Byna helfte minder padsterftes in Wes-Kaap

Verkeersbeamptes het duisende motoriste voorgekeer, en dokumente en voertuie nagegaan. (Foto: Wes-Kaapse regering/Twitter)

Die Wes-Kaap se grootse pogings om padsterftes oor veral die Desembervakansie te verminder, het vrugte afgewerp. Daar was in die 2022-’23-feestyd altesame 131 padsterftes, in vergelyking met die 207 wat ʼn jaar tevore aangemeld is. Dit is ʼn daling van 46,62%.

Die 63 sterftes is die gevolg van 52 padongelukke op provinsiale paaie, terwyl 68 mense in 66 ongelukke op munisipale paaie omgekom het. Die feestyd word beskou as die tydperk tussen 1 Desember en 11 Januarie en ʼn sterfte word opgeteken as ʼn padsterftes binne 30 dae nadat so ʼn ongeluk plaasgevind het.

“Hierdie is ʼn reuseprestasie. Dit lyk of ons fokus en benadering vrugte afgewerp het,” sê dr. Ivan Meyer, waarnemende LUR vir vervoer in die Wes-Kaap.

Altesame 243 982 voertuie is in hierdie tyd voorgekeer en nagegaan en meer as 2 200 wetstoepassingsoperasies is uitgevoer. Die owerhede het 239 voertuie geskut en 1 117 voertuie is permanent van die pad verwyder.

Terselfdertyd is 680 mense in hegtenis geneem; 446 word daarvan beskuldig dat hulle onder die invloed bestuur het, 98 is met bedrieglike dokumentasie betrap, 23 het die spoedgrens oorskry en 52 motoriste is vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem.

Meyer sê die provinsie is veral ingenome met die getal motoriste wat vir omkopery aangekeer is. Veertien mense is vir omkopery in hegtenis geneem.

“Elke inhegtenisneming is bittersoet; bitter omdat iemand iets doen wel wetende dat dit verkeerd en soet omdat een minder oortreder op ons paaie oorbly.

“Dit is ook ʼn aanduiding van die etiek van provinsiale verkeersbeamptes en stuur ʼn duidelike boodskap dat ons in die Wes-Kaap ʼn kultuur het om die regte ding te doen,” sê Meyer.

Sogenaamde reeksverkeersoortreders word ook toenemend vasgevat. ʼn Reeksoortreder is ʼn motoris wat deur die kamerastelsel wat gemiddelde spoed oor ʼn afstand meet, uitgewys is as iemand wat gereeld te vinnig ry; ʼn motoris wat al meer as vyf geskrewe kennisgewings ontvang het om in die hof te verskyn; of ʼn motoris in ʼn voertuig waarvan die lisensie die afgelope 18 maande nie hernieu is nie.

(Foto: Wes-Kaapse regering/Twitter)

“Wanneer só ʼn motoris naderkom, word ʼn kennisgewing aan beamptes verder langs die pad gestuur om die motoris voor te keer en in te lig oor die vermeende oortredings, of die motoris te waarsku teen die gevolge van verdere oortredings.”

Beamptes het in die feestyd altesame 3 407 voertuie op hierdie manier voorgekeer.

Voetgangerongelukke bly ʼn kopseer, hoewel die afgelope vakansie steeds ʼn daling van 14,87% in vergelyking met die 2021-’22-vakansieseisoen gesien het. Voetgangers se onvoorspelbaarheid, veral wanneer hulle onder die invloed is, dra jaarliks die meeste tot sterftes op die provinsie se paaie by.

Meyer sê owerhede gaan voort met opvoedingsprogramme om voetgangers in te lig oor hul eie verantwoordelikhede in ʼn poging om sterftes te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gpsa ·

Dis vandat hulle die taxi’s begin vasvat het. DA Gauteng gaan leer biki daar hoe dit gedoen word asb. Taxi’s kom letterlik weg met moord.

Eugene ·

Ja shame. Asof road blocks pad ongelukke sal Keer. Ek wens plase word so op gepas. Maar nee, dis mos lekker om net boetes te skryf. Hoop daars genoeg penne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.