Game of Thrones en The Hunger Games, oor die Suid-Afrikaanse misdaadreeks waarin sy eersdaags te siene sal wees.

Natalie sal teenoor bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, Brendon Daniels, bekend vir sy rolle in onder meer Skemerdans en Trackers, speel.

White Lies, ʼn agt-episode-reeks, word deur M-Net in samewerking met Quizzical Pictures en Fremantle vervaardig.

White Lies het  ʼn besonderse kreatiewe span en ʼn ongelooflike rolverdeling. Dit vertel ʼn boeiende verhaal uit Kaapstad, ʼn ikoniese stad met wonderlike natuurlike skoonheid,” het Waldimar Pelser, direkteur van Premium-kanale by M-net, gesê.

Brendon Daniels. (Foto: verskaf)

Die verhaal speel in die weelderige  Bishopscourt-buurt af, en vertel die verhaal van ondersoekende joernalis, Edie Hansen, vertolk deur Natalie. In die reeks kom Edie verskeie mense, probleme en struikelblokke teë, terwyl sy haar vervreemde boetie se raaiselagtige moord ondersoek.

White Lies is deur Sean Steinberg geskep en deur bekroonde skrywer, Darrel Bristow-Bovey, geskryf. Langley Kirkwood, Morgan Santo, Daniel Schultz, Jane de Wet, Katlego Lebogang, Robert Hobbs en Athenkosi Mfamela sal saam met Natalie en Brendon in die reeks te sien wees.

Die verfilming van White Lies skop Maandag 6 Maart in Kaapstad af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stofdonkie ·

Daar is genoeg plaaslike aktrises wat vir die rol oorweeg kon word. Plaaslike talent word alreeds deur regstellende aksie benadeel en dan moet hulle nou nog terugstaan vir internasionale aktrises ook. Mense van ons land het net geen kans op oorlewing nie

Althes ·

Solank dit nie oor raspolitiek gaan nie. My duimpie druk vinnig onderstebo met die gradering.
Die wêreld is keelvol vir daardie onderwerp

AmY ·

Sê ek ook. Dankie, maar nee dankie. En ek kan al klaar sien waarheen hierdie gaan beweeg. SA se wit Afrikaanse mans is mos die geweldigste ter wêreld.
Ek kyk eerder die oorgeklankte Turkse reekse waar ons wit aktrises darem vir hulle stemwerk betaal word. Ek gaan hierdie ‘n mis gee.

Delia ·

Mnet, so was daar geen SA aktrise wat die rol kon vertolk. Ons het soveel uitstekende aktrises. En julle betaal haar in ponde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.