Christo Bothma-verdwyning: Nét onsekerheid ʼn jaar later

Amanda en Christo Bothma.

Dit is ʼn jaar later. ʼn Jaar van bid en hoop en wag. Maar ook ʼn jaar van stilte en onsekerheid.

Onsekerheid oor waar Christo Bothma, wat op 23 September verlede jaar vermoedelik in Burkina Faso ontvoer is, hom bevind. Onsekerheid oor of hy wel nog lewe.

“Ons bly hoop en glo,” het ʼn moedige Amanda Bothma Woensdag aan Maroela Media gesê.

“Maar as hy dan nie meer lewe nie, wil ons hom net huis toe bring.”

Maroela Media het vroeër berig twee tussengangers, die een van Niger en die ander van Mali, het in Julie vanjaar onafhanklik van mekaar bevestig dat Christo reeds op 19 Junie vanjaar dood is.

Die noodleniginggroep Gift of the Givers het Amanda sedert Christo se verdwyning gehelp om inligting oor die gebeure in te samel en Christo se vrylating te probeer bewerkstellig.

Christo, sy werkgewer se seun en ʼn drywer is op 23 September verlede jaar in Burkina Faso ontvoer. Christo was ʼn instandhoudingsbestuurder by ʼn myn by Inata. Hy is sedertdien spoorloos, al het verskeie vals berigte daarna die ronde gedoen – onder meer bewerings dat hy vrygelaat is.

Amanda het vandeesweek gesê volgens Gift of the Givers is dit egter té gevaarlik om iemand te stuur om na Christo te gaan soek. Daar is geen duidelikheid oor in watter gebied, of selfs in watter land, hy hom moontlik bevind nie.

“Ons hang in die lug. Ons wag. Hoe kry jy afsluiting as daar nie iets is om af te sluit nie, as niemand vir jou antwoorde het nie,” het Amanda gevra.

Volgens haar het die Suid-Afrikaanse regering weinig gedoen om Christo te help opspoor. “Hulle gee nie om nie,” het sy gesê.

Amanda het gesê ʼn jaar gelede, toe sy skielik niks van haar man hoor nie, het sy eers gedink hy kom vroeër huis toe om sy gesin te verras – iets wat hy graag gedoen het.

Die volgende oproep was egter nie een van vreugde nie, maar ʼn oproep om te sê dat haar man êrens in Wes-Afrika deur vermoedelik terroriste gegryp is. “Ek was half histeries en in ʼn toestand. Daardie eerste drie weke was ʼn waas.

“Dit voel nie soos ʼn jaar later nie, dit voel soos gister wat dit gebeur het,” het Amanda gesê.

ʼn Konsert word intussen aanstaande naweek in Potchefstroom gehou om fondse te help insamel sodat Amanda haar en Christo se huis kan probeer behou. Geld wat by die geleentheid ingesamel word, sal deel uitmaak van die backabuddy-inisiatief wat vir die Bothmas van stapel gestuur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harry ·

Dis Afrika, waar niemand regtig veilig is nie, tensy jy saamstaan in jou eie gemeenskap en in afhanklikheid lewe vir Hom wat genoegsaam voorsien en jou bewaar.

Melanie ·

Ek weet dat ons woorde ook dalk vir jou hol klink, maar weet dat ons jou in ons gebede dra en vir Christo ook.. Waarom dit gebeur het, sal ons nie weet nie, en ek weet hoe kan onsekerheid jou hele mens wees verniel… Mag God jul almal deur die ding dra, en finansieel seen, ek dink aan jou

Frank ·

Die hartseerste van die situasie is dat hy heel moontlik dié werk moes doen om sy huis te behou – geen werk in SA. Nou klink dit kan sy geliefdes die huis in elkgeval verloor … ai

Ook 'n Ma ·

In tye soos die bly mens net na aan die Vader, dit is net deur gebed dat mens deur sulke omstandighede kom. Hoop dat die publiek hulle harte oop maak vir julle Amanda, sodat jy die huis kan behou. Glo dat by Hom als moontlik is!

cha ·

Amanda, vind asb uit by die versekering wat met ‘n huislening gepaardgaan, hulle hoort in hierdie geval uit te betaal?

Bekommerd ·

Dis baie tragies. Kan net dink wat die arme gesin deurgaan. Ek mag dalk gemis het, maar wat het van die ander geword wat saam met hom verdwyn het? Baie sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.