Covid-19: Dokter in Noordwes toets positief

Madoda Sambatha, LUR vir gesondheid in Noordwes (Foto: Twitter/@NorthWestDOH via ANA)

ʼn 47-jarige dokter by Mahikeng- provinsiale hospitaal in Noordwes het positief getoets vir Covid-19, het Madoda Sambatha, provinsiale LUR van gesondheid, Woensdag gesê.

“Ons is besig om persone te kontak met wie hy in kontak was kragtens die riglyne van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), die departement van staatsdiens en administrasie en beroepsgesondheid en -veiligheid,” het hy aan verslaggewers gesê.

“Die betrokke dokter en ander werknemers het behoorlike persoonlike beskermingstoerusting gedra. Voortgesette ontsmetting van die betrokke eenhede word gedoen volgens die nodige riglyne. Die eenheid sal dus nie gesluit word nie, aangesien die risiko vir besmetting laag is indien daar aan veiligheidsmaatreëls voldoen word.”

Die dokter het ook by die Victoria- privaat hospitaal in Mahikeng gewerk, waar die kraamsaal en teater geraak is. Altesaam 22 personeellede, twee dokters en 21 pasiënte is geïdentifiseer as persone met wie die dokter in kontak was.

“[Die dokter] het ook 104 pasiënte by sy privaat spreekkamer gesien. Daardie sale en sy privaat spreekkamer is gesluit en ontsmet. Die dokter was by Mahikeng-hospitaal in kontak met 12 dokters, 29 verpleërs en 70 pasiënte.”

Twaalf gesondheidswerkers in Noordwes – insluitend dokters en verpleërs – het tot dusver positief getoets vir Covid-19. Ses was in die privaat sektor en ses in diens van die staat. Twee provinsiale polisiebeamptes het ook positief getoets, een van Brits (Madibeng-munisipaliteit) en een van Klerksdorp (Matlosana-munisipaliteit).

“Die Madibeng-saak is ʼn 47-jarige vroulike polisiebeampte. Sy is in isolasie by Job Shimankana Tabane-hospitaal hangende oorplasing na La Femme Peglerae en is in ʼn stabiele toestand,” het Sambatha bygevoeg.

“Die saak in Matlosana is ʼn 37-jarige vroulike polisiebeampte wat in Matlosana ontplooi was. Persone met wie sy in kontak was, is opgespoor en die beampte word behandel kragtens die betrokke riglyne. Sy is in isolasie by ʼn privaat fasiliteit.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

1 persoon geïnfekteer en daars ‘n hele geskarrel. Maar plaasaanvalle wat met marteling en moord gepaard gaan word hoogstens as “gewone misdaad” beskou en die enkele aanvallers wat wel gevang word, kry ligte vonnisse. Oor 2 jaar is hulle uit die tronk, net om dadelik weer verkeerde goed te doen.
Voorwaar ‘n vreemde land waarin ons bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.