Burgemeester se vermeende moordenaars laat vaar borgtogaansoek

Moses Maluleke, burgemeester van die Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit in Limpopo (Foto: Facebook / Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit)

Twee verdagtes wat tereg staan vir die moord op Moses Maluleke (56), burgemeester van die Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit in Limpopo, het Woensdag hul borgtogaansoek laat vaar.

Shumani Nemadodzi (47) en Avhatakali Mulaudzi (42) het vlugtig in die landdroshof in Malamulele verskyn.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê die verdagtes staan tereg op aanklagtes van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Maluleke en sy 18-jarige seun is op 21 Julie by hul huis in Saselamani aangeval. Die aanvallers het geld geëis. Maluleke en sy seun het glo nie aan die aanvallers se opdragte gehoor gegee nie waarna hulle geskiet is. Maluleke is op die toneel dood verklaar terwyl sy seun na ’n nabygeleë hospitaal vir behandeling vervoer is.

Die polisie het sowat ’n week ná die voorval drie mense in hegtenis geneem. Die derde verdagte is intussen vrygelaat nadat hy nie positief met die voorval verbind kon word nie.

Die twee verdagtes sal na verwagting weer op 19 September in die hof verskyn en sal tot dan in aanhouding bly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.