Covid-19: Geleidelike uitfasering van afsondering aangekondig

Pres. Cyril Ramaphosa (Maart 2020) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand gesê die algehele landswye afsondering sal trapsgewys opgehef word.

Die president het Donderdag met die nasionale beheerraad vergader om die gewysigde risikostrategie te bespreek om ekonomiese aktiwiteit te laat hervat. Die riglyne is ook met die politieke partye, wat in die parlement verteenwoordig word, bespreek.

Maroela Media het vroeër berig 3 953 gevalle van Covid-19 is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld met 75 sterftes. Altesaam 1 473 persone het herstel.

Pres. Ramaphosa het gesê minstens 2,6 miljoen gevalle is wêreldwyd bevestig met meer as 185 000 sterftes.

Die president het benadruk vir persone met onderliggende siektes soos hartsiektes, diabetes, asemhalingsiektes of kanker, kan Covid-19 dodelik wees. “As die virus te vinnig deur ʼn samelewing versprei kan dit die gesondheidsorgstelsel oorweldig. Dit het reeds in talle lande gebeur en dit is waarom ons buitengewone maatreëls toegepas het om ʼn skielike en eksponensiële verspreiding te voorkom. As die virus te vinnig versprei, is daar nie genoeg hospitaalbeddens, hoësorgeenhede, ventilators, persoonlike beskermingstoerusting of medikasie vir diegene wat dit benodig nie. Persone wat aan ander toestande ly of nooddienste benodig, sal dus ook nie die sorg kan ontvang wat hulle nodig het nie. Talle lewens wat dus gered sou kon word, sal verlore gaan.”

Die president het gesê hy herhaal dié basiese feite, sodat die publiek ʼn begrip kan hê vir die riglyne wat tot dusver ingestel is en die maatreëls wat in die toekoms sal geld.

“Sedert ons die koronavirus-pandemie op Sondag, 15 Maart, as ʼn nasionale ramptoestand verklaar het, het ons gepoog om die verspreiding van die virus te vertraag. Ons het gevolglik die geleentheid gehad om ons gesondheidsorgfasiliteite voor te berei en noodsaaklike mediese voorraad te mobiliseer om die onafwendbare toename in besmettings te kan hanteer.”

Ramaphosa het gesê die Wêreldgesondheidsorganisasie het Suid-Afrika geloof dat die land vinnig reageer het en wetenskaplike raad gevolg het om die verspreiding van die virus te vertraag.

“Alhoewel ʼn algehele landswye afsondering die mees doeltreffende manier is om die verspreiding van die virus te beheer, kan dit nie onbepaald volgehou word nie. Ons mense moet eet. Hulle moet ʼn inkomste kan verdien. Maatskappye moet kan vervaardig en handel dryf; hulle moet ʼn inkomste kan genereer om hul werknemers in diens te hou.”

Ekonomiese aktiwiteit sal trapsgewys hervat

Die president het gesê die afsonderingsperiode duur nog tot 30 April voort, maar sal daarna geleidelik uitgefaseer word sodat ekonomiese aktiwiteit trapsgewys kan hervat.

“Ons sal ʼn aangepaste risikostrategie volg waardeur ons ʼn doelbewuste en omsigtige benadering sal volg om die afsonderingsmaatreëls op te hef. Ons het op dié benadering besluit, omdat daar steeds nie baie inligting beskikbaar is oor die koers en manier hoe die virus in ons bevolking gaan versprei nie. Die stappe wat ons nou doen, moet dus weldeurdag en geleidelik wees.”

Die benadering is gebaseer op raad van wetenskaplikes wat gewaarsku het dat ʼn skielike en onbeheersde ophef van maatreëls daartoe sal lei dat besmetting onbeheersd plaasvind.

“Ons moet ʼn oorhaastige hervatting vermy sodat ons nie weer ʼn algehele landswye afsondering moet instel nie – soos wat in ander lande gebeur het nie.”

Vyf koronavirus-vlakke

As deel van die benadering sal daar vyf koronavirus-vlakke wees, het die president verduidelik.

