Buurt- en plaaswagte: Cele, Ramaphosa versoek om in te gryp

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende vergadering met die minister van polisie versoek oor buurtwagte en ander veiligheidstrukture tydens die afsonderingstydperk.

AfriForum het ʼn brief aan minister Bheki Cele gerig en ʼn aanlynpetisie van stapel gestuur in ’n poging om buurtwagte en ander veiligheidstrukture toe te laat om tydens die afsonderingstydperk aktief te funksioneer.

In die skrywe beklemtoon AfriForum die belangrike en noodsaaklike rol wat buurt-, plaas- en plotwagte, asook soortgelyke veiligheidstrukture in hul onderskeie gemeenskappe verrig. Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, fokus die skrywe ook op verskeie wyses waarop die minister hierdie strukture moontlik binne die raamwerk van die wet kan benut.

“Die Covid-19-pandemie bring nuwe uitdagings vir almal, maar ons glo werklik dat AfriForum se buurtwagte en ander veiligheidstrukture waardevolle ondersteuning aan sowel die regering as ons gemeenskappe in hierdie onsekere tyd kan bied.”

AfriForum glo dat buurtwagte en hul lede met voldoende riglyne en voorskrifte van die regering op só ’n wyse kan werk dat daar nie ’n bedreiging bestaan om die koronavirus verder te versprei nie.

“Die regering het reeds aangedui dat die uitwerking van die Covid-19-krisis maande lank gevoel sal word. Verskeie polisiestasies is reeds weens infeksies gesluit en verskeie polisie- en weermagamptenare het al die virus opgedoen. Ons sal veel eerder ’n raamwerk in samewerking met die minister wil vestig wat ons strukture in staat stel om tot die bestaande beskikbare vermoë by te dra. Die dag kan kom wanneer die minister die verlore vermoë moet vervang en dan is dit dalk reeds te laat,” meen Cameron.

Die VF Plus het op sy beurt ʼn skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa gerig in die verband. “Die kommerwekkende toename in misdaad maak dit ʼn saak van dringendheid om buurt- en plaaswagte toe te laat om weer normaalweg te begin funksioneer om die polisie se hand te sterk in die bestryding van misdaad,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Volgens Groenewald is dit onverstaanbaar dat Cele nie buurt- en plaaswagte se hulp wil aanvaar nie terwyl hulle die oë en ore van die polisie is en ʼn goeie werksverhouding tussen hulle en die polisie bestaan.

“Die regulasies maak voorsiening vir amptelike veiligheidsmaatskappye, maar nie vir buurt- en plaaswagte nie en daarom versoek die VF Plus dat die regulasies in hierdie opsig aangepas en gewysig word.

“Baie van die polisie se energie en tyd word opgeneem in die toepassing van die maatreëls om die verspreiding van die koronavirus te voorkom. Die polisie het daarom al die hulp nodig wat hulle kan kry en die VF Plus het pres. Ramaphosa versoek om dringend hieraan aandag te skenk.”

AfriForum en die VF Plus se beroep kom kort nadat TLU SA sy kommer uitgespreek het oor die diefstal van landbouprodukte wat kommerwekkend toegeneem het.

“Dit is baie duidelik dat misdadigers hulle nie steur aan die inperkingsregulasies nie, en boere is toenemend die slagoffer daarvan,” het Henk van de Graaf, TLU SA se Noordstreek-voorsitter, gesê.

Van de Graaf het gesê hulle is ook bekommerd oor die feit dat plaaswagte en GPF’s uitdruklik deur die minister van polisie verbied is om met hulle normale patrollies en misdaadvoorkoming voort te gaan.  “Waar die polisie tans fokus op ander sake, beteken dit dat die landelike gebiede nou onbeveilig is, en misdadigers weet dit en buit die situasie uit. Ons kan nie nog drie weke so aangaan nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

George ·

Ons is die oe van die Polisie in ons buurte. Gister moes ons toestaan en kyk by n motorongrluk. was baie vrustrerend.

Adam Adriaan ·

Daar is nie pille vir onnoselheid nie. Die man kan nie hoofpyn kry nie want daar is niks daarbo wat ‘n pyn kan kry nie.

PieterP ·

Cele is op ‘n “power trip” en is ‘n gevaar vir ons en homself

Kobus ·

Al laaaankal voorgestel dat Kapt Wynand du Toit bevelvoerder van so ‘n mag moet word.Verstaan nie waarom die ANC so teen die kommando stelsel gekant is nie

Brakkies ·

Want dan kan hul mense ni wetloos rondbeweeg en ons uitmoor nie….

Rodger17 ·

ANC is bang dat kommados die weermag sirkus se swakhede sal uitwys

Brakkies ·

Al wat sin maak hoekom die regering buurtwagte ens.. nie wil laat werk ni is omdat hulle plaas aanvalle goedkeur….

Andre ·

Hulle is net daar om “Die mense” te beskerm, nie almal nie.

Koos ·

Mense onthou asb as die buurtwag weer funksioneer gaan dit vir die skelms en moordenaars moeiliker wees en dit gaan die regering nie pas nie.

Genis ·

Cele, het nie benul wat aabgaan nie, en boonop glo ek hy is aspris… hulle voel absoluut niks vir die boere nie… dis eindelik nou dat mens besef hoe rassisties die regering eindelik is… Dis nou in n mens se gesig…maar CR se mense staan bak hand by die wittes…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.