Bushiri-egpaar in Malawi aangekeer

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri. (Foto: Facebook)

Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, is in Malawi in hegtenis geneem.

Die egpaar het verlede week uit Suid-Afrika gevlug waar hulle onder meer teregstaan op aanklagte van bedrog en geldwassery.

Bushiri, leier van die Enlightened Christian Gathering Church (ECG), het vroeër aangekondig dat die egpaar by die Malawiese polisie gaan aanmeld om die verloop van gebeure te verduidelik.

Sr.supt. James Kadadzera, ʼn polisiewoordvoerder in Malawi, het intussen in ʼn verklaring bevestig dat die twee in hegtenis geneem is weens die lasbrief wat Interpol vir hul inhegtenisneming uitgereik het.

“Die polisie het gister [Dinsdag] ʼn soektog na die egpaar van stapel gestuur om hulle in hegtenis te neem. Die profeet en sy vrou het hulle egter op 18 November aan die polisie by Area 30 oorgegee nadat hulle van hul naderende inhegtenisneming verneem het,” het Kadadzera gesê.

Verklarings sal by die twee afgeneem word, waarna hulle in die hof sal verskyn.

Bushiri hou vol dat hy en sy vrou nie ʼn regverdige verhoor in Suid-Afrika gaan kry nie. Hulle het om dié rede, asook omdat hulle vir hul lewe vrees, uit Suid-Afrika gevlug.

Die Suid-Afrikaanse regering het reeds begin met die proses om Bushiri aan Suid-Afrika te laat uitlewer. Twee lasbriewe is ook vir elk van die Bushiri’s uitgereik.

Times 360 Malawi het intussen berig die land se departement van immigrasie ontken dat die egpaar verskeie paspoorte het wat in Malawi uitgereik is.

Suid-Afrika se minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het vroeër aan die parlement gesê die egpaar het vyf paspoorte elk.

Volgens Malawi se immigrasiedepartement het Shepherd en Mary ʼn diplomatieke paspoort elk.

Die Bushiri-egpaar was op borgtog in Suid-Afrika toe die selfverklaarde profeet verlede week op sosiale media aangekondig het dat hy en sy vrou hulle terug in Malawi bevind.

Die twee was veronderstel om twee keer per week by die polisie aan te meld. Daar is nou talle vrae oor hoe hulle dit steeds reggekry het om die land ongesiens te verlaat.

ʼn Diplomatieke tameletjie het boonop ontstaan ná bewerings dat die egpaar aan boord van pres. Lazazrus Chakwera se presidensiële straler landuit gesmokkel is. Chakwera was in Suid-Afrika vir ʼn staatsbesoek.

Malawi en Suid-Afrika het die bewerings intussen ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

As hy onskuldig is, sal hy dit mos kan bewys en het niks om oor bekommerd te wees nie. As daai 102 miljoen eerbaar verdien is, is dit mos maklik om te bewys. En net daar, is die probleem…..

Persheks Adri ·

Presies my punt ook Misky, maar hulle “cover” vir mekaar en vlug so nee eerbaar en pastoor werk nie vir my nie

Persheks Adri ·

Die klomp “cover” so vir mekaar hulle moet net onthou dat jy die waarheid altyd onthou, maar nie as jy lieg nie! Stories oor paspoorte en vlugte pffft die waarheid sal uit kom. Hoekom het julle gevlug ons lewe permanent in vrees ou

Anel ·

Hierdie uitlewerig moet sommer ook met kostes wat deur hulle gedra word, geskied. Hoekom moet ons ekstra koste aangaan omdat hulle die pad gevat het?

Stefan ·

Niks om oor te bekommer as hulle onskuldig is nie.
Selfs die skuldiges het dan niks om bekommerd oor te wees nie.

Keelvol ·

Wat is n regverdige verhoor? Een waar alle bewyse geignoreer word en jy vry gespreek word ?

Casper ·

Hoekom was hulle in besit van diplomatieke paspoorte.Diplomatiek paspoorte word nie aan gewone burgers uitgereik nie.

Niklaas ·

Ek hoop hul kry die uitlewering suksesvol afgehandel, dan sal ons dalks hoor hoe hul dit kon regkry om in Malawi te beland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.