  • Vlak 5: Drastiese maatreëls word vereis om die verspreiding van die virus te bekamp om lewens te red.
  • Vlak 4: Sommige aktiwiteit word toegelaat onderworpe aan uiterste voorsorgmaatreëls om gemeenskapsoordrag en uitbrekings te beperk.
  • Vlak 3: Sommige maatreëls kan opgehef word, insluitend werk en sosiale aktiwiteit, om ʼn hoë risiko van oordrag te takel.
  • Vlak 2: Verdere beperkings word opgehef, maar sosiale distansiëring en beperking op sekere ontspannings- en sosiale aktiwiteit duur voort om ʼn hernude verspreiding van die virus te voorkom.
  • Vlak 1: Normale aktiwiteit kan hervat, met voorsorgmaatreëls en gesondheidsriglyne wat te alle tye gevolg moet word.

“Om seker te maak ons reaksie op die pandemie kan so presies en doelgemaak as moontlik plaasvind, sal daar ʼn nasionale vlak wees met afsonderlike vlakke vir elke provinsie, distrik en metro in die land,” het die president verduidelik.

“Ons is tans op vlak 5, wat ʼn algehele landswye afsondering vereis om die verspreiding van die virus te voorkom. Dit is die hoogste vlak van afsondering en is ingestel toe drastiese optrede nodig was om oordrag te beperk.

“Die nasionale koronavirus-beheerraad sal die koronavirus-vlak bepaal gebaseer op ʼn assessering van die infeksiekoers en kapasiteit van ons gesondheidsorgstelsel en om behandeling te kan bied aan diegene wat dit benodig.”

Ekonomiese aktiwiteit

Die president het gesê ʼn gedetailleerde assessering is gedoen om die verskillende dele van die ekonomie te klassifiseer wat betref die risiko van oordrag in daardie bedryf; die verwagte impak van die afsonderingsperiode; die ekonomiese bydrae van die bedryf en die impak op menselewens.

“Die betrokke ministers sal ʼn gedetailleerde uiteensetting gee oor die klassifikasie van die bedrywe en hoe elkeen op elke vlak geraak word. Ons sal organisasies in die bedrywe die geleentheid bied om die besonderhede te oorweeg en terugvoer te gee voor die nuwe riglyne in die Staatskoerant gepubliseer word.”

Die beheerraad het Donderdag vergader en bepaal dat koronavirus-vlak 4 vanaf Vrydag, 1 Mei 2020 in werking sal tree.

“Dit beteken dat sommige aktiwiteit toegelaat sal word, onderworpe aan uiterste voorsorgmaatreëls om gemeenskapsoordrag en uitbrekings te voorkom.”

Sommige ondernemings sal toegelaat word om hul bedrywighede onder spesiale voorwaardes te hervat.

“Elke onderneming sal moet voldoen aan gedetailleerde gesondheid- en veiligheidsprotokol om hul werknemers te beskerm en planne sal in plek gestel moet word om siektes te monitor en die verspreiding van die virus te voorkom.”

Alle ondernemings wat toegelaat word om bedrywighede te hervat, sal dit in ʼn geleidelike manier moet doen. Die werksplek moet eerstens voorberei word voor bedrywighede kan hervat en die personeel moet in groepe van, nie meer as ʼn derde nie, terugkeer.

In sommige gevalle sal ʼn bedryf nie tydens vlak 4 tot volle produksie kan terugkeer terwyl die risiko van besmetting hoog bly nie. Meer besonderhede sal volgende week hieroor bekend gemaak word ná ʼn finale rondte van konsultasies, het Ramaphosa bygevoeg.

“Maatskappye word aangemoedig om ʼn werk-van-die-huis-af-strategie te volg waar dit moontlik is vir personeel. Alle personeel wat oor ʼn afstand kan werk, moet toegelaat word om dit te doen.

“Die betrokke ministers sal besonderhede verskaf oor die proses vir die trapsgewyse heropening van skole en ander onderwysinstansies.”

