Bus ploeg in Delft-huise ná aanval

(Foto:
Vehicle Trackers/X)

’n Golden Arrow-bus het vroeg Woensdagoggend in drie huise by Delft in die Wes-Kaap ingeploeg ná vier mans die bus glo met klippe bestook het.

Volgens kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 04:30 na die toneel by Lanzestraat ontbied.

“Die 49-jarige busbestuurder het aan die polisie vertel dat vier mans die bus met klippe bestook het waarna hy beheer oor die bus verloor het en in die huise ingeploeg het.

“Gelukkig is geen beserings aangemeld nie,” sê Van Wyk.

ʼn Ongeluksverslag is geopen.

Derrick America, die DA se provinsiale woordvoerder oor mobiliteit, sê die DA doen ʼn beroep op lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiehoof, om die maatreëls wat hy ingestel het om busse in die provinsie teen misdadigers te beskerm, duidelik te maak.

“Die aanval het daartoe gelei dat die bus in drie huise vasgery het en enorme skade aan die eiendomme aangerig het. Dit het ook inwoners sowel as pendelaars se lewens in gevaar gestel,” sê America.

Talle busmaatskappye gaan gebuk onder soortgelyke aanvalle, wat nie net passasiersveiligheid in gedrang bring nie, maar busmaatskappye jaarliks ​​miljoene aan skadevergoeding kos.

“Die polisie moet pendelaarveiligheid kan verseker sodat die Wes-Kaapse regering kan voortgaan om ʼn geïntegreerde vervoerstelsel te bou wat mense veilig by die werk en by die huis kry.

“As die polisie dit nie kan doen nie, moet polisiëringsmagte aan bekwame provinsiale regerings, soos die Wes-Kaap, oorgedra word,” sê America.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tinus ·

Jy mag jouself mos nie teen kriminele verdedig nie, nie eens in jou eie huis nie! Die regstelsel beskerm mos die krimineel en jy sal aangekla word. Kyk maar wat gaan gebeur met die busbestuurder, die kriminele is nou weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.