Covid-19: Duisende Gautengse onnies vra vir spesiale verlof

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Meer as 3 000 onderwysers en kantoorpersoneel van skole in Gauteng het teen verlede maand aansoek om spesiale verlof gedoen, aangesien hulle aan komorbiditeite ly. Dít terwyl byna 1 000 onderwysers in dié provinsie teen verlede week reeds positief getoets het vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Gauteng is tans die episentrum van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.

Die provinsiale wetgewer het in sy jongste weeklikse verslag rakende Covid-19 meer duidelikheid gegee oor die aantal positiewe gevalle in sy skole, oor onderwysers en leerders se klasbywoning en die aantal aansoeke om tuisonderrig.

Luidens dié verslag was daar teen Junie vanjaar 3 699 onderwysers in Gauteng ouer as 60 jaar oud, wat beteken dat hulle ʼn hoë risiko het om ernstig siek te raak weens Covid-19. Meeste van dié onderwysers (2 117) gee skool by laerskole.

Altesaam 3 620 onderwysers en kantoorpersoneel in Gauteng het teen dié tyd aansoek om spesiale verlof gedoen omdat hulle aan ander onderliggende siektes ly. Slegs 658 van dié aansoeke is egter goedgekeur, toon die verslag.

Volgens die Gautengse wetgewer kan die groot aantal aansoeke om spesiale verlof weens komorbiditeite moontlik skole se beskikbare onderrigkapasiteit beïnvloed.

Bevestigde gevalle Covid-19

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Luidens die verslag is 1 254 Gautengse skole reeds deur Covid-19 geraak met 402 leerders en 977 onderwysers wat teen verlede Woensdag positief getoets het vir dié virus.

Byna 100 administratiewe personeellede van skole in Gauteng het terselfdertyd reeds die nuwe koronavirus opgedoen.

Luidens die verslag het 154 skole teen verlede Woensdag gesluit om ontsmet te word nadat bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld is, word daar in die verslag gemeld.

Altesaam 656 van die 713 onafhanklike (private) skole in Gauteng was in dié stadium oop en 57 gesluit.

Dit is ook duidelik uit die verslag dat leerders in hoër grade, sowel as onderwysers, meer geneë is om skool in dié tyd by te woon, as leerders in laer grade.

Luidens die verslag was gr. R-leerders se gemiddelde klasbywoning teen verlede week net ongeveer 23%, terwyl sowat 53% van gr. 7-leerders skool bygewoon het.

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Gr. 11-leerders se gemiddelde bywoning was meer as 61% met gr. 12-leerders wat ʼn gemiddelde klasbywoning van meer as 70% behaal het.

Gautengse gr. R-onderwysers het ten spyte van ʼn baie lae klasbywoning onder leerders teen verlede Woensdag ʼn gemiddelde klasbywoning van meer as 69% gehad. Gr. 12-onderwysers in dié provinsie se gemiddelde klaswoning het terselfdertyd op meer as 76% gestaan.

Tuisonderrig

Die Gautengse departement van onderwys het tussen Februarie en Junie altesaam 223 aansoeke om tuisonderrig ontvang.

Altesaam 790 leerders in Gauteng was dus teen verlede Woensdag geregistreer om tuis onderrig te word, toon die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Spyker ·

Logika sê vir my die skole moet maar sluit en volgende jaar van voor begin.
Dit is n jaar waar standaarde verlaag moet word en dit is onaanvaarbaar

Talia ·

Wat gebeur volgende jaar as ons moet oor begin? Daar is kinders wat volgende jaar Graad R toe moet gaan. Gaan niemand volgende jaar eerste jaar studente wees nie. Hoe wil jy dit doen?

Mariana ·

Verstaan nie heeltemal hoekom so baie onderwysers nou siek is of vra vir verlof nie. Klink meer na ‘n beraamde plan vir skole om gesluit te word want sekere “experts” en unies wil dit mos so hê. Dit klink net te toevallig. Kinders gaan agterstand hê maar selfs dit maak geen verskil nie.

Warrior ·

Ons onnies WIL werk… ja ons vat ook risikos om b d skool te wees. Baie kinders en kans vir covid groot. As ons siek word kry ons mans en kinders dit ook, as my man moet tuis bly vir selfisolasie is dit no work no pay. Nes jy oor jou lewe besorg is, so is ons lewens ook werd vir ons mense. Ons werk dat dit klap en ons is moeg vir negatiewe mense soos jy se opmerkings oor onnies.
Waar werk jy? In n kantoor? Hoeveel mense het jy om jou?
Ons ruimtes is beperk. Met baie kinders.
So wat dink jy is d kans vir my om nie covid so op te doen nie? Eks diabeties- hoë risiko …maar ek werk. Vee skoon voor jou eie deur …

Harry ·

Vir amptenare wie deur die staat betaal is die posisie heelwat anders as beheerliggaam aanstellings. Geen skoolgeld geen salaris gaan meer en meer n probleem raak.

Drico ·

Nou goed dan. Sluit die skole vir die res van die jaar. 2021 moet almal hul grade oordoen. Met ander woorde, van Gr R tot matriek van 2020 moet asb 2021 weer hul jaar oordoen. Niemand mag slaag nie. Die universiteite sal ten minste n jaar geniet waar daar geen nuwe studente is nie aangesien geen student in 2020 mag matrikuleer nie. Onderwysers moet almal tuis bly en mag onder geen omstandighede in die publiek gewaar word nie en ook nie n inkomste verdien nie. Hul eggenote wat elders werk mag ook nie saam met hulle in 1 huis bly nie, elke onderwyser moet in alleenheid afgesonder en geisoleerd bly. Sodoende bewaar ons, ons land se onderwysers tot hierdie epidemie opgelos is en dit weer veilig is vir onderwysers om by die samelewing in te skakel.

Warrior ·

Ag R, onnies se lewens is net soveel werd as jou of jou kinders se lewens.
Verder werk ons ons flou om te verseker dat elke kind leermateriaal het, ons bel, ons whatsapp ons email en video en zoom ander skype, alles vir d kinders.
Sommige OUERS stuur hul siek kinders skool toe. Part kinders sukkel met maskers, ons het kinders wat gestremd is, doof is ens.
Dink bietjie uit d boks.

Theo ·

Dink die getalle bevestig hoe gevaarlik dit is by skole om die virus op te doen…..verspreiding netwerk vir die virus. Maar laai taxi’s vol en laai hulle dan by skool af en dan moet hulle veilige afstand haantaaf.

popsa ·

Die feit is dat ware, suksesvolle, doeltreffendende skoolonderrig voortdurende en volkome veiligheid en sekuriteit benodig vir leerling sowel as onderwyser. Onder die huidige omstandighede kan daar fisies in die klaskamer slegs gepoog word om die beste van ‘n slegte saak te maak. Vele faktore (oa tydsdruk, verdeelde aandag, sosiale afstand, die maskersituasie en meer) speel huidiglik ‘n primêre rol om ware doeltreffende onderwys in die klaskamer te belemmer. Getroue onderwysers kan te midde van al sodanige faktore slegs poog om die paar leerlinge wat wel opdaag sinvol besig te hou, en dit te midde van die swaard van Covid 19 wat daagliks in die klas bo hul koppe hang. Tuisonderrig wat swaar steun op tegnologie is huidiglik die beste, veiligste opsie wat spanning sal verlig by alle rolspelers, maar die hartseer dilemma is dat dit vir slegs ‘n klein persentasie leerlinge beskikbaar is. Ja, skole kan oop wees, maar van ideale doelgerigte, suksesvolle onderrig sal daar nie sprake wees nie.

Talia ·

Die kinders by die skole word in 2 groepe gedeel. So groep 1 sal Maandag, Woednesdag, Veydag skool toe gaan en dan groep 2 Dinsdag en Donderdag. Die week daarna ruil hulle. Daar is minder kinders by die skool want die skool vereis dit so. Moenie sê sowat 50% van graad 7’s is by die skool nie, dis fals, net 50% kan daar wees op n slag. Dis verlyende nuus. Die skole hier in Pretoria Oos doen baie goed, en ek is tevrede as hulle oop bly.

Warrior ·

Wat verstaan julle nie? Kry al jul feite bymekaar oor onnies en hul omgewing.
Nie almal werk by blanke skole nie. Daars taxis. Siek kinders. Dom astrante ouers. Self n ma met 2 kinders. Ek werk v d skool af en ook na ure om almal gelukkig te hou. Nee, ons kry nie oortyd betaling nie. Word ek siek en steek man en kinders aan sit ek nes baie v julle met n finansiële krisis. Alles het implikasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.