Lede van die Bronkhorstspruit-gemeenskap en omliggende gebiede het Vrydagoggend van vroeg af voor die landdroshof in die dorp byeengekom. Die een verdagte wat reeds in verband met die aanval op Waldi en Cynthia van Zyl op hul plaas digby Bronkhorstspruit vasgetrek is, verskyn vandag hier in die hof.
ʼn Vreedsame optog is vir buite die hof gereël ter ondersteuning van die Van Zyl-egpaar. Die betogers eis dat die verdagte nie borgtog kry nie en dat geregtigheid moet geskied.
In ’n video van die optog wat op sosiale media gedeel is, kan ʼn groot polisieteenwoordigheid buite die hof gesien word.
ʼn Paar toesprake is gelewer waarna almal wat aan die optog deelgeneem het, saam vir die hofsaak en vir ’n spoedige herstel vir die Van Zyl-egpaar gebid het. Hulle het daarna die “Onse Vader” begin sing.
Tydens die toesprake het een van die sprekers na die polisie gewys en gesê “dankie dat julle hier is, maar julle is regtig nie nodig vandag nie. Vandag is nie ʼn dag van geweld nie.
“Die lont is aangesteek, hierdie vuur kan nie geblus word nie. Ons gaan nie meer terugstaan nie,” het die spreker verder gesê.
Waldi is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal en sy milt moes ook intussen uitgehaal word. Cynthia is verlede week Woensdag reeds ontslaan, maar is nog baie getraumatiseerd.
Waldi het onder meer gesig- en skedelfrakture en wonde aan sy been opgedoen en moes die aand van die aanval ʼn noodoperasie ondergaan. Cynthia het ʼn kopwond opgedoen en het kneusplekke oor haar hele lyf en snye aan haar bene.
Die gemeenskap is veral geruk deur die wreedheid van die plaasaanval en hoe die Van Zyl-egpaar gemartel is.
Waldi was die aand in sy werkswinkel op die plaas besig toe hy skielik deur die ses mans oorrompel is. Ten minste een van hulle was met ʼn vuurwapen gewapen.
Hy het om hulp geroep en Cynthia het ondersoek gaan instel en op die aanvallers afgekom terwyl hulle besig was om haar man aan te rand. Sy is daarna ook aangeval.
Die egpaar is glo met houtplanke en pype geslaan. Een van Waldi se bene is glo met ʼn hoekslyper gesny en Cynthia is met ʼn skroefbek aangerand.
Die aanvallers het ʼn groot bedrag geld geëis.
“Ons is keelvol. Die regering wil ons nie help nie. Boere moet hulself maar beveilig. Daar is ʼn wil onder die boere om vir hulself op te staan,” is buite die hof gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
35 Kommentare
Die hele polisie mag is seker daar… Lekker bang vir die boere! I like!
Genoeg is genoeg. Baklei terug
Met bloed en sweet sal ons vir ons mense opstaan en verdedig
Ek kan bars van trots oor die beskaafde samekoms.
Respect to that speaker.