Cholera-gevalle ook in Noordwes bevestig

(Foto: Unsplash)

Gevalle van cholera het nou óók na Noordwes versprei, met twee gevalle wat in die Bojanala-distrik aangemeld is.

Volgens die departement van gesondheid in Noordwes is die twee pasiënte ʼn 38-jarige man en ʼn 68-jarige man van onderskeidelik die Madibeng- (Brits) en Moretele-distrik.

“Albei mans toon simptome van naarheid en diarree,” sê die departement.

Die cholera-uitbreking is aanvanklik in Hammanskraal in Gauteng aangemeld en het verlede week na die Vrystaat versprei.

Altesame 24 mense is reeds weens die siekte dood.

Die departement doen ʼn beroep op lede van die publiek om nie paniekerig te raak nie, aangesien cholera voorkombaar en geneesbaar is.

“Alle mense met cholera-simptome moet so gou moontlik hul naaste gesondheidsfasiliteit besoek.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn ondersoek is aan die gang na die bron van die uitbreking.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het vroeër vanjaar gewaarsku dat cholera ʼn “verwoestende terugkeer” maak nadat daar jare lank ʼn voortgesette afname in cholera-gevalle aangeteken is. Meer as ʼn miljard mense in 43 lande loop die gevaar om die siekte op te doen.

Volgens die WGO is cholera-gevalle sedert die begin van die jaar al in 24 lande aangemeld. Benewens Suid-Afrika sluit dit ook gevalle in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe in.

Cholera is ʼn hoogs aansteeklike siekte, veral onder omstandighede waar daar nie behoorlike toegang tot water- en sanitasiedienste is nie.

Die siekte gaan met simptome soos diarree, maagkrampe, naarheid, braking en ligte koors gepaard.

Die meeste pasiënte toon ligte tot matige simptome, maar indien dit nie behandel word nie, kan dit noodlottige gevolge vir die pasiënte inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

En is die oorsprong van die Hammanskraal uitbraak nog nie opgespoor nie?!

annie ·

Die Kaap met sy baie groot plakkersgemeenskap moet maar nie hulself op die skouer klop nie. Sulke gemeenskappe is erg besoedel en inwoners is morsig totdat die klok slaan dat ‘slam’ hul almal wat voorkom. ‘n Republiek van Flinkveria sal nooit as te nimmer weer in die Kaap van Storms saad skiet nie. Ons moes nooit die waens in die eerste plek gepak het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.