Chinese tariefverlaging kan SA rooibos-uitvoere laat kook

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Suid-Afrika se eie wonderplant – rooibos – is besig om wêreldwyd al hoe gewilder te word.

China, een van die wêreld se grootste teemarkte, het onlangs boonop aangekondig dat hy sy invoertariewe vir Suid-Afrikaanse rooibos gaan verminder. In die verlede het China ʼn invoertarief van tussen 15% en 30% op plaaslike rooibostee gehef.

Dié tariewe is verminder tot ʼn vaste koers van 6%, ʼn besluit wat as ʼn dramatiese wending vir die Suid-Afrikaanse bedryf bestempel word.

Die besluit is geneem ná samesprekings tussen Ebrahim Patel, Suid-Afrika se minister van handel, nywerheid en mededinging, en sy Chinese eweknie, Wang Wentao.

Patel het in Augustus verlede jaar tydens die agtste vergadering van die Chinees-Suid-Afrikaanse gemeenskaplike ekonomiese- en handelskommissie die tariefkwessie met Wang opgeneem. Hy het onder meer gevra dat China dit oorweeg om rooibostee te herklassifiseer en invoerbelasting te verminder.

Hierna het China se tariefkommissie vergader en amptelik die nuwe tariefkode van 6% aanvaar.

Volgens die Rooibosraad van Suid-Afrika word daar jaarliks sowat 20 000 ton rooibos in Suid-Afrika geproduseer en werkgeleenthede aan nagenoeg 5 000 mense gebied.

Uit die 45 lande wat plaaslike rooibos invoer, is China tans die sewende grootste invoerder van rooibostee.

Patel het China se besluit verwelkom.

“Suid-Afrika se rooibostee is verfrissend, heerlik en gesond. Die besluit sal ook meer Suid-Afrikaanse rooibostee beskikbaar stel aan Chinese verbruikers wat sal bydra tot meer werkskepping in Suid-Afrika.

“Rooibos-uitvoerders kan hul uitvoere van tee na China verhoog,” het hy gesê.

Hy het ook die strategiese belang van die besluit beklemtoon. “China is tans Suid-Afrika se grootste internasionale handelsvennoot, met wedersydse handel van meer as R900 miljard.

“Ons sien uit na voortgesette betrekkinge met ons Chinese eweknieë en ons uitvoere van hoofsaaklik minerale te diversifiseer tot ʼn wyer verskeidenheid waardetoegevoegde landbou- en nywerheidsprodukte,” sê Patel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nommer 7 ·

In Duitsland is SA rooibostee omtrent by alle winkels beskikbaar, maar dit is baie beter gehalte as wat ons plaaslik kry, hoekom?

es ·

Die beste van alles, bv. steenkool, word uit gevoer (en ons moet klippe brand), ekt dit self gesien. Dis maar hoe dit nog altyd werk??

Jedi Knight ·

Nommer 7, gee jy die effens laer graad vir Suid-Afrikaners, kla hulle oor die gehalte. Gee jy vir hulle die beter gehalte, kla hulle oor die prys. Suid-Afrikaners kla omdat kla kla is.

Papsak ·

Ja ons het van alles maar ons moet met die swakste tevrede wees in SA en die beste van als ons moet ten duurste betaal vir alles in SA hoe werk die goed se breins hou op ons bestes uit te voer en swakste vir ons te hou !!!!??

Rudolph ·

Nou moet ons net die spoorlyne en hawens reg maak sodat ons die tee in China kan kry. Maklik,

Mel84 ·

Nommer 7 – die plaaslike mense wil vir niks ‘n ‘arm en ‘n been’ betaal nie, soos elke plasing deesdae lui. Die mark vir middel of laer graadse produkte is baie groter in Suid Afrika as die topgehalte-mark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.