Clifton-rob se gedrag ‘ongewoon’

Die rob het Dinsdag eers ’n seun en toe ’n Amerikaanse aktrise beetgekry. (Foto: Skermskoot uit die video op sosiale media)

Dit is nie normale gedrag vir ʼn rob om mense aan te val nie en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) werk saam met ander kundiges om moontlike redes vir die ongewone gedrag vas te stel.

Volgens die Kaap de Goeie Hoop-DBV was van sy inspekteurs op die toneel ná Dinsdag se voorval op Clifton se Vierde Strand in die Wes-Kaap ná ʼn rob eers ʼn seun en toe ʼn Amerikaanse aktrise aangeval het.

Beeldmateriaal van die voorval word wyd op sosiale media versprei en deur die DBV bestudeer. “Robbe is wilde diere en die DBV doen ʼn beroep op mense om geen wilde diere te voed, aan te raak of te nader nie, ongeag die diere se toestand. Mense moet wegbly van enige robbe wat aan ons kuslyne gestrand is.”

In die video kan gehoor word hoe ʼn vrou sê “ag oulik” kort voordat dié rob die baaiers getakel het. Die rob het aanvanklik in die vlak branders op die strand gesit voordat hy weer blitsig die water in is. Strandgangers het gou die water ingevaar om die baaiers te hulp te snel en die rob te verjaag.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het intussen gesê hy is bewus van soortgelyke voorvalle wat in die afgelope maande in onder meer Houtbaai, Yzerfontein, Vishoek en Noordhoek plaasgevind het waar robbe aggressief voorgekom het.

Die rob het Dinsdag eers ’n seun en toe ’n Amerikaanse aktrise beetgekry. (Foto: Skermskoot uit die video op sosiale media)

Volgens die NSRI moet iemand wat deur ʼn rob gebyt word onmiddellik mediese hulp kry aangesien bytplekke ernstig besmet kan word. Die NSRI het ook ʼn beroep op mense gedoen om robbe en ander seediere te vermy.

Die Stad Kaapstad het ook gesê hy is bewus van die voorval en het opnuut ʼn beroep op inwoners gedoen om ʼn veilige afstand van mariene en wilde diere te hou.

Eddie Andrews, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, het gesê mense moenie mariene of wilde seediere nader nie.

“Hul natuurlike reaksie sal wees om hulself te verdedig, wat in aggressiewe gedrag kan ontaard. Beweeg weg van wildlewe om spanning te verminder en behou ʼn veilige afstand. Moet nooit probeer om dié diere aan te raak of saam met hulle vir foto’s te poseer nie. Dit plaas jou en die dier in gevaar. Moet nooit probeer om seediere te voer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LIEZL ·

Dis die rob se natuurlike habitat, in die see. Die mens se natuurlike habitat is op die grond

Linx ·

Kan nie Glo dat hieri kommentaar n af duimpie kry nie,want daar is Geen leuen in Sig nie

E ·

Ek hoop nie dis hondsdoiheid nie. Mense en diere gaan maar baklei vir daai plekkie in die see.

Robert ·

My gedagte ook. Enige soogdier kan dit kry en versprei. Daar is heelwat opgetekende gevalle van robbe en seeleeus wat positief was na aanvalle.

Johanna ·

Men’s is geneig om diere te wil aanraak. Maar wees versigtig. Selfde met honde wat kinders byt. Kinders is geniepsig en Dan verdedig die hond hom. Mense is oorsaak dat dit gebeur nie die dier nie

Perdeby ·

Die rob was seker getart daarom die ongewone optrede. Dit as op die nuus ook hulle vermoed die rob was getart voor die tyd.

Grassie ·

Ek het onlangs in die wildtuin op ‘n stoel by n tafel gesit. ‘n Paar miniatuur ‘mongoosies’ of gebande muishondjies, het my besoek. Een het op my skoot gespring, penregop gesit, die tafel deurgekyk vir iets te ete en toe weer afgespring. Ek het die gebeurtenis baie geniet totdat my seun, wat ‘n dokter is, vir my gesê het as die klein rakker my gebyt het, al is dit net ‘n baie klein wondjie, sou die voorkomende mediese behandeling en medikasie my meer as R8000 gekos het. Ek sien gereeld hoe mense die diere naderlok en probeer troetel al is dit teen die reëls.

Elene ·

Rob sien mens, rob weet nie wat dit is nie want rob het nog nooit so iets gesien nie. Rob beskerm homself, byt en probeer vlug. Wat is so vreemd daaraan? Arme rob het seker baie groot geskrik, arme dier.

Sandra ·

Daar is iewers groot fout, want dit het nooit in die verlede gebeur dat robbe op die strand uitgekom het nie, Houtbaai se robbe bly in die water tusen die vissersbote. Hulle het nooit op die strand uitgekom nie, dis nou al die hoeveelste geval wat ons van hoor waar robbe op die ‘swemstrande’ uitkom en mense aanval. Gaan kyk ook by die Kaapstad waterfront waar die robbe in die hawe swem, hulle het hul plekke waar hul uitkom om in die son te bak.

Koos 100 ·

Gaan robbe ook nou onder ‘n petisie deurloop soos met pitbulls???

Linx ·

In SA Kan mens als te wagte wees,daar Gaan seker weer n skaap geslag word op Dai strand

marius ·

As ek vis moet vreet wat deur mense se riool besoedel is sal daar baie meer as twee gebyt word .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.