‘BSV’-egpaar ‘vertrou op die Here’ met wonderwerkbaba

Helene en Adriaan Geldenhuys na De Villiers se geboorte. (Foto: verskaf)

“Dalk sal ons oor 10 jaar kan sê wat die rede hiervoor was. Vir nou weet ek dat solank ons die Here vertrou, alles goed sal uitdraai.”

Só sê Helene Geldenhuys oor die vroeë geboorte van haar en haar man, Adriaan, se tweede seuntjie, De Villiers. Dié egpaar het mekaar tydens die 10de seisoen van die gewilde maatsoekprogram, Boer soek ’n vrou, ontmoet.

Hulle is in 2019 getroud en het in 2021 hul eersteling verwelkom.

“My eerste swangerskap, met Jacobus, het glad verloop en sonder enige probleme,” vertel Helene aan Maroela Media.

“Ons was dus geskok toe hy dadelik na die intensiewesorgeenheid geneem is weens ’n raaiselagtige siekte.”

Sy erken dat sy uitgesien het daarna om met die geboorte van haar tweede kind die soort vreugde te ervaar wat sy weens Jacobus se siekte misgeloop het.

“Al my vriendinne het gesê dat ek uiteindelik gaan weet hoe dit voel om my babatjie vas te hou ná sy geboorte.”

Hul tweede seuntjie, wat na verwagting eers in Maart vanjaar sy verskyning sou maak, het, is op 27 weke en vyf dae gebore.

Helene het in Desember, toe sy 25 weke swanger was, besluit om haar ginekoloog te gaan sien om seker te maak dat alles nog reg is. Dit was nie ’n beplande besoek nie, maar weens ’n bedrywige tyd agter die blad en ’n vakansie wat voorgelê het, wou Helene net verseker wees dat alles nog goed verloop.

Sy, Adriaan en hul seuntjie het toe van hul huis in Riversdal vertrek na ’n familie-vakansiehuis. ’n Bedrywige tyd, soos vakansies maar is, onthou sy.

“Ek het een aand wakker geword en gesien dat ek begin bloei het. Die bloeding was min en ek en Adriaan het besluit dat ons dit maar net gaan dop hou.”

Voordat die gesin Wildernis toe vertrek het vir die tweede gedeelte van hul vakansie, het Helene vir ’n sonar in George gaan. Die dokters was egter van mening daar is niks om oor bekommerd te raak nie, sy is aangeraai om dinge net rustig te vat.

Adriaan en De Villiers. (Foto: verskaf)

’n Paar dae later het Helene egter weer onverwags wakker geword. Dié keer het sy besef dat dit weens krampe en nie bloeding is nie. Sy en Adriaan is die oggend daarna hospitaal toe.

Ná ses ure se waarneming, is sy ontslaan. Daar was steeds bloeding, maar omdat Helene nie pyn gehad het nie en die baba gesond gelyk het, was daar nie ’n rede vir haar om langer te bly nie.

Die verligting was egter van korte duur.

Daardie aand, terwyl sy met haar seuntjie op haar skoot gesit het, het die pyn so erg geword dat sy flou geval het. Adriaan kon haar betyds vang en sy het eers weer haar bewussyn in die bakkie op pad hospitaal toe herwin.

Die dokters was onseker wat die bloeding veroorsaak het en of hulle ’n noodkeiser moet doen al dan nie.

“Adriaan is huis toe. Ek het so alleen gevoel.”

Die hospitaalbesoek het van 30 Desember tot 2 Januarie geduur, waarna daar besluit is om haar na die Panorama-hospitaal in Kaapstad oor te plaas.

“Die bloeding het aangehou, maar ek was glad nie in pyn nie. Die bloeding het ook nie erger geword nie.”

Weens die ligte aard van die bloeding en die afwesigheid van enige pyn, was dokters oortuig daarvan dat dit ’n lokale besering is wat die bloeding veroorsaak. Daar was egter steeds ’n klein kans dat dit weens die afbreking van die plasenta, ’n lewensgevaarlike toestand, kon wees. Daar is dus besluit om Helene in die hospitaal te hou.

Klein De Villiers. (Foto: verskaf)

Ten spyte van alles was Helene Geldenhuys oortuig daarvan dat sy haar tweede seuntjie vir die volle termyn sou dra. Dit is egter nie wat gebeur het nie.

“Alles was oukei. Totdat dit nie meer was nie.”

Sy het op die aand van 9 Januarie ’n vreemde steekpyn ervaar. Aanvanklik het sy gedink dat dit weens haar liesbreuk is, en wou nie enige moeite vir die personeel aan diens veroorsaak nie.

“Ek het hulle leer ken en het gesien dit was die oorgee tussen dag- en nagpersoneel.”

Nietemin het een van die verpleegsters die ginekoloog ontbied. De Villiers was op pad, hulle moes ’n noodkeiser doen.

“Ek was so dankbaar dat ek in daardie stadium in die hospitaal was. Ek sou nie die dokter gebel het vir daardie ligte pyn as ek by die huis was nie.”

Adriaan was steeds in Riversdal. ’n Familievriendin wat ook ’n ginekoloog is, het Helene met die bevalling bygestaan. Die spinaal het ook nie gewerk nie, sy moes narkose ontvang het.

De Villiers het sy opwagting gemaak en het selfs, so klein soos wat hy was, ʼn gilletjie gegee, het Helene later uitgevind.

Sy, Jacobus en hul huiswerker, woon tans in ʼn woonstel in Kaapstad om naby klein De Villiers te wees, terwyl Adriaan met die boerdery in Riversdal voortgaan.

“Hulle het verwag dat hy maar net 800 g sou weeg, maar hy het 1,2 kg geweeg!”

Vandag weeg De Villiers al 1,6 kg. Alhoewel hy nie op ʼn ventilator is nie, kry hy steeds hulp met suurstof. Daar word tans borsmelk in sy magie ingepomp en sal hy eers self kan begin voed wanneer hy nie meer op suurstof is nie.

“Snaaks genoeg gee dit mens nuwe waardering vir die feit dat mens ʼn lyfie groei,” vertel Helene.

“Jy sien hoe hy groei soos wat hy in jou baarmoeder sou groei en dit is ʼn wonderwerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

WILLEM ·

ONS VERSTAAN NIE DIE DINGE IN JOU LEWE NIE MAAR GOD IS ALTYD BY JOU – HY HET JOU BY JOU NAAM GEROEP EN JY IS SYNE. STERKTE!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.