Comair vlieg dalk in Desember weer

(Foto: pixabay)

Die lugredery Comair sê hy hervat hopelik in Desember weer sy bedrywighede – mits die sakereddingsplan wat Woensdag aan krediteure voorgelê is, aanvaar word. Krediteure en aandeelhouers het tot 18 September om die plan te oorweeg.

Die sukkelende redery het vandeesweek ʼn sakereddingsplan voorgelê ná onderhandelings met ʼn voorkeurbelegger wat R500 miljoen sal belê vir 99% van die aandele. Volgens Comair sal tot 15% van aandele binne 12 maande aan ʼn geskikte swart ekonomiese bemagting-vennoot toegewys word.

Die eerste R100 miljoen sal in eweredige betalings in September en Oktober as na-aanvangsfinansiering betaal word. Bykomende finansiering van R1,4 miljard is egter nodig om die voorgestelde plan suksesvol in werking te stel. Dit sal tot bykomende skuld van R600 miljoen lei.

Die redery sê bestaande skuld sal uitgestel word om die oorblywende R800 miljoen te betaal, met kapitaalbetalings wat vir 12 maande en rente vir ses maande uitgestel word.

Comair sal nie meer op die JSE genoteer wees nie en ʼn nuwe raad sal mettertyd saamgestel word.

Die sakereddingsplan konsentreer op die beheer van bedryfskoste en die groei van bykomende inkomste.

In ooreenstemming hiermee gaan die werksmag van nagenoeg 2 200 tot 1 800 verminder word deur ʼn vrywillige afleggingsproses en vroeë aftredes, asook met die voortsetting van die afleggingsproses waarmee die maatskappye voor die aanvang van die sakeredding begin het.

Volgens die sakeredders gaan Comair se vloot bestaan uit 20 vliegtuie, waarvan 17 nuwe generasie Boeing 737-800’s en die oorblywende drie Boeing 737-400’s sal wees.

Die vliegtuie sal volgens die plan vanaf Desember geleidelik in bedryf gebring word.

Ander kwessies in die voorgestelde plan sluit in die voortgesette vennootskappe met British Airways, Discovery Vitality en Boeing.

Sou sekere van die opskortingsvoorwaardes nie nagekom word nie, stippel die plan ook uit  hoe die maatskappy op ʼn gestruktureerde manier afgewentel word om ʼn beter opbrengs – as likwidasie – vir krediteure te verseker.

Richard Ferguson, een van die sakereddingspraktisyns, sê indien krediteure die plan goedkeur, die sakereddingsproses teen 31 Maart volgende jaar – indien nie vroeër nie – afgehandel sal wees. Comair sal daarna as ʼn volhoubare onderneming voortgesit kan word.

“Dit is belangrik om te besef dat wat met Comair gebeur het, die gevolg van ʼn ekostelselprobleem was wat wêreldwyd tot die opskort van nagenoeg 600 rederye se bedrywighede gelei het. Daar was niks sakespesifiek nie.

“Comair is ʼn nasionale bate. Deur dit weer te laat vlieg, gaan 1 800 werksgeleenthede gered word, die vliegpubliek gaan ʼn groter keuse en mededingende tariewe sien, die lugvaartbedryf gaan versterk word en dit gaan ʼn bydrae tot die breër Suid-Afrikaanse ekonomie lewer,” het Ferguson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Comair is ‘n lugdiens om op trots te wees. Dit was al die jare nog goed bestuur en was net die slagoffer van die huidige pandemie. Sal baie goed wees as dit as beelddraer van land kan voortgaan. Wat my naar maak is die obsessie met swartbemagtiging wat weer 15% moet kry!!!Dit sal heelwaarskynlik weer ‘n tenderpreneurkandidaat wees wat net sal skep!. Wanneer gaan die ras/kleurtwak ophou??

Pieter ·

Ek hoop hulle kan dan my geld wat hulle my skuld terugbetaal. Comair is konsuis onder “debt review” en derhalwe kan hulle my nie vergoed vir ‘n kaartjie wat ek reeds betaal het van die Kaap af JHB toe in Mei maand nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.