Cheverné: ‘Ons is baie dankbaar ons trek al hiér’

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Cheverné Duvenhage, die gr. 8-leerder van Hoërskool Driehoek wat in die opspraakwekkende tragedie by dié skool vroeër vanjaar ernstig beseer is, word vandag uit die hospitaal ontslaan en in ʼn rehabilitasiesentrum opgeneem.

Hiér sal sy vir die volgende ses tot agt weke behandel word en onder meer van vooraf moet leer loop. Sy sal ook traumaberading ontvang.

Elardus Duvenhage, Cheverné se pa, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê hulle wag vanoggend vir die oproep dat Cheverné se kamer in die sentrum in Johannesburg gereed is waarna sy, ná sowat ʼn maand en ʼn half, eindelik uit die hospitaal in Alberton ontslaan sal word.

“Ons is baie dankbaar ons trek al hiér,” het Elardus gesê.

Elardus vertel dat Cheverné se maagwond eindelik toegewerk is nadat dié wond vir eers oop gelaat is omdat dit gereeld in die teater skoongemaak moes word. Dit was wel nie nodig vir ʼn veloorplanting aan haar maag soos Elardus voorheen vermoed het nie, maar Cheverné het wel ʼn veloorplanting aan haar voet ondergaan wat ook gedurende die ongeluk beseer is. “Die dokter is heel tevrede,” sê hy.

Cheverné is beseer toe ʼn loopbrug by haar skool op 1 Februarie ineengestort het. Sy het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

Elardus verduidelik dat Cheverné ten spyte van haar vordering van vooraf sal moet leer loop. “Sy kan nou skaars regop sit. Haar maagspiere is nog nie geheg nie. Sy kan met hulp regop kom. Sy is dan lighoofdig, maar dis seker normaal as jy vir ’n maand en ’n half net gelê het,” sê hy.

Volgens Elardus gaan dit ook beter met Cheverné se gemoed. “Sy sien uit daarna om uit die hospitaal te kom.

“Ek dink sy is moeg vir die hospitaal, maar andersins gaan dit eintlik onder die omstandighede goed met haar. Sy maak al meer oop en praat meer oor wat gebeur het. By tye is sy weer stil en teruggetrokke. Ek dink dit vang haar dán.”

Cheverné is nadat sy aanvanklik in die hospitaal opgeneem is, onder verdowing geplaas en aan ʼn ventilator gekoppel.

“Dit het moeilik gegaan toe sy wakker word. Sy het baie vrae gehad oor hoekom dit met haar moes gebeur en gevra of ons, as ons kon, met haar plekke sou ruil. Dit was rof maar dit gaan nou baie beter,” sê Elardus.

“Ons is baie gelukkig en dankbaar dat sy nou so goed onder omstandighede doen en dat dit uiteindelik lyk asof dinge na ʼn kant toe gaan.”

Elardus glo dat sy tienerdogter mettertyd ten volle sal herstel. “Emosioneel sal dit langer vat, maar met tyd sal dit óók regkom.”

Vier leerders van Hoërskool Driehoek het in die tragedie gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

annie ·

Sterkte aan die hele familie ons glo en vertou alles sal goed gaan, Alles sal van nou af net elke dag beter gaan. Jy is ‘n sterk doter en hou so aan.

Lizelda ·

Baie, baie sterkte en alles wat mooi en geseend is vd pad vorentoe…

Sanché ·

Cheverné ek volg jou voredering van dag 1 en al wat ek kan sê en doen is dankie sê en God loof en prys dat Hy jou aangeraak het en steeds heel. Jy is voorbeeld vir so baie mense. Jys wenner samet God. Jy stap elke tree hand aan hand met Hom deur hierdie groot seertyd in jou lewe. Jys vegter. Bid steeds elke dag vir jou en jouse mense. Sterkte en you go girl! GOD BLESS

? leser ·

ek bid ook vir jou vir genesing, daarmee saam aan almal betrokke

Jem ·

.Baie sterkte vir julle almal mooie meisiekind. God sal Sy Engele stuur om julle almal te behoed en bewaar.

Gesiggie ·

Ek is so bly om te hoor, dat dit al beter gaan… daar wag nog n lang pad van herstel, maar hou moed en hou aan Glo . Sterkte aan die gesin .

Rb ·

Elardus, dankie dat jy vir ons gereelde terug voer gee. Cheverne het deel van die land se huishouding geword.
Hoe wonderlik is dit dat vreemde mense Cheverne in hul gebede opdra.
Alle voorspoed met rehab.

Anita ·

Ek is bly dat ek in hierdie tye van ons land nie meer kinders op skool het nie, die pyn wat hierdie meisie moet verduur is ook die pyn van haar ouers sien ek nie voor kans nie.. Sy sal sterk daar uitkom maar ek vra dat almal elke oggend om 6-30 vir haar en haar ouers bid, ook vir die ouers die kinders moes afstaan, ons land word elke dag meer versnipper, verwaarloos, sonder God…………………………,
en saamstaan as groepe is volgens die media verbode . My gebede gaan met hierdie meisie.,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.