Cholera: ‘Gauteng se kraanwater veilig’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Gautengse departement van gesondheid sê daar is “geen wetenskaplike bewyse of amptelike kommunikasie” dat inwoners nie kraanwater in dié provinsie moet drink nie omdat dit glo met cholera besmet sou wees.

Dít volg nadat inligting in dié verband op sosiale media versprei is en paniek by menige Gautengers gesaai is.

Motalatale Modiba, hoof van kommunikasie van die departement, sê kraanwater in Gauteng is wel veilig om te drink.

“Sommige mense versprei doelbewus misleidende inligting aan die publiek wat nie deur die departement uitgereik is nie,” het Modiba Dinsdag gesê.

Die departement moedig inwoners egter aan om hul hande gereeld met seep en water te was – veral nadat hulle die toilet gebruik het of wanneer hulle met kos werk. Die publiek word ook versoek om nie water van besmette bronne te drink nie.

Maroela Media het vroeër berig dat vyf cholera-gevalle in Suid-Afrika bevestig is. In een van die gevalle is een persoon dood. Die eerste drie gevalle wat aan die lig gekom het, is verwant, en twee van hierdie mense het ʼn reisgeskiedenis na en van Malawi.

Die vierde en vyfde pasiënte het geen reisgeskiedenis of verwantskap met enige van die ander pasiënte nie. Die persoon wat dood is, is ʼn 24-jarige man van Benoni wat met ernstige diaree in die Tambo-gedenkhospitaal opgeneem is.

Die departement benadruk dit is uiters belangrik om by die naaste hospitaal uit te kom indien ʼn persoon tekens van ernstige diarree toon of ander simptome soos ontwatering ervaar.

Cholera is ʼn akute bakteriële infeksie. Die bakterie word hoofsaaklik versprei deur besmette water en mense kan direk aansteek deur die water te drink, of indirek deur besmette kos te eet. Pasiënte ervaar gewoonlik ligte simptome, maar in sommige gevalle kan dit ernstig en lewensbedreigend wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Truman Burbank ·

Illness and Symptoms
profuse watery diarrhea, sometimes described as “rice-water stools”
vomiting.
thirst.
leg cramps.
restlessness or irritability.

Cindy ·

ek wil graag he die minister moet die kraanwater in Bedfordview kom drink – dit STINK, dis vuil, nie eens die honde wil daaraan drink nie!

SwartBees ·

Hulle sal nie, hulle het elk n direkte korrupte spring water pyplyn in hul R10mil+ huis. En dis slegs vir toilet gebruik terwyl hulle hande was met Hennesy en Johnny Walker showers vat.

Harley Davidson ·

Het iemand die water getoets om seker te maak, ‘n klomp aannames word gemaak geen feite word gegee more is dit ‘n ernstige probleem en dan het iemand nie sy / haar werk ordentlik gedoen nie.

Andries ·

Hul tjorts bo in die water en skep drinkwater laer af. Dit is die besmette water waarvan hul praat.

marius ·

Nou tap water uit die krane en laat hulle dit drink op hul vergaderings . Niks uit ‘n bottel nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.