‘BSV’-baba tuis ná 68 dae in hospitaal

Adriaan, Helene, Jacobus en De Villiers Geldenhuys. (Foto: verskaf)

“Jy moet net oorgee en vertrou, die Here se plan is soveel groter en beter as jou eie.”

Só sê Helene Geldenhuys oor haar en haar man, Adriaan, se tweede seuntjie, De Villiers, wat op Vrydag 17 Maart ná 68 dae in die hospitaal uiteindelik ontslaan is.

Dié egpaar het mekaar tydens die tiende seisoen van die gewilde maatsoekprogram, Boer soek ’n vrou, ontmoet.

De Villiers, wat vandeesmaand eers sy opwagting sou maak, is op 9 Januarie vanjaar gebore. Gegewe sy grootte en die ontwikkelingspad wat voor hom gelê het, was hy tot onlangs in die hospitaal opgeneem waar hy ʼn ruk lank van suurstof en buisvoeding afhanklik was.

Tog bly Helene dankbaar dat sy haar babatjie in dié wyse kon sien groei.

“Ek het ekstra waardering vir wat dit is om ʼn baba te kan hê, om ʼn baba te kan groei binne jou,” vertel sy aan Maroela Media.

Helene saam met haar twee seuntjies. (Foto: verskaf)

“Dit is so ʼn groot geskenk om jou baba te kan dra tot op 40 weke.”

Helene, De Villiers en Jacobus, die egpaar se tweejarige seuntjie, kuier tans by Helene se ouers en sussie in Kaapstad terwyl hulle wag vir een laaste besoek aan die pediater later vandeesweek.

Hoewel Adriaan Vrydag in die vreugde kon deel met De Villiers wat uiteindelik huis toe kon gaan, is dinge te besig op hulle plaas in Riversdal vir hom om te lank weg te wees.

Helene en Jacobus het die afgelope twee maande in ʼn woonstel in Kaapstad gebly om naby aan die hospitaal te wees. Om terug plaas toe te gaan is vir haar ʼn opwindende vooruitsig.

“Jacobus is opgewonde om weer tyd saam met sy pa op die plaas deur te bring,” vertel sy.

“Ek sien uit daarna om weer as gesin op die plaas te wees.”

Ná ʼn bietjie langer as twee maande in die hospitaal, het Helene en haar gesin lewenslange vriendskappe gesmee met die verpleegpersoneel en dokters wat na haar en De Villiers omgesien het.

“Vrydag was ʼn emosionele dag, nie net omdat ons uiteindelik ons seuntjie huis toe kon vat nie, maar omdat ek ook totsiens moes sê vir mense waarmee ek ʼn ongelooflike pad gestap het.”

Helene en Adriaan Geldenhuys na De Villiers se geboorte. (Foto: verskaf)

Sy weet tot vandag toe nog nie waar haar motivering vandaan gekom het nie, vertel Helene, maar sy het elke dag met positiwiteit opgestaan, aangetrek, grimering aangesit en hospitaal toe gegaan.

Daar is sy met breë glimlagte, ondersteunende gesprekke en opbouende gebare verwelkom.

“Ons het grappies gemaak, mekaar se lewens en stories gedeel. Op die ou end dra hulle ouerharte ook. Hulle moet ouers positief en gemotiveerd hou.”

Helene het ook in hierdie tydperk ongelooflike respek ontwikkel vir die beroepskeuse wat dié personeel gemaak het.

“Hulle kies om met die babatjies te werk. Hulle wil nie in enige ander afdeling werk nie. Baie van die personeel is nie self ouers nie, maar sit hulself daagliks in die ouers se skoene.

“Elke WhatsApp-boodskap en foto van ons babatjie het so baie beteken. Hulle het iets vir ons gegee wat ek nooit vir iemand anders sal kan gee nie.”

Hierdie tydperk het Helene geleer om altyd blindelings te vertrou en te weet dat die Here altyd by haar is en altyd ʼn plan het. Sy moes haarself deurlopend herinner daaraan dat daar ʼn rede vir hierdie gesinsreis is.

“Ek het eintlik baie min woorde. Dit kon soveel anders gewees het. Hierdie is net genade.”

Helene moedig mense aan om nie in vrees te leef nadat hulle hul storie gehoor het nie.

“Moenie bang wees nie. God werk in wonderwerke, en Sy tyd is nie altyd jou tyd nie,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.