Covid-19 : ‘3 moontlike scenario’s vir SA’

dr-frans-cronje-afrisake-2018-06-05

Dr. Frans Cronjé, ʼn scenariobeplanner en die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV). Foto: Reint Dykema.

Dit kan moontlik 18 tot 24 maande neem vir die Covid-19-pandemie om sy volle gang te gaan, sou die algehele landwye afsondering en ander maatreëls daarin slaag om die verspreiding van die nuwe koronavirus te beperk totdat daar eindelik ’n entstof gereed is.

Só het Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), Donderdag tydens ʼn mediakonferensie gesê waarin daar bespiegel is oor drie moontlike scenario’s vir Suid-Afrika te midde van die pandemie.

Cronjé verduidelik dat dié scenario’s gegrond is op die slegste geval-aanname dat 80% van die wêreld se bevolking Covid-19 kan kry, sowat 10% van die wêreld se bevolking ernstig siek kan word en dat 1% tot 2% van die wêreld se bevolking weens Covid-19 kan sterf. Hierdie aanname kan egter verkeerd wees.

Volgens Cronjé kan Suid-Afrika ietwat ligter as ander lande hiervan afkom aangesien die gemiddelde ouderdom van die bevolking jonger is en die klimaat warmer is. Dit hang ook af van hoe goed landsburgers die regulasies tydens die tydperk van algehele afsondering gehoorsaam.

Scenario 1

Scenario 1 behels dat die afsondering daarin slaag om die kurwe te laat afplat totdat ʼn entstof vir Covid-19 beskikbaar gereed is. Dit kan tot 18 maande neem vir ʼn entstof om beskikbaar gestel te word, hoewel medici baie hard daaraan werk om ʼn geneesmiddel te kry. “Die tyd wat dit neem om ʼn entstof te ontwikkel is die belangrikste maatstaf om die maksimum duur van die virus te skat,” meen Cronjé.

Volgens Cronjé was tussen sewe en tien miljoen mense in Suid-Afrika sowat ʼn maand gelede van ʼn inkomste verseker. Dié groep is nou nie meer so seker dat hulle in die komende maande ʼn inkomste gaan verdien nie.

Sou scenario 1 in Suid-Afrika van toepassing wees, word daar geskat dat tussen 7,6 miljoen en 9,6 miljoen mense hul werk as gevolg van Covid-19 kan verloor en die land se werkloosheidsyfer gevolglik tot 40% of hoër kan styg. Die werkloosheidskoers sal egter met die verloop van tyd daal, soos ʼn entstof toegedien word en bedrywighede na normaal terugkeer.

Volgens Cronjé kan tussen 30% en 60% van Suid-Afrikaners gedurende dié scenario Covid-19 opdoen, waarvan 1% weens die virus kan sterf.

Daar is wêreldwyd ‘n tekort aan beskermende mediese toerusting weens die uitbreking van Covid-19. (Foto: Timothy Bernard/ANA)

Scenario 2

Dié scenario is die ergste moontlike scenario: Dit voorsien nie ʼn entstof nie. Dit voorsien ook dat die afsondering nié daarin kon slaag om die verspreiding van Covid-19 te beperk nie. Dit kan wees dat bejaardes Covid-19 opgedoen het in die rye om hul maatskaplike toelae te ontvang of die verslapte regulasies in die taxi-bedryf die virus help versprei het. Sou dié situasie van toepassing wees, kan tot soveel as 80% van Suid-Afrika se bevolking Covid-19 in ʼn kwessie van weke opdoen. Dit kan beteken dat die land se gesondheidsorgstelsel oorweldig word, wat kan veroorsaak dat sowat 2% van die bevolking aan Covid-19 kan sterf.

Die pandemie in Suid-Afrika sal in dié geval drie tot vier maande lank duur. Talle voorkombare sterftes kan in dié tyd aangemeld word, verduidelik Cronjé.

Scenario 2 maak voorsiening daarvoor dat tussen 7,6 miljoen en 9,6 miljoen mense hul werk weens Covid-19 kan verloor en die werkloosheidskoers tot meer as 50% styg. Die situasie laat egter nie ruimte daarvoor dat die werkloosheidskoers herstel nie.

Scenario 3

Dié scenario is die mees waarskynlike scenario in Suid-Afrika. Dit behels dat die algehele afsondering daarin slaag om die kurwe van infeksies te laat afplat, hoewel ʼn tweede of derde golf infeksies later in sekere dele van die land kan uitbreek. Daardie streke sal dan weer in afsondering moet gaan. Dit sal so aanhou totdat ʼn entstof beskikbaar gestel word.

Dit kan beteken dat tussen 7,6 miljoen en 9,6 miljoen mense aanvanklik hul werk kan verloor. Die werkloosheidskoers styg in dié scenario ook tot bo 50%.

(Foto: Vincent Thian/AP)

Tussen 60% en 80% van Suid-Afrikaners kan in dié scenario Covid-19 opdoen. 1% tot 2% van dié pasiënte kan weens die virus sterf. Die pandemie sal volgens dié scenario tussen ses tot 18 maande duur.

Ekonomiese groei

Suid-Afrika se ekonomiese groei vir 2020 sal natuurlik verskil afhangende van watter scenario met verloop van tyd blyk. Volgens Cronjé kan Suid-Afrika se ekonomiese groei in scenario 1 op tussen -2% en -5% staan afhangende van hoe dinge in die buiteland verloop.

In scenario 2 kan Suid-Afrika se ekonomiese groei op -7% te staan kom en kan dit jare neem om te herstel.

Suid-Afrika se ekonomiese groei kan volgens scenario 3, die mees waarskynlike scenario vir Suid-Afrika, op enigiets tussen -5% en -10% te staan kom, meen Cronjé.

Volgens Cronjé moet daar in gedagte gehou word dat sowat twee miljoen huishoudings in Suid-Afrika in informele nedersettings woon. Slegs 35% van die Suid-Afrikaanse bevolking is egter bo 35 jaar oud. Dít tel in Suid-Afrika se guns, aangesien ouer mense meer vatbaar is vir Covid-19. Suid-Afrika se bejaardes is egter ook kwesbaar aangesien hulle in lang rye staan om maatskaplike toelae te ontvang en kruideniersware te koop, sê Cronjé.

“Hoewel navorsing dit nog nie bevestig het nie, is daar wel bewyse wat voorstel dat die virus ʼn aansienlik korter tyd in warm klimaat oorleef. Suid-Afrika gaan egter nou in ʼn winter in,” het Cronjé bygevoeg.

Hy sê dat pogings om Covid-19 te bekamp dus grootliks gaan afhang van hoe goed landsburgers die regulasies van die algehele afsondering nakom.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Joggie ·

Die sin ;”word daar geskat dat tussen 7,6 miljoen en 9,6 miljoen mense hul werk as gevolg van Covid-19 kan verloor” word by elke scenario herhaal? Almal verloor hulle werk? Maak nie sin nie!

Erik ·

Baie dankie. Al drie scenario’a is dus slegte nuus. Ek sal graag scenario’s wil sien van hoe lank die lockdown sal voortgaan? Ek verstaan nie die punt van die lockdown indien ons almal na 21 dae weer gaan aangaan soos normaal nie? En ons kan tog nie vir 12 – 18 maande in lockdown wees nie? Dan begin die virus mos net weer van vooraf versprei of hoe? Ahoewel ons bevolking redelik jonk is en dit in ons guns tel, tel die swak gesondheid (TB, Vigs, swak voeding) tog seker teen ons?

Faraway ·

Winter is oppad en dit gaan dinge nog moeiliker maak.
Feit dat inperkinge met tyd verslap word soos nou die geval is , gaan verspreiding aanhelp.
21dae gaan verseker nie lank genoeg wees om die virus te stop nie
SA se ekonomie is geknak en miljoene gaan hul werk verloor.
GOD se toorn het ontvlam . . . Mag GOD berou kry en SY grimmigheid afwend oor die aarde!

Jaco ·

God is sonder sonde. Hoekom moet Hy dan nou “berou”kry? Hy het mos niks verkeerds gedoen nie?

Sharnelle ·

Ongelukkig weier ek om die entstof te neem. Dit kom al meer en meer uit op social media. Moenie laat die entstof n rat voor julle oe draai en dink dit gaan die virus voorkom nie. Gaan doen bietjie research wat is Bill Gates se planne en dit moet glo eerste op Afrika uitgetoets word. Search Stephen Ben-Nun op youtube, julle nekhare sal regop staan hoeveel waarheid hy praat en dit wat tans besig is om plaas te vind.

Johan Venter ·

Steven en sy vrou het beide baie mal teorieë, sal eerder als wat hulle kwyt raak met n knippie sout neem

Jaco ·

watter scenario ook al uitspeel, die volgende gaan beslis gebeur:
die eerstes wat hulle werk gaan verloor, sal wit mense wees
na die virus weg is en besighede begin herstel, sal wit mense weens regstellende aksie nie werk kry nie
Klein wit besighede het reeds laas week gehoor hulle kry nie staatshulp om te herstel nie. hulle sal na die virus weg is, baie gou deur die staat oorgevat word ter wille van BEE en transformasie
onteiening sonder vergoeding sal baie gou na die virus weg is begin.
Kortom, na die virus weg is gaan die ANC alles doen om finaal van ons wit mense ontslae te raak.

Hoe nou? ·

Bereken bietjie hoeveel mense nie hul werk hoef te verloor as vetkat topbestuur hul bonusse en elk n maand salaris skenk soos Disney se topbestuur nou doen. Ek lees hulle Voorsitter het sy jaarlikse salaris ten volle afgestaan. Klink n billike plan.

Simon ·

Daar is nog baie ander scenarios wat op baie ander verskillende modelle gebaseer kan word. Kyk maar hoe die verskillende lande op uiteenopende wyse verskil om die pandemie te beveg en almal word gelei deur hul eie kenners en wetenskaplikes. Die een enkele scenario wat almal vermy om oor te gesels is die natuurlike weg wat die virus sal volg sonder die ingryping van die mens. Dit mag wreed klink maar dis ‘n naakte werklikheid waateen ons ons blind staar. Hierdie planeet van ons staan elkgeval op die rand van ‘n afgrond. Wereld ekonomie gaan val, die groot moonthede gaan paniek besluite neem, mense gaan werke verloor en hongersnood gaan gebeur. Dit alles gaan een of ander tyd ‘n wereldwye kernbom oorlog to gevolg he in n poging om dinge te normaliseer met of sonder ‘n vernietigende virus. Ek kies eerder die natuurlike gevolge van hierdie virus as die totale globale vernietigende gevolge van ‘n kern oorlog. Soms wonder ek of hierdie virus nie juis vir daardie doel gekweek is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.