Cosatu se stellings oor boere is ‘laaste strooi’

TLU SA sê Cosatu se stellings is ‘n gruwelike veralgemening wat die verhouding tussen boere en die werkers op hul plase skade berokken. (Argieffoto: Du Preez de Villiers)

Die landbouorganisasie TLU SA het ʼn klagte van haatspraak by die Menseregtekommissie (MRK) teen die vakverbond Cosatu aanhangig gemaak en eis skadevergoeding ná bewerings dat plaaswerkers landwyd uitgebuit en mishandel word.

Cosatu het in sy verklaring oor Menseregtedag (wat Dinsdag gevier is) gesê “nêrens is menseregte meer in die gevaar as op plase landwyd nie, waar werkers die minste regte geniet en die meeste uitgebuit en misbruik word”.

“Genadelose werkgewers steel armoedelone, skop huurders summier uit hul huise, terwyl hulle hul werkers soms aanrand, verkrag en selfs vermoor,” het Cosatu aangevoer.

Die vakverbond sê ook werkers op plase word dikwels gedwing om op openbare vakansiedae te werk en kan nie hul swaarverdiende regte geniet nie.

“Dit is tyd dat ons aan plaaswerkers en hul gesinne hul eie huise en grond gee en hulle beskerm teen die ewigdurende dreigement van uitsetting.”

TLU SA sê hy het na dié “ongegronde en benadelende stellings” teen boere besluit om ʼn streep te trek en die klagte by die MRK aanhangig te maak.

Die organisasie sê ook dit is onaanvaarbaar dat enige instansie sodanige veralgemening kan maak, sonder enige behoorlike gronde daarvoor. TLU SA eis dat Cosatu onvoorwaardelik verskoning moet aanbied teenoor elke boer in die land en verder skadevergoeding van R5 miljoen betaal aan slagoffers van plaasaanvalle.

“Dit is asof Cosatu elke dan en wan besef hy het iets nodig om blootstelling te kry en politieke munt uit te slaan en dan besluit om opruiende stellings te maak oor iets wat hy weet sy ondersteuners gaan ondersteun, soos dat boere moordenaars, rassiste en verkragters is – sonder om te dink aan die werklike nagevolge wat dit vir boere inhou,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Cosatu se stellings is ʼn “gruwelike veralgemening” en probeer politieke punte wen ten koste van die goeie verhouding tussen boere en hul werkers, sê Van Zyl.

“TLU SA se standpunt is deurentyd dat indien daar enige oortreding van ʼn wet is, die regsproses sy gang moet gaan. Daar waar ʼn oortreding plaasvind, moet ʼn saaknommer verskaf word as bewys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.