Koronavirus-vlak 4

Wanneer vlak 4 op 1 Mei 2020 in werking tree sal:

  • alle grense gesluit bly op ʼn internasionale vlak, buiten vir die repatriasie van Suid-Afrikaanse burgers en internasionale besoekers;
  • geen reise toegelaat word tussen provinsies nie, buiten die vervoer van goedere en buitengewone omstandighede soos begrafnisse;
  • openbare vervoer voortduur, met beperkings op die getal passasiers en streng higiëne-vereistes, insluitend dat alle passasiers ʼn gesigmasker moet dra;
  • die publiek aangemoedig word om by die huis te bly, buiten vir noodsaaklike persoonlike beweging soos noodsaaklike werk en werk in bedrywe wat beheersd hervat word;
  • persone onder streng openbaregesondheidsvoorwaardes oefeninge kan doen;
  • alle byeenkomste, buiten begrafnisse en vir werk, steeds verbied word;
  • diegene wat bejaard is en diegene met onderliggende toestande by die huis moet bly en bykomende maatreëls toepas om hulself te isoleer;
  • die verkope van sigarette toegelaat word; en
  • die rits goedere wat verkoop mag word uitgebrei word om sekere bykomende kategorieë in te sluit. Die betrokke ministers sal besonderhede verskaf.

“Dit is belangrik om daarop te let dat verskeie beperkings sal geld ongeag die koronavirus-vlak solank as wat die risiko van oordrag teenwoordig is,” het die president gewaarsku.

Dit sluit in:

  • kroeë en shebeens sal gesluit bly;
  • konferensiesentrums en konvensiesentrums, vermaakvenues, flieks, teaters en konsertsale sal gesluit bly; en
  • konserte, sportgeleenthede, godsdienstige, kulturele en sosiale byeenkomste sal nie toegelaat word nie totdat dit veilig is om te hervat.

75% van gevalle binne slegs ses munisipaliteite

“Die koronavirus versprei deur kontak tussen mense. As mense nie reis nie, dan reis die virus ook nie. Ons het byvoorbeeld gesien dat slegs een begrafnis in Port St Johns en een godsdienstige byeenkoms in Bloemfontein tot ʼn rits infeksies in die betrokke provinsies gelei het.

“Uit die bewyse wat ons het, weet ons dat 75% van die bevestigde gevalle binne slegs ses metro-munisipaliteite aangetref word: Johannesburg, Ekurhuleni, Kaapstad, Buffalo City, Ethekwini en Mangaung.

“Dit is dus noodsaaklik dat ons alles in ons vermoë doen om die beweging van mense te beperk en, alhoewel dit vir ons teenstrydig is met ons aard, om die kontak tussen mekaar te verminder. Uiteindelik is dit ons optrede, as individue, wat sal bepaal hoe vinnig die virus versprei.

“As ons almal aan die riglyne voldoen, kan ons die virus onder beheer hou en sal die mees drastiese beperkings nie weer ingestel word nie. Was jou hande gereeld met seep en water of gebruik ʼn alkohol-gebaseerde ontsmetmiddel. Hou ʼn afstand van een meter tussen jou en die volgende persoon, veral diegene wat hoes of nies. Probeer om nie aan jou mond, neus of oë te vat nie, omdat jy dalk aan ʼn oppervlak geraak het waarop die koronavirus was. Bedek jou neus en mond met ʼn sneesdoekie of die boog van jou elmboog as jy wil hoes of nies en gooi die sneesdoekie dadelik weg.”

Die president het gesê terwyl die afsonderingsriglyne vanaf Mei geleidelik opgehef word, doen hy ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om ʼn gesigmasker te dra wanneer hulle ook al die huis verlaat.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

PieterP ·

Ja uncle Cyril, die syfers lyk glo beter dus kan ons die op ‘n ander manier bestuur. Snert julle het die ding verkeerd benader nê. Moes ons nie dalk geleidelik in die lockdown inhegaan het, tot waat ons op vol lockdown moes gaan waneer die ding op sy ergste is nie? Om nou tussen Julie en September weer terug te wil gaan full lockdown toe gaan nie werk nie. Die geld van die mense is op en dan haan die bom bars. Erken maar die was ‘n goeie plan maar is verkeerd bestuur en dat die mense julle aan die short and curly beet het en daar nie nou ander opsie is as om oop te begin maak nie. So, the strongest will survive

Suzanne ·

Dit is volgens jou Pieter, maar vollgens die kenners soos die WGO het Suid Afrika die sitsuasie met die virus reg benader. Hoe dink jy sou jou plan gewerk het? Begin eers drastiese aksie neem wanneer ons hospitale oorvol is en mense in die strate lê en sterf? Baie ander lande het daai idee van jou probeer en dit het nie gewerk nie. Ek is nie ‘n groot ANC aanhanger nie, maar ek is baie trots op die manier wat ons President die ding hanteer.

Kobus ·

Zuzanne,het jy nog nie agter gekom dat sekere organisasies in die buiteland Suid Afrika vir alles sal prys want dit is polities korrek.Die ANC het ‘n agenda hier.Ek stem heelhartig saam,hier is baie planne/beloftes maar die implimentering kort nog.CR wil nou 1000 lewens spaar maar na die lockdown gaan ons land soos Zimbabwe wees,geen geld,geen werk en geen kos.Dan sal die UN seker weer tot ons redding moet kom,soos in die res van Afrika.Ons president het ook nie veel respek vir ons landsburgers nie,was nog nie een kker betyds vir sy TV optrede nie.

katerinadiekat ·

Bly om te sien sigarette kan weer verkoop word. Ai ek mis my dogter wat in Nelspruit werk, so baie, Ek het haar vroeg in Maart laas gesien. Sy kon nie huis toe kom nie, want sy is n noodsaaklike werker. Ek hoop nou net alles gaan goed sodat familielede wat in verskillende dorpe woon, mekaar weer binnekort kan sien. Hierdie moederhart is seer.

Wondermaarnet ·

Ek voel vir jou. My dogter self op 26 Maart laas gesien en ek mis haar engelgesiggie oneindig baie. Mis al die geselsies en grappies.

Gerrie ·

Die bejaardes wat moet tuisbly – sluit dit die president en Dlamini-Zuma in?

Willem ·

Daar is min verskil tussen vlak 4 en 5. Hy het ook nie gese hoe lank vlak 4 gaan aanhou nie. SLIM

Michael 1 ·

Hoe bring jy n virus onder beheer as jy nie n teenmiddel het nie,en die fases klink reg maar beteken niks sonder om n tydperk daaraan te koppel nie,pleks vra hy President Trump se hulp of volg net sy leiding.

Lizelle ·

Ek glo nie jy kan ‘n tydperk koppel aan ‘n fase nie. Dit hang af van die hoeveelheid infeksies en sterftes wat nog gaan kom. Niemand kan voorspel wat die getalle gaan wees nie. Hy het gisteraand glo met Trump gepraat

Reinhardt ·

Dankie Lizelle, presies wat ek wou sê. Dit hang alles van die data af, as die kurwe se helling toeneem, verhoog ons die inperking, as dit afneem verlaag ons dit. Eenvoudig.

Sarel ·

Waar is die wat met sekerheid en groot negatiweteit vertel het dat die tyd verleng gaan word. O ja ekskuus julle is nou stil soos Oorlogskip in vreemde hawe

DieKriek ·

Liewe Sarel, kyk mooi. Die tyd is wel verleng maar rokers mag nou rook. Baie min gaan verander. Dis hoekom die oorlogskip swyg.

Jaco ·

Mag my swart huisskoonmaker onder vlak 4 weer by my kom werk?

Lizelle ·

Nee Jaco, jammer jong. Jy sal maar vir ‘n rukkie langer self moet stofsuig en wasgoed was. Skoonmaak dienste en huisskoonmakers sal nog nie kan gaan werk nie. Ek voel jou pyn

Reinhardt ·

Ek dink Cyril hanteer die situasie goed, dankie tog ons het vir hom en nie Zuma nie. Hierdie is vir my n bewys dat ons regering kan as hulle wil, nou moet hierdie net voortgaan na die pandemie verby is…

Willem ·

Die inperking is verleng as jy net mooi gaan dink daar oor. Hoelank gaan vlak 4 duur en dan vlak 3. Word wakker my maat

Boortor ·

En nou gaan ” ministers” besluit wat mag verkoop word en wat nie. Julle weet van wie ek praat. Hou hierdie spasie dop!

Ronel ·

Ek dink ons het n puik President en hy bedank almal maar wie bedank hom? Hy gaan nog groot hoogtes bereik en gee om vir land en sy mense. Dankie dat ons weer kan rook en daar le nog n lang pad van herstel voor vir almal as almal net by die reels hou en ons kan dit laat maak werk as mense hulle gesigmaskers dra en minder rondloